Simoné se tweede huwelik eindig ook rampspoedig. Op die Vrystaatse dorpie waarheen sy en haar seun hulle begewe, word hulle omring van kleinburgerlikes, groot geeste en veral een geesgenoot.
Ek het nêrens 'n aktiewe bio nie, buiten die een op die CV wat ek vir die staat moet gee as ek vir hulle wil werk, daarom sê ek liewer hier wat daar van my te wete is:
• Ek is ‘n tante, met alles wat dié term inhou – ‘n seer knie, ‘n geknakte rug, ‘n onverdraagsaamheid teenoor enigiets of -iemand wat my sielevrede versteur, ‘n immer groterwordende Weltschmertz en ‘n groeiende besef van my eie verganklikheid. • My lewe is bitter vervelig. Ek werk 351 dae van die jaar. Die oorblywende 14 bestee ek aan die aktiewe afhandeling van my kluitklaplys. Want punt 1 hier bo. • Ek is ‘n taalpraktisyn om den brode en ‘n skrywer om den sinne. Wat beteken ek redigeer en vertaal tekste om aan die lewe te bly en skryf stories om op my trollie te bly. Reis is die wortel wat die 351 dae die moeite werd maak. Want punt 1 hier bo. • My liefdes is my kind en my honde. • My rolmodelle is my ouers en grootouers. • My helde is Bach en Langenhoven. En enige mens wat ten spyte van menslike swakhede en tekortkominge hierdie lewe na die beste van hulle vermoë oorleef. • Musiek hou my geanker. My vriende hou my arms in die lug. • Ek het sterk menings oor politiek, godsdiens, die Kerk, menseregte en professionele tsotsi’s wat hulle mag gebruik om mense wat op hulle vertrou te bedonner, maar ek voer nie gesprekke daaroor op sosiale media nie. Ek moet jou eers ken en weet dat jy weet hoe ‘n debat werk voor ek daaroor met jou gaan praat. • Ek drink Earl Grey-tee met suurlemoen (op gewone dae), sauvignon blanc (op gewone spesiale dae) en Bollinger (op spesiale spesiale dae). Enige kos met stysel en/of suiker is die poort na die hemel. Cilantro is ‘n onkruid uit die donkerste dieptes van die hel. • Ek skryf en lees romance novels omdat ek ‘n behoefte het aan omstandighede – al is dit dan nou fiktief – waar mense kry wat hulle toekom. Want punt 1 hier bo. • Ek vloek. Vlot en gereeld, maar (hopelik) gepas vir die geleentheid. Nee, ek gee nie om as dit jou affronteer nie en nee, ek gaan nie verander nie. (My ma het in haar lewe gesê ek moet sê sy het my nie so grootgemaak nie, daarom sê ek dit nou hier ter wille van die vrede in die hiernamaals.) • Ek glo dat ons te veel op ons verskille fokus en te min op dit wat ons deel. Die grootste ding wat ons deel, is dat ons almal op ‘n kol so verwoes was dat ons terugkyk en wonder hoe dit gebeur het dat ons nog hier is. Die oomblik wanneer ‘n mens dit besef, kweek jy die enigste eienskap waarmee hierdie wêreld kan genees – deernis. • Daar is net een ding in hierdie lewe wat vir my heilig is: my persoonlike ruimte. Daarin bewaar ek my vrede, my vreugde, my vryheid en my heil. Ek beskerm dit verbete.
Daarmee volstaan ek. Enige ander inligting wat “daar buite” oor my rondsweef, vertrou jy op jou eie risiko.
EK dink ons manne moet hierdie boek ook lees, en iets verstaan van die hart van 'n vrou. Veral 'n vrou wat seergekry het langs die lewenspad. Ek geniet Sophia Kapp se skryfstyl, haar humor en sarkasme sommer baie. Terwyl ek hierdie boek oor gebroke mense gelees het, het Leonard Cohen in my kop gespeel " There is a crack, a crack in everything... That's where the light shines in..."
Moenie dat die genre of the kragwoord (haha) jou om die bos lei nie. Hierdie is literatuur op sy beste. Maar dit voel nie so nie. Dit voel lig in jou gedagtes, maar dit laat jou anders dink. Ek het baie oor myself geleer deur Simoné - die belangrikste is dat ek inderdaad 'n diva is. En die tweede belangrikste: 'n diva is nie eintlik so bad nie.
