’n Moordmasjien wat met die grootste presisie en kundigheid te werk gaan, bes moontlik met die hulp van die Polisie self. Dié selfaangestelde laksmanne moet dringend gestop word, ja, maar ewe dringend is die opspoor van die lekplek in eie geledere, en dit word aan Pine Pienaar alleen toevertrou.
Pine Pienaar en sy span soek na 'n Boendoe Hof groep wat die gereg in eie hande neem om Plaas Moordenaars te vervolg. Dis gou duidelik dat daar 'n mol by die SAP moet wees, na aan Pine se span en saam met die ondersoek moet Pine ook die mol probeer uitsnuffel, selfs Kat is onder verdenking - die vigilante groep trek juis ondersteuning by meeste van die Publiek, waarom nie ook uit die SAP nie.
Dele van die boek was moeilik om te lees, maar ek het die een net so flink verslint soos Tik.
Dit is merkwaardig dat Tou, wat reeds 16 jaar gelede die eerste keer verskyn het, steeds so aktueel en treffend lees. Piet Steyn bewys weer waarom hy as een van Afrikaans se sterk spanningskrywers beskou word. Hierdie derde aflewering in die 4 boek Pine Pienaar-reeks is oorspronklik, intelligent en deurgaans boeiend.
Die roman ondersoek ’n uitdagende uitgangspunt: Wat gebeur wanneer ’n vigilantegroep besluit om plaasaanvallers op te spoor en te jag? Hoewel dit na die resep vir ’n aksiebelaaide spanningsverhaal klink, is Tou veel meer as dit. Steyn delf met groot vernuf in die etiese vraagstukke en die ingewikkelde praktiese gevolge van selfgeregtigheid, sonder om eenvoudige antwoorde te bied. Dit laat die leser voortdurend nadink oor reg, geregtigheid en die prys van wraak.
Steyn se skryfstyl vlot, sy karakters geloofwaardig en die spanning goed opgebou. Alhoewel ek nie Tou as sy beste werk beskou nie, bly dit ’n sterk toevoeging tot die Pine Pienaar-reeks en beslis die moeite werd om te lees.
Ek is Piet Steyn se nuutste aanhanger, sowaar! Dis moeilik om te glo die man was nie in diens van die SAPD nie. Goeie navorsing is gedoen en hy het 'n baie goeie waarnemingsvermoë. Piet Steyn se beskrywings is raak en die name van sy karakters is oortuigend. Ek kon hierdie boek nie neersit nie en het myself plek-plek gevoel asem ophou.