Die privaat ondersoeker Renata Malan worstel steeds met die feit dat haar oupa en pa moordenaars is. Te meer omdat haar stiefpa, ’n sielkundige, in sy ondersoek na hierdie geval byna bo twyfel bewys het kinders erf hulle voorgeslagte se bose gene.
Renata bevind haar in ’n benouende posisie toe haar pa al hoe sterker verdink word van die reeksmoorde wat sy en haar kollega ondersoek. Hoewel die doodstraf destyds oor haar pa uitgespreek is, het hy op pad na sy teregstelling ontsnap en nou lyk dit of hy veel nader aan Renata woon en leef as wat sy gedink het. Eers wanneer hy agter tralies is, sal sy met haar lewe kan aangaan. Wel, in die sin dat sy dan sal kan bewys sy wil hom uit die samelewing verwyder.
Maar is die reeksmoordenaar inderdaad haar pa? En as dit nie is nie, hoekom kry Renata telkens ’n boodskap daaroor en waarom word die slagoffers op sulke strategiese plekke gevind?
Madelein Rust se liefde vir die geskrewe woord begin in die klein skoolbiblioteek van Brandwag Primêr in Bloemfontein, waar sy pousetye die een boek na die ander verslind. Sy slyp haar skrywerstande reeds op skool, waar sy uitblink in stelwerk en opstelkompetisies. As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.
Sy waag haar hand aan romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, Joy, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n Neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.
Lekker vinnige lees, baie spannend en goed geskryf, ek het dit veel meer geniet as die vorige boek.
Ek vind die taal gebruik biejite oordrewe by tye en dit was nogal duidelik wie die moordenaar is vroeg in die boek - baie oog rol vir my terwyl Renata en Stefan die verkeerde ou jaag maar dit was 'n klein irritasie in 'n boek van ek baie geniet het.
Die storie van Renata se pa is op die voorgrond in die boek en ek wil graag sien hoe die skrywer op dit bou in die res van die reeks.
Renata Malan en haar span word ingeroep om 'n moord op 'n mooi jong vrou op te los. Die moord ontaard in 'n reeks moorde en alle vingers wys na Renata se pa, beter bekend as die Laksman, wat in die 1980's 10 mense tereggestel het weens seksuele misdade teen kinders. Die keer is die slagoffers mooi, ryk getroude vroue met net een ding in gemeen het - 'n buite-egtelike verhouding met 'n onbekende man. Renata is genoodsaak om saam met die polisie-profileerder aan die saak te werk en daar ontstaan meer vrae as antwoorde soos die lyke ophoop. In hierdie tweede Renata boek word die nature vs. nurture debat ook verder gevoer. Bloedlyn is Madelein Rust se derde boek wat haar aanhangers beslis nie sal teleurstel nie en wat ook sal sorg vir 'n hele paar nuwe aanhangers. Bloedlyn volg 'n lekker vinnige pas en daar is genoeg verdagtes om die leser aan die raai te hou totdat die moordenaar ontmasker word.
Madelein Rust word beter met elke boek! Die spel met Renata se verlede, haar vrees vir die gene wat sy dra, is 'n sterk rugsteen vir die verhaal en die Renata Malan-reeks. Die onderliggende spanning in al die Renata-boeke is dat die leser voortdurend teen jou sin twyfel ... sy mag dalk 'n goeie sielkundige profileerder (wat 'n goor Afrikaanse woord!) wees, maar dalk is daar eendag iets wat sterk genoeg is om 'n sluimerende donkerte wakker te maak.
As jy van Madelein Rust se vorige boeke gehou het, behoort Bloedlyn ook in jou smaak te val. Dis 'n heerlike spannende boek wat baie maklik lees. Ek sien uit na nog boeke uit haar pen.
Nadat ek verlede jaar groot agting gekry het vir Madelein Rust as misdaadskrywer, met die lees van Monstersaad, het ek met opgewondeheid my hande kon lê op die opvolgroman, Bloedlyn. Reeds ná die eerste hoofstuk, wou ek 'n entoesiastiese inskrywing maak op Facebook se Lekkerlees Boekrak, maar ek moet bieg dat ek myself nie die tyd gegun het nie. Ek het elke moontlike minuut gebruik om Renata Malan se verdere storie op te slurp.
In hierdie spannende boek, ondersoek Renata en haar span 'n reeks sogenaamde ashoopmoorde. Dit is een en dertig jaar ná die moorde op kultuslede, gepleeg deur Renata se biologiese pa, George Alfred Hill. Elkeen van die nuwe moorde het ’n aanknopingspunt met Renata se geskiedenis. Moor haar pa weer, of is daar ’n ander moordenaar wat met haar kop en oordeelsvermoë smokkel? Soos in die vorige boek, is die skryfstyl so ongedwonge en onderhoudend, dat die leser nie eers agterkom hoe vinnig die ongelese deel minder word nie. Die spanningslyn word effektief volgehou en uitgebou en die ontknoping van die raaisel word uitgestel tot bykans aan die einde van die verhaal. Deurentyd word die leser ook gekonfronteer met die sielkundige implikasies van Renata, haar pa en ander rolspelers, se optredes. Maak oorerflike gene van jou ’n potentiële moordenaar of nie? Is die donkerte wat Renata binne haarself soek, ’n werklikheid?
Ek het al vele boeke gelees wat ek nie graag wou neersit nie. Dan is daar een soos Bloedlyn, wat ek byna nie kán neersit nie, selfs ten koste van ander dinge wat gedoen moet word. Ek is nie literêr genoegsaam onderlê om dit akademies te verklaar nie, anders as dat die verhaal jou totaal insluk en nie eers heeltemal loslaat wanneer jy die laaste bladsy lees, en die boek tevrede toemaak nie. Renata, Stefan, George Hill en die ander randkarakters, word so lewend dat hulle vir my, as leser, lank gaan bybly.
Ek wil elkeen wat hou van ’n goeie spanningsverhaal, en hierdie tweeluik nog nie gelees het nie, aanmoedig om dit sonder verwyl te doen.