Spreuke 4:23 sê: “Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.” Stephan Joubert wys in VERANDER JOU KOP, VERANDER JOU LEWE dat hierdie woorde nie verniet in die Bybel staan nie. Jou brein het die vermoë om jou lewe te verander wanneer jy jou denke in ’n nuwe rigting stuur. Stephan wys in hierdie boek vir lesers hoe uniek en spesiaal God ons gemaak het. Hy wys leser hoe hulle hulle geloof kan verdiep en mekaar beter kan verstaan deur kennis van hoe die brein werk. Hy gaan kyk na interessante dinge rondom die brein en sy werking, • Jou brein het die potensiaal om lewenslank te groei en te ontwikkel. • Negatiewe taal beskadig nie net ander se lewens nie, dit beskadig ook jou brein. • Die struktuur van mans en vroue se brein verskil, en daarom doen ons dinge verskillend. • Omdat plastisiteit van die brein afneem in ouerwordende persone, kan dit tot hardkoppigheid of SOCIAL RIGIDITY aanleiding gee. In hierdie boek sal lesers die skakel ontdek tussen hulle brein, hulle elkedagse lewe en hulle geloof. Want die Bybel sê ons moet God liefhê met ons hele hart en al ons denke en VERANDER JOU KOP, VERANDER JOU LEWE sal lesers help om ook met hulle brein tot bekering te kom.
Stephan Joubert dien al vir meer as ‘n dekade as ‘n professor in Nuwe Testament studies by die Universiteit van Pretoria. Hy het al meer as 40 akademiese navorsingspublikasies, 10 artikels vir publikasie in internasionale akademiese werke, sowel as ‘n magtige navorsingswerk oor die lewe van Paulus die lig laat sien. Hy was ‘n leraar by ‘n mega gemeente in Pretoria, en is steeds ‘n gesogte spreker by internasionale konferensies en seminare oor leierskap en die kerk.
Hy skryf ‘n weeklikse bydrae vir ‘n koerant in Gauteng, ‘n maandelikse bydrae vir ‘n Christelike glanstydskrif, en is ook die redakteur van ‘n groot internet kerk (24 000 besoekers). Stephan het reeds 47 Christelike boeke geskryf, en is ook die mede-vertaler van ‘n moderne Afrikaanse vertaling van die Bybel, welke bekroon is as die beste Christelike publikasie van die jaar in Suid-Afrika. Hy het ook reeds die Van Drimmelen medalje vanaf die Suid-Afrikaanse Raad vir die Wetenskap en die Kunste ontvang.