'n Recce is nie 'n een man oorlogsmasjien wat links en regs doodmaak nie - dit kom jy gou genoeg agter in hierdie boek.
Wat hulle wel is, is ongelooflik veelsydige soldate wat spesialiseer in verkenning en sabotasie. Hulle word opgelei om 'n verstommende reeks vaardighede te besit...wapengebruik, observasie, uitkenning van vyandige voertuie en toerusting, kommunikasie, radiogebruik en herstel, navigasie, plofstofkunde, infiltrasie, eksfiltrasie, spoorsny, teenspoorsny, kamoeflasie, valskermspring. Daar is feitlik geen operasionele taak kort van vliegtuie loods wat 'n opgeleide recce nie kan doen nie.
En dan ongelooflike uithouvermoë...om byvoorbeeld 30km per dag met 'n 90kg rugsak te beweeg. Die senuwees om gekamoefleer somtyds binne raakafstand van die vyand te lê.
Koos Stadler beskryf sy tyd eers in die verkenningsvleuel van 31 Bataljon en later in die spesiale magte sonder aansit of oordrywing, of enige aanspraak op supersoldaatstatus. Hy verduidelik hoe die konsep van kleinspanne ontstaan het soos daar mettertyd agtergekom is dat groter spanne (6 - 10 man) eenvoudig nie ongesiens kan beweeg nie. Hy is nie bang om sy vrese te erken nie, en ook nie bang om die operasies wat misluk het te bespreek nie. Inderdaad loop baie operasies op antiklimakse uit, soos toe die noukeurige nagtelike infiltrasie van 'n vyandige vliegveld, met die doel om Mig vegvliegtuie op te blaas, bloot uitloop op die besef dat die vliegtuie na 'n veiliger lughawe geskuif is.
Daar is ook oomblikke van introspeksie wat stof tot nadenke gee, soos toe Stadler sy gedagtes deel rondom die dooie Swaposoldaat met 'n Bybel in sy sak.
Somtyds trek die boek bietjie swaar wanneer die skrywer miskien te veel detail oor die voorbereidingsfases vir elke operasie weergee, aangesien dit redelik herhalend word.
Moet ook nie te veel vuurwerke verwag nie - hierdie is nie werklik 'n aksieboek nie in terme van groot skietgevegte nie. Aangesien hierdie manne in klein spanne van slegs 2 - 4 operateurs gewerk het, en te danke aan die sensitiewe omstandighede waaronder hulle moes werk, kon hulle nie regtig vyandige kontak bekostig nie. Om lewend of dood in vyandige hande te beland sou reuse politieke implikasies gehad het, soos gesien met die gevangeneming van Wynand du Toit. Hulle moes onsigbaar bly.
Ten spyte van die dodelik ernstige omstandighede is van die onvoorsiene gebeure op operasies dikwels komies.
Die boek is 'n eerlike en meestal boeiende kykie agter die skerms van die recces en verkenningseenhede, en koppel 'n menslikheid aan hulle wat miskien deur die jare se legendes en oordrywings misken is. Terwyl hierdie boek baie van die meer ekstreme mites rondom die Recces aan skerwe laat spat, laat dit jou op die ou end met niks anders as respek en bewondering vir hierdie spesialis-operateurs nie.
**Enige moontlike onakkuraatheid oor die recces in hierdie resensie is my skuld, nie die van die skrywer nie. Daar is baie inligting om te verwerk in hierdie boek, en ek skryf suiwer op geheue.**