Wanneer Gregor gediagnoseer word met demensie, trek hy en sy vrou, Josefine, in by hul dogter Grete, 'n kopieskrywer, en haar man Tjaart, 'n psigiater. Terwyl Grete en Tjaart voorberei om 'n belangrike kliënt in die advertensiewese te onthaal, moet hulle bontstaan met die afgetrede biologie-onderwyser se oproerige metamorfose. Tydens ete hoor die jappies 'n lawaai uit die kelder ...
Met 'n kopknik na Kafka se klassieke verhaal verken die drama oud word, kind word en gog word in 'n wêreld waar jou menslikheid gemeet word aan jou adres, salaris en getal Facebook-vriende.
Willem Anker (1979) is die skrywer van onder meer die roman Buys (2014) en die drama Skrapnel (2011). Hy doseer skeppende skryfkunde en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Samsa-masjien is bekroon met vier Kanna-toekennings (Absa KKNK 2012), waaronder die Herrie-toekenning vir kopverskuiwende werk, asook die ATKV-prys vir dramateks (2012). (flapteks)
Die boek bevat ook 'n CD met die klankbaan wat Pierre-Henri Wicomb vir die eerste opvoering gekomponeer het.
Willem Anker is op 3 Februarie 1979 op Citrusdal gebore. Hy matrikuleer in 1996 aan Hugenote Hoërskool op Wellington. Tans doseer hy kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het in 2007 sy D.Litt aan dieselfde universiteit behaal.
In 2004 skryf hy die teks vir die ruimtelike teaterstuk Skroothonde wat by Aardklop die Aartvarkprys vir innoverende werk wen. Sedertdien het hy bekendheid verwerf as dramaturg. Siegfried, wat in 2007 by Kwela gepubliseer is, was sy eerste roman en is met die UJ-debuutprys en die Jan Rabie/Rapportprys bekroon. Sy roman Buys (Kwela, 2014) is met die WA Hofmeyr, Universiteit van Johannesburg, kykNET-Rapport, Helgaard Steyn en Hertzogprys bekroon.
Het jy geweet?
· Siegfried se eerste weergawe is in 2002 geskryf as deel van ’n MA-studie aan die Universiteit Stellenbosch. · Sy doktorsgraad, wat voltooi is met prof Louise Viljoen as promotor, kyk na hoe die skrywers Breyten Breytenbach en Alexander Strachan die nomadiese figuur of swerfkarakter in hul tekste gebruik. · Smag, sy Afrikaanse vertaling van Sarah Kane se toneelstuk Crave, is in 2008 landwyd by kunstefeeste opgevoer. Dit was sy eerste betrokkenheid by die vertaal van 'n toneelstuk.
Anker se toneelstuk beklemtoon die klassieke probleem met 'n drama as leesstuk: ek wens ek kon die opvoering daarvan beleef! Die verhaal gebruik Kafka se Die metamorfose as interteks, maar die spore van baie ander tekste loop deur die karakters se dialoog. W.O. Kühne se Huppelkind en D.J. Opperman se gedig 'Draaikewers' is maar twee; in die erkennings agterin word veel meer vermeld.
Die drama beeld die verhouding uit tussen 'n bejaarde man en sy vrou, en hulle dogter en haar man. Die vaderfiguur ondergaan die 'verkakkerlakking' op die verhoog, en twyfel word gesaai oor of hy werklik die kluts kwytraak en of hy 'n uitvoerige speletjie speel. Die dogter is 'n advertensiekopieskrywer en haar Engfrikaans is steurend, hoewel dit sekerlik outentiek is vir iemand van haar ouderdom en lewensvlak. Sy is wel bekommerd oor haar puers, maar voel ook besorg oor haar loopbaan. Tjaart ondersteun haar as eggenoot. Die bejaarde moeder behandel haar man met groot deernis en jy wonder of sy ook van haar trollie af gaan en of sy maar net saamspeel.
Die gebeure op die verhoog, wat heel bisar raak en tegnies uitdagend vir spelers én regisseur word, groei tot 'n besondere blik op veroudering en die aftakeling van menswees wat soms daarmee saamgaan. Anker benut taal en die variasies daarvan om die verhoudings en die proses uit te beeld. Ek sal nou meer geïnteresserd wees om sy ander toneelstukke, asook sy romans, te lees.
Anker depicts aging and the development of dementia in this piwerful drama about family, love and language. I wish I saw its first production!