Hierdie boek gaan op my rak bly. Ek moet hom weer lees. En hierdie keer gaan ek onthou om die belangrike goete te onderstreep.
My ma maan nou al vir maande, of dalk jare dat ek Sophia ñ kans gee. Nou dat ek het, besef ek, ek moes dalk vroeër toegegee het.
Nie net is sy ñ briljante skrywer, met baie eg en unike karakters nie, maar die onderwerpe wat sy met so veel tak en deernis hanteer raak werklik aan ñ mens se hart en siel.
Hierdie was dalk my eerste bloodstelling, maar dit sal defnitief nie my laaste wees nie.
Liefdesromans is nou nie 'n genre wat ek eerste na gryp as dit op die rakke is nie, maar hierdie een het ek wel geniet (sou dit beteken ek kan slegs in Afrikaans romanties wees?)
Simone vlug terug na haar klein dorpie nadat haar tweede huwelkik op die rotse is. Met haar tiener seun moet sy nou weer van voor af die skerwe probeer optel en sin aan haar lewe gee. Met die hulp van 'n spul nuwe vriendinne, haar suster en verassend genoeg haar hardekop Ma begin sy stadig weer haarself vind.
Die storie vloei vinnig, en die karakters is eg en mooi deurdink.
Ek was effe teleurgesteld dat daar 'n man moes betrokke wees in haar herstel - natuurlik 'n pragtige Adonis, bedag, geduldig en, en, en - maar dit het nie verhoed dat ek lekker gelag en gehuil het regdeur nie.
Spesiaal geskryf vir elke vrou wat daagliks die lewe eerlik in die oë staar en doen wat gedoen moet word. Jou lewe en omstandighede is miskien nie 100% dieselfde, maar jy sal verstaan. Daar word nie doekies omgedraai, rondgetas na woorde en toegesmeer of mooigemaak. Jy kan identifisser, ignoreer, blameer, maar die lewe moet geleef word en dinge moet vir mekaar gese word of jy nou wil praat of luister… Die waarde van vriende, familie en om te aanvaar dat alles nie altyd verloop soos jy graag sou wou he of van gedroom het word bevestig, die lewe is nie ‘n fee verhaal, lees, luister, lag, huil, dink, droom, wees en geniet elke woord.
Hierdie is een van daardie lekkerleesboeke wat jou lank bybly na die tyd. Daar word heerlik gevloek, baklei, vrede gemaak, verhoudings gebou en die lekker 'cast' is saamgestel om jou te vermaak. Daar word verskeie swaar temas versteek tussen ligte humor en dit bly lank knaag aan jou onderbewussyn. Al is jy nie op die plek waar Simoné staan nie kan jy tog aanklank vind by haar situasie en ook met die situasies waarin sy haarself met tye bevind.
Ek dink enige man moet hierdie boek lees. Dit gee 'n mens 'n sonderlike insig in 'n vrou se kop. O, en DAARDIE woord! Sjoe. Bedonnerde boek oor 'n bedonnerde vrou. Uiteindelik is dit egter iemand wat plat op die grond was en weer vir haarself aan haar bedonnerde veters optel. Was iets om te ervaar! O ja, moenie daardie wonderlike, aardskuddende orgasme vergeet nie. Oef!
Hierdie is my boek van die jaar. Wat 'n bedonnerde goeie boek! Net 'n vrou wat al daar gaan draai het, sal weet hoe nodig dit is om hierdie oorlewingsgids altyd iewers naby jou te dra. Hoe wens ek nie ek het 20 jaar gelede al hierdie boek kon lees nie. Viva Sophia Kapp en Viva elke Diva!
♥️ Oorlewingsgids vir 'n bedonnerde Diva deur Sophia Kapp ♥️ - Dalk bietjie meer 'n handleiding of "code of conduct" om jou inner Diva en haar kat te laat purr van pure genot. ⭐⭐⭐⭐⭐ van my en Elza se kant af.
"Sy verstaan die mag van Taal om die werklikheid te verander. 'n Diva is woordvaardig, sy skryf keurig, sy weet spelling tel en sy vloek vlot."
Puik! 'n Moet lees vir enige ouderdom. Vrou en man, jong mense die lot. Hierdie boek slaan op al die regte plekke. Liefde, seerkry, menswees. Ek lees hom oor 'n paar jaar weer.
