‘n Lekkerlees roman wat jou tone sal laat omkrul.
Hoe gemaak as jou bestie met ‘n ander meisie in die kerk staan? Dit is die dilemma waarin Viva la Vida haar bevind met g’n idee hoe sy daaruit gaan ontsnap nie. Na jare van rondval van die een verhouding na die ander staan haar beste vriend uiteindelik op trou. Die enigste probleem: Vida is nie gek oor die meisie nie. Tog redeneer sy, as hy hom lewenslank met ‘n Barbie wil opsaal, is dit seker sy saak. Waarby sy egter nie verby kan kyk nie, is die “best woman” tuxedo-aandrok wat sy vir die troue moet dra. Dit, plus die feit dat almal haar met die verloofde se broer probeer afpaar en sy nog boonop die verloofde gelukkig moet hou, is genoeg om enige vrou se senuwees ‘n knou te gee.
Vida is vir jare al beste vriende met Rudi, al wens sy eintlik hulle was meer. Nou gaan hy trou en Vida is die “best woman”, nie die bruid nie. Sy probeer om op haar vriendskap te fokus en haar gevoelens te ignoreer, maak nie saak hoe moeilik dit is nie. Boonop moet sy ‘n metgesel vir die troue vind en met haar beroep as ‘n argitek tred hou. Daar is heelwat struikelblokke wat oor Vida se pad kom. Maar hoe kan mens op net vriendskap fokus met ‘n man soos Rudi, haar vriend wat op trou staan met Charmonaix? ‘n Bykans onmoontlike situasie. Maar nou ja, konflik is wat ‘n storie maak.
Vida Maria, soos haar ouma haar konsekwent aanspreek, verpersoonlik die moderne beroepsvrou, sterk, onafhanklik en ambisieus, maar tog baie lojaal, met min geduld met pretensies en aanstellerigheid. Vida se gewoonte om ’n geykte uitdrukking ’n nuwe, en gewoonlik komiese verwerking te gee, het my menigmaal laat lag. Dan is daar Rudi, haar beste pel sedert kleintyd. Sy stel Rudi se belange knaend voorop, dikwels ten koste van haarself. En natuurlik die nimlike ouma Wollie wat stuit vir geen duiwel en uiters uitgesproke is. Haar afwesige pa kom terug Suid-Afrika toe en kom by haar loseer vir 'n maand terwyl haar ma nog al die pad treurmares sing oor alles. Neil, Rudi se verloofde se broer, probeer nog boon-op Vida se hart wen en te midde dit als besef Vida dat sy dalk meer as vriendskap soek van Rudi. Maar is dit nie al reeds te laat nie? Alhoewel ek nie vreeslik baie hou van die ek-is-verlief-op-my-beste-vriend-wat-op-trou-staan tipe stories nie, was Viva la Vida 'n baie lekker lees met tonne humor wat jou met tye laat skaterlag - veral die koddige sêgoed van Ouma Wollie. Rudi se verhouding met Charmonaix en verlowing, lyk solied. Gaan Vida ooit vir Rudi sê hoe sy eintlik voel voordat hy met Charmonaix trou en haar perde? En die naweek op die plaas, het nie haar situasie enigsins makliker gemaak nie. ‘n Definitiewe boek om aan te beveel.