Skrapnel is ‘n boeiende drama oor twee jong Suid-Afrikaners in Londen: ‘n meisie wat bejaardes oppas en ’n man wat as sekuriteitswag by ‘n winkelsentrum werk. Hulle ontmoet in ‘n jeugherberg en knoop ’n verhouding aan. Die man sterf op 7 Julie 2005 in ‘n selfmoordbomaanval in die Londense metro. Die stuk open oomblikke ná die ontploffing en die verhaal word as flitsende tonele in die jong man se sterwensoomblikke vertel. Dwarsdeur die stuk word ‘n jong Moslem-selfmoordbomdraer se fundamentele geloofsoortuiging weergegee. Dit kontrasteer skerp met die twee Suid-Afrikaners se losgeslaanheid en hulle onsekerheid omtrent identiteit, geloof en kultuur.
Willem Anker is op 3 Februarie 1979 op Citrusdal gebore. Hy matrikuleer in 1996 aan Hugenote Hoërskool op Wellington. Tans doseer hy kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 2007 sy D.Litt aan dieselfde universiteit behaal.
In 2004 skryf hy die teks vir die ruimtelike teaterstuk Skroothonde wat by Aardklop die Aartvarkprys vir innoverende werk wen. Sedertdien het hy bekendheid verwerf as dramaturg. Siegfried, wat in 2007 by Kwela gepubliseer is, was sy eerste roman en is met die UJ-debuutprys en die Jan Rabie/Rapportprys bekroon. Sy roman Buys (Kwela, 2014) is met die WA Hofmeyr, Universiteit van Johannesburg, kykNET-Rapport, Helgaard Steyn en Hertzogprys bekroon.
Het jy geweet?
· Siegfried se eerste weergawe is in 2002 geskryf as deel van ’n MA-studie aan die Universiteit Stellenbosch. · Sy doktorsgraad, wat voltooi is met prof Louise Viljoen as promotor, kyk na hoe die skrywers Breyten Breytenbach en Alexander Strachan die nomadiese figuur of swerfkarakter in hul tekste gebruik. · Smag, sy Afrikaanse vertaling van Sarah Kane se toneelstuk Crave, is in 2008 landwyd by kunstefeeste opgevoer. Dit was sy eerste betrokkenheid by die vertaal van 'n toneelstuk.