Om vir twee jaar op topverkoperlyste vas te byt, sit nie in elke skrywer se broek of rok nie, maar dit is beslis moontlik vir ’n diva. Dit voel of ek omtrent enig is in my baie láát lees van Sophia Kapp se treffer, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva. Sophia se reputasie as uithalerskrywer, en die boek se bewese sukses maak dit heeltemal onnodig om dit te bemark. ’n Paar indrukke sal heeltemal voldoende wees.
Die reis na heelword saam met Simoné Bekker, was insiggewend, volgeprop met wyshede wat tussendeur opgeteken is in die sogenaamde Divagids. Ons vind haar as “vyf en veertig en reeds halflyf oor die muur” (bl 168), wat wonder of dit die moeite werd is om weer te soek na die mens wat sy eintlik is. Wanneer sy ’n punt bereik waar sy besluit om nooit weer verantwoordelikhede oor te gee nie, begin die diva in haar na vore kom.
As jy wonder wat die eienskappe van ’n diva nou eintlik is, die skrywer som dit netjies op in die finale inskrywing uit die divagids. Moenie ongekreukte taal verwag nie, want ’n diva moet immers vlot kan vloek, volgens die lys van diva-eienskappe. Dit is ook in karakter as ’n tienerseun en sy vriende se gesprekke sterk woorde insluit.
Ek kan diegene wat nog buite die kraal rondtrap, aanmoedig om in te kom en te deel in die reis van die diva en die held te ontmoet wat haar weer volkome vrou laat voel het met een kyk van hallelujablou oë.
Enige vrou wat deur 'n egskeiding is, sal Simoné se emosies - en haar struwels- dadelik herken. Na 'n egskeiding is jy "damaged goods", dit neem tyd om weer jou selfvertroue en jou selfbeeld op te bou. In Simoné se geval is daar gelukkig 'n Barnard Richter. Sophia Kapp is 'n ou, bedrewe hand met die liefdesroman. En hierdie een lees lekker. Maar Oorlewingsgids vir 'n bedonnerde diva voel vir my plek-plek 'n bietjie soos 'n Afrikaanse "Pretty Woman"; moes Barnard so ryk, jonk en aantreklik wees? Ek sou glad nie omgegee het as hy 'n doodgewone man was wat sukkel om die vetjies te vermy en minder soetgoed te eet nie - die meeste van ons kry sulkes in ons volgende huwelike. As dit nie daarvoor was nie, het ek totaal vergeet dat ek 'n storie lees en kon Simoné een van my vriende wees.
Hierdie boek dek die hele spektrum van uitmekaar val, stukkies herrangskik en in 'n nuwe vorm herbou.
Nee ~ ek praat nie van 'n blompot nie. Ek praat van 'n vrou wat deur twee egskeidings verinneweer word (óf toelaat dat sy verniel word?), haarself vind in omstandighede waar sy vrede moet maak met al die 'dele' waaruit sy bestaan deur hulle anders te hanteer as voorheen, en uiteindelik haarself anders te sien as voorheen, asof die skille van haar oë afgeval het en sy haar nuwe self ontdek en aanvaar.
Hierdie proses raak haar moeder, haar suster, haar seun en mense uit haar verlede. Meestal, natuurlik, haarself!
En die hele gedaantewisseling word aangevuur deur die romantiese held, wat blykbaar sommer met eerste oogopslag haar begeer het. Eg romanties-voorspelbaar!
En ten spyte van die voorspelbaarheid van die verhaal is daar elemente van diep waarhede in die 'oorlewingsgids' ingevleg: onoordeelkundige keuses moet verander word, skuldgevoel moet ontlont word, moeder-verwagtinge moet gebreek word, suster-jaloesie moet hanteer word, vriendskappe moet geniet word, moederskap se oë moet geopen word, en genesende liefde moet aanvaar word. Ek wonder of iemand wat nie self al so 'n vernietigende padjie geloop het, die moed van die hoofkarakter sal waardeer!
Die taal wat Kapp gebruik om lewe in haar karakters in te blaas is byderwets. Die spektrum van mense om die geskeide Simoné gee vir Kapp ryklik geleentheid om verskeie 'tale' te gebruik. Die situasies wat Simoné moet hanteer wissel van lagwekkend tot trane-pink! Kapp ken mense goed en beeld die kleindorp-lewe pragtig uit!
