Hoe kyk 'n mens terug na jou lewe en wens jy het 'n ander vurk in die pad geneem? Wat sou gebeur het as? As? In dié diep ontroerende novelle toor die skrywer soos 'n alchemis van ouds met verdriet en spyt. Dit is 'n liefdesroman, 'n elegie aan die verlore liefde. Die verteller verlang terug na Anders, na Jena, na Duitsland. Maar die verlede spoel 'n mens rond soos die see. Nou is dit te laat. Vir altyd te laat.
My Pa se voormalige vriendin sê nou die dag dat hierdie boek haar gedurig aan my laat dink het -- die digterlike taalgebruik en die ingenomenheid met Duits. Ouch. Dis nie juis of dít nou eintlik as 'n kompliment opgevat kan word nie.
Jansen het Duits aan die UWK gestudeer, want, ek lei maar af, dit bevat minder intense politiese probleme maar terselfdertyd laat haar na aan Afrikaans voel. Die semi-outobiografiese roman is heel postmodern, die verskille tussen fiksie en werklikheid word bestryk binne die narratief en tot betrekking met die skrywer. 'n Groot liefde, Anders ('n Duitser), sterf sonder om van Jansen afskeid te kon neem. Meeste van die roman probeer Jansen se skuldgevoelens, ellende, en verlange te vertolk en verwerk. Ek het self 'n gekompliseerde doodsafskeid ervaar met my Ma se sterwe, en kon sterk met Jansen se wroegings oor Anders se dood identifiseer.
Terselfdertyd sukkel Jansen/die protagonis om haar lewe tydens die Apartheidsjare, en haar Pa se pynlike en toenemend wrede gemoed, te verstaan. Jansen gebruik dit om haar vervreemding van Anders, maar ook Afrikaanswees/Duitse student, te begryp. Sogenaamde 'kleurling' identiteit moet vir Jansen niksseggend wees -- té breed en té onduidelik. Gelydelik besef Jansen/die protagonis dat sy as nóg Afrikaner nóg Afrika-ner kan optree omdat sy nie 'swart' of 'wit' is nie. Sy is nie Hollands nie, nieteenstaande die feit dat haar oupa 'n Hollander was; sy is 'n Suid-Afrikaner. Maar sy is ook nie uit Afrika nie (sê die geselskap) en selfs al wil sy dit gedurig bewys, kan sy nie.
Die ou DDR Oos-Duitsland word vergelyk met Apartheid Suid-Afrika, nóg 'n opsig waarmee sy Anders se lewe en wese probeer herskep en daarmee hom te behou binne haar eie konteks. Natuurlik is die verbinding tussen die Holocaust en Apartheid ietwat oordrewe maar dit funksioneer geensins as 'n morele oortuiging nie, heel eerder as 'n kunsmiddel soos voorheen aangedui is.
Aangesien die roman as elegie op die voorblad beskryf word, is dit natuurlik 'n triestige storie. Pragtig geskryf en so eerlik mens ervaar medelye. 'n Uitstekende en sprokiesagtige herinnering aan verlore liefde en die uitsluiting van moontlikhede soos die lewe onverbiddelik met die ouderdom uit mens loop.
Hierdie is regtig een van my gunstelinge. Dit is mooi en fyn saam geweef en sensitief vir die kompleksiteit van die lewe. Dit lees vinnig en het my vir die duur van die boek heeltemal van die werklikheid verwyder. Dit was lekker om plekke in die Kaap waar ek groot geword het in die boek te kon herken en klein stukkies kon bylas by my verstaan van ons geskiedenis.
Ek het dae lank bietjie-vir-bietjie geproe het aan die mooiste woorde en beelde wat my siel diep geraak het en wou nie hê die boek moet eindig nie. So het ek dus menige dele weer en weer gelees, van die woorde geskribbel in my joernaal om weer aan te herkou, en vir altyd te onthou. Dis ñ onvergeetlike boek en beslis nommer een op my leeslys van die jaar.
Hoewel daar pragtige taalgebruik is, is hierdie nie vir my 'n onvergeetlike verhaal nie. Dit is 'n onthutsende soektog na self en die terugkyk na 'n lewe wat sou kon wees. Eintlik moes kon wees. Dis is 'n verhaal van onvervuldheid.
Meer as 'n elegie aan 'n verlore liefde, dit is ook 'n elegie aan 'n verlore self, die droom van wat kon wees. Dit lees plek-plek pure poësie. Fyn, sensitief, beeldskoon.
Die vervlegde stories was verfrissend, asook die verskillende skryfstyle van die verskillende stories. Dis nie dikwels dat daar geskryf word oor die Oos-Duitsers se lewe na die val van die Muur nie. Die boek is sterk autobiografies vermoed ek, en die skrywer se interessante situasie in die apartheidsdae met 'n pa wat in die Weermag was en op die Grens geveg het, uitsonderlik. Ek sal weer van haar boeke lees.
'n Op die oog af vinnige lees omdat dit so eenvoudig geskryf is, gestroop van baie onnodige detail. Tog is dit 'n diepdelwende kyk na 'n verlore liefde en tydperk en terselfdertyd na 'n tweede insiggewende verhouding wat die skrywer gevorm het, dit met haar pa. Die apartheid SA en die DDR word ook vergelyk op 'n baie subtiele manier. Die skrywer suggereer baie meer as wat sy wel sê en dit werk puik.