Dis die jare sewentig aan die Rand. Die Barnard-gesin trek gedurig rond; van die Hoëveld tot die Laeveld; see toe en terug; tussen Johannesburg se Triomf en Brixton – enige plek waar ’n mens oor kan begin. Terwyl verpleegster Vera se huwelik aan die verbrokkel is, knoop sy ’n verhouding met haar buurman aan en lees verbode seks-boeke. Haar man, Willem, is ’n salesman en ’n jagter – van koedoes in die Bosveld, en vroue op die dorp. Hy trek die jonger Poppie vas, en Vera beland weer in die arms van haar skoolliefde, Hendrik. Ou patrone word herhaal en foute word gemaak en kort voor lank bevind goeie ou Hendrik hom met ’n rewolwer in die hand. Vera se dogter, Lien, hoop dat ’n vlieënde piering haar gaan kom haal, en dit voel asof haar tannie Brenda in Triomf al een is wat haar verstaan. Kunsbeurs in die hand trek sy later by Brenda in, en terwyl sy die een na die ander kans verbrou, blyk dit hoop is nie altyd genoeg nie – soms is iets anders nodig. Split is ’n debuutroman oor ’n gebroke huisgesin en die nuwe lewens wat hulle probeer bou met die stukke wat oorgebly het
'n Lieflike boek oor Afrikaners op die Rand in die sewentigs en tagtigs van die vorige eeu. 'n Boeiende storie met eg-menslike karakters. Maar ook veel meer as dit. Die boek laat mens dink oor baie dinge, o.a. die rolle wat aan vroue (en ook mans) toegeken is deur die samelewing en hoe moeilik dit is om uit daardie rolle te breek. Lees gerus!
As die lewe 'n tert was, het Debbie Loots met dié boek vir jou 'n dun skyfie afgesny en voorgesit. Dis al wat dit is - a slice of life, geen groot intriges nie; 'n paar doodgewone, ietwat disfunksionele mense se struwelinge om hulle weg deur die lewe te vind. Die soeke na aanvaarding en geborgenheid wat tot 'n ewige siklus van min of meer dieselfde foute lei. Die hunkering en die kompromieë wat ons maak vir draaglikheid eerder as geluk.
Dit herroep 'n era wat verby is, van raswette en langspeelplate en Garlicks-winkels en toe Wimpy nog iets nuuts was. En Coke seker nog lekker gesmaak het.
Dis 'n storie waarin jy jouself kan verloor as jy van mense en hul dinge, van grootword en val en weer opstaan hou.