Coenraad Beyers, een van Afrikaans se grootste skrywers, se outobiografie verskyn na sy dood. Hy laat egter 'n versoek na wat die vier vrouens in sy lewe laat steier: die opdrag van oorkant is dat hulle die boek se reklametoer moet meemaak.
Daar is Theresa, sy eerste vrou, wat steeds verbitterd is oor hul enigste kind se dood destyds. Lisa, sy tweede vrou, se hooghartige houding laat almal met 'n bitter smaak in die mond. Cheryl-Anne, sy laaste liefde, en Anna, die huishoudster, onthul gou skokkende geheime wat wonde van voor af oopkrap.
Saam met hierdie vier vroue gaan die leser op 'n reis deur ontnugtering en pyn totdat aanvaarding uiteindelik bereik word. Mens word meegesleur en ingetrek by hierdie vroue se stryd en innerlike worstelinge.
Die skrywer raak aktuele sake in ons samelewing aan en skroom nie om hierdie onderwerpe kaalhand te ondersoek en beskryf nie. Die taalgebruik in die boek is so mooi en aards, nes die Karoo-plaas waarop Theresa boer.
Die beskrywing van Coenraad se werk is net so op hierdie roman van toepassing: "Dit lees lekker. Coenraad kon skryf, hoor. Gewone Afrikaans, plat en aards, nie onverstaanbare goed wat lesers vervreem nie. Maar daar is lae van betekenis, genoeg om die ernstige student van sy werk ook tevrede te stel. En sy woorde sing mos... Daar is ritme in sy werk, en warmte, en aardsheid. Die hart van die land klop in sy taalgebruik. Hy het die land baie liefgehad, die taal ook" (bl. 215). Hierdie roman sing inderdaad met die mooiste beskrywings en taalgebruik. Ek wil nog hê en nog...
Die besonderse voorblad het eerste my aandag getrek, maar die verhaal is soveel meer as net 'n mooi prentjie. Die karakters lewe voor my oë, ek voel of ek hulle ken soos ek my eie mense ken. Ek neem hierdie vier vrouens se verhaal saam met my, hulle is nou deel van my innerlike landskap: "hulle was groter as hulle eie vrese en hulle eie banggeit. Dit sal ek van hulle onthou" (bl. 211). Wat 'n voorreg om in hulle reis te kon deel.