Ek vermoed dat geen leser onaangeraak sal wees deur hierdie verhaal nie.
Dis in die eerste plek 'n ware verhaal oor twee mense, Pierre en Yolande Korkie, se ervarings/ontberings nadat hulle in Jemen deur terroriste ontvoer en as gyselaars aangehou word. Jy ken eintlik al die storie, dit was in die nuus en jy onthou van die hartseer einde.
So waarom die boek lees as jy weet wat die uiteinde is? Omdat dit meer as net 'n storie is met 'n hartseer einde, dis 'n storie van stryd, liefde, vergifnis, ontbering, hoop en oorwinning. Dis 'n storie waarvan mens die einde anders sou wou skryf as dit fiksie was, maar uiteindelik is dit 'n ware verhaal waarvan die einde nie soos in sprokies is nie. En dalk net die besef dat ons stories nie altyd uitwerk soos ons wens of beplan nie.
Vir my word die boek uiteindelik 'n verhaal van twee gelowige mense, wat gestroop word van letterlik alles in die lewe en dat al waaraan hulle kan vashou is God en hulle geloof in Hom. In die proses beleef en ervaar en leer hulle sulke diep lewenswaarhede en dit is vir my die kosbaarheid van hierdie boek.
Ek noem graag 'n paar insidente/gebeure wat my veral diep geraak het.
Aan die begin van hulle gyselaarskap word Pierre en Yolande aanvanklik vir 'n paar dae geskei. Dit is 'n geweldige krisis vir hulle en wanneer hulle 'n paar dae later weer verenig word is dit met groot dankbaarheid. Ten spyte van wat blyk 'n goeie en gesonde huweliksverhouding, ervaar hulle elkeen 'n diepe skuldgevoel teenoor mekaar vir kere in hulle huwelik wat hulle voel hulle mekaar nie goed behandel het nie. Dis asof in die proses om van alles gestroop te wees, die mens hom/haarself sien soos hy/sy werklik is en dit bring 'n diepe berou, 'n tipe katarsis. Id dit dalk o.a. die waarde van lyding, dat dit jou stroop van jouself en jou eie selfvoldaanheid? Wanneer jy niks meer het nie, kan jy jouself dalk sien soos God jou sien, sonder maskers, sonder voorgee?
Die saamwees sou uitloop op 228 dae, in 'n klein, warm, donker, bedompige kamertjie met slegs 'n klein dun matrassie. Hierdie 228 dae sou alles van hulle eis om te oorleef. Om sonder kennis oor hulle kinders se welstand te wees, mergel hulle uit. Hulle gebruik die paar stukkies papier wat hulle het om soveel moontlik Bybelverse neer te skryf wat hulle kan onthou. Asook geestelike liedere. Dit word hulle lewenswyse, hou hulle in stand. Die waarde van God se Woord as geestelike voedsel word hier so duidelik illustreer.
Hulle verhouding verdiep en hieruit leer mens wat ware liefde is. Liefde wat niks vra nie, net gee, die ander se behoeftes bo jou eie stel. Daar waar twee mense gestroop is van alles, sonder aansien of waarde meer, maar hulle dra mekaar, hou mekaar staande. Een voorbeeld hiervan wat my diep geraak het is dat Yolande besluit om Pierre by te staan in sy slaaploosheid snags. Waar slaap vir haar 'n welkome ontvlugting is verkies sy om wakker te wees in die nag as hy sukkel om te slaap om sodoende sy alleenheid te verlig.
Op 'n stadium beleef sy weer 'n baie donker en depressiewe tyd. Pierre hanteer haar met die grootste liefde en deernis. Sy word een nag wakker en sien hom op sy knieë waar hy huil en pleit voor God vir haar. In sy optrede sien en ervaar sy die liefde van God in aksie. In dié donker tyd ervaar sy ook die afwesigheid van God asof Hy haar verlaat het. Dit is vir haar die ergste van alles wat sy kon beleef want in dit besef sy hoe verskriklik die hel moet wees want God is nie daar nie.
Hulle leer van volharding in lyding, soos wat Jesus gekies het om vir ons te doen. Hulle leer dat wanneer jy van alles gestroop is en niks meer het nie, dan is God nog daar. Hulle leer van bid vir jou vyand, van vergifnis. Geeneen van hierdie is goedkoop lesse nie...
Daar is tye wanneer mens hierdie boek lees wat jy amper dink, maar dit kan nie waar wees nie, geen mens verdien om so getoets te word nie. As dit fiksie was, dink ek, sou ek al die boek neergesit het en gedink het dit is te verregaande, glad nie meer geloofwaardig nie.
Veral wanneer Yolande alleen vrygelaat word. Dis asof mens haar worsteling self beleef. Wat is beter, om by die kinders te wees en in die proses haar man alleen agter te laat of om agter te bly in Jemen? In wese het sy net een soort gyselaarskap verruil vir 'n ander. Hoe kon sy aangaan met haar lewe sonder hom, terwyl daar dreigemente was dat sy lewe beëindig gaan word sonder 'n verregaande losprys bedrag. Dit is amper ondenkbaar om te dink Pierre moes nog ongeveer 11 maande daarna alleen in aanhouding bly. Nou kon hulle nie meer hulle lyding deel nie, en tog duidende kilometers verwyder van mekaar, ervaar sy nogtans 'n eenheid, iets wat hulle saambind.
Ek wonder of die ergste lyding nie die onsekerheid was nie. Aanvanklik om nie te weet waar jou kinders is en of hulle OK is nie. Om nie te weet wat die dag van more inhou nie, om nie te weet of jou gesin ooit weer herenig gaan wees nie. Om later nie te weet hoe dit met jou man gaan nie, dit nadat jy hom moes agterlaat in 'n swak fisiese toestand. Nie te weet of jy hom ooit weer sal sien nie. Daardie onsekerheid wat jou op jou knieë hou, absoluut niks om aan vas te hou anders as aan God nie, soos 'n drenkeling op die oop see.
Die boek eindig nie soos 'n voel-goed roman of fliek nie, inteendeel jy lees hierdie boek met 'n knop op jou maag want jy weet wat voorlê. Jy beleef saam met Yolande hoe sy hoop terwyl jy reeds weet wat vir haar voorlê, dat sy ongeveer een jaar na haar vrylating haar man terug sou ontvang, maar in 'n doodskis.
En tog eindig dit nie regtig hier nie. Dis nie die heel laaste sin in die boek nie. Die laaste deel van die boek is 'n loflief aan God. Om 'n loflied te kan sing aan die einde van so 'n reis, spreek van egte geloof, gelouterde geloof.