Chanette Paul nooi jou uit om die wel en wee van die sewe mooi, maar wederstrewige Davelvroue saam met haar te volg en te geniet. Elkeen voer haar eie stryd, beleef op haar eie unieke manier die tydperk waarin sy leef en beland in een of ander konfliksituasie met die man wat sy liefkry.
Willemien
Sy’s ’n konsentrasiekampkind. Hy’s ’n Ier wat in die oorlog teen haar mense geveg het.
Haar bitterheid kan Willemien nie onderdruk nie. Haat soms. Hy’s ’n moordenaar van haar mense. Hoe kan sy hom liefhê?
Maar hoe kan sy nie? Aidan Connelly was vir haar voorbestem. Van voor die skepping. So wéét haar hart, haar lyf. Maar haar verstand hou vas aan die onreg aan haar mense, die ellende, die sterftes.
Sy sal Theron kies, taalstryder, patriot.
Maar tweede beste, waarsku dié wat weet haar, bring net hartseer mee. Dit sien sy ook. Sý wéét dat sy vir ewig met die pyn van haar verlies sal moet saamleef. Maar hoe?
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
Dit is ligte leesstof wat ek nodig het gedurende die tye. Die karakters is eg en alhoewel dit 'n romanza geskryf is, is daar 'n ekstra vlak. Dit gee 'n uitbeelding van beide kante. Die boere en die Iere .Dit gee my hoop die toekoms as die Boere soveel kon deurstaan sal ek die situasie oorleef.