Dalk is ek ook 'bedonnerd'? Want ek het nooit vir Simoné as 'bedonnerd' ervaar nie. Eerder ontnugter, selfverwytend, en soos insig in haarself gegroei het, het sy dapper haar nuwe self geword.
Wie moet hierdie boek lees? Enige vrou sal daarby bajat en meeste mans ook. As ouer vrou het ek dikwels gevluglees omdat die pad so bekend was, maar uiteindelik was daar genoeg pitkos om dit 'n lekkerlees boek te maak.
Op 'n manier wens ek amper ek het Oorlewingsgids vir 'n Bedonnerde Diva gelees voordat ek Kantelpunt gelees het, maar Kantelpunt was die eerste van haar boeke wat ek gelees het. Ek wonder sommer net hoe dit sou wees om met Sophia se boeke kennis te maak deur Bedonnerde Diva.
Dit sê nie dat ek Bedonnerde Diva nie geniet het nie, ek het, baie ook. Weereens is die karakters uiters geloofbaar, en die karakterontwikkeling natuurlik en realisties. Elke karakter voel, net soos in Kantelpunt, asof dit iemand is wat ek ken.
Die storie is ook baie realisties en die skrywer oortuig jou een honderd persent dat alles so kon gebeur het.
Die boek is baie goed geskryf, met sensitiwiteit, wysheid en 'n goeie skoot humor wat my 'n paar maal kliphard laat lag het.
Wat ek moes opmerk is dat daar baie ooreenkomste was met Kantelpunt. Albei hoofkarakters is vrouens wat hulself moet terugvind nadat hulle met narsistiese mans getroud was. Albei het 'n goeie verhouding met haar seun maar moeilike verhoudings met die tiener of jong meisies in hulle lewens. Albei is onderwyseresse, het 'n lesbiese beste-vriendin, ontmoet 'n man met emosionele volwassenheid maar is bang vir hom. En nog 'n hele paar ander.
Niks hiervan is op sigself 'n probleem is nie! Ek het nog net twee van Sophia Kapp se boeke gelees so ek kan net na die twee verwys. Ek hoop net nie die ooreenkomste raak 'n resep nie. Sophia Kapp is net eenvoudig 'n té goeie skrywer om haar te laat beperk deur 'n sekere tipe karakter en gebeure. Ek sien uit om nog baie karakters en stories uit haar pen te leer ken!
Nooit sou ek in my wildste drome hierdie boek uit my eie self in ‘n boekwinkel koop nie, maar ek het hom uit ‘n boks vol boeke gekies wat iemand wou weggee. Ek weet dit was nie die rooi lippe nie maar die woord “bedonnerde” wat my toe tog my aandag getrek het en laat besluit het om die boek te lees……..en ek is dankbaar dat ek in soveel opsigte die diva in myself kon raak sien/ raak lees en herontdek! 10/10 uit die pen van ‘n diva wat ‘n ander diva verstaan!
Uitstekende boek! As leser loop jy n pad saam met Simoné na haar tweede egskeiding. Sy is reguit en draai nie doekies om oor wat sy dink en voel nie en sy maak jou vies, ongelukkig, bly, hartseer, gelukkig, hoopvol.. Ek het die boek begin lees en nie gedink ek sal so verslaaf wees nie! Ek kon dit nie neersit nie, maar wou nie klaar lees nie.
Die notas uit die joernaal van die Diva is realisties en goed geskryf. Storielyn maar flou. Jammer die hoofkarakter moes weer 'n man vind om haar heel te maak. Sou beter gewees het as sy haarself kon vind met net die ondersteuning van vriende en familie. Dink daar is 'n paar randfigure wat interesant kon wees as hulle ontwikkel het.
'n Genotvolle boek om te lees. Hartseer en humor vervleg. Realisties en eerlik. Soveel wonderlike verwysings na ander skrywers en digters wat inspirerend is.
Sophia Kapp se Diva is 'n bedonnerde oorlewingsgids. Sy kry dit meesterlik reg om lewenswyshede en sosiale kommentaar om so 'n manier in te werk dat dit nie 'n swaar en moeilike lees word nie. Dit bly steeds 'n gemaklike en lekkerlees ervaring soos al haar vorige boeke. Met 'n goeie dosis humor, word Simoné se gewroeg iets waarmee baie kan identifiseer en die manier waarop sy dit aanpak 'n inspirasie. Maar op die end, wat 'n lekker storie!!