Micki (Muis) ontvang 'n geheimsinnige uitnodiging na die hotel op Skimbaai waar haar silwerdoekheld, Voltaire-X, se nuwe riller verfilm word. Sy brand om 'n rol teenoor Voltaire los te slaan, maar het nie 'n kans teen haar beeldskone, agterbakse vriendin Roxy nie. Boonop is alles nie pluis in die Spookhotel nie ... Hoe oorkom jy 'n yslike puisie op jou neus, 'n aanstellerige vriendin wat jou boelie en grillerige ligte wat jou snags na kamer 13 lok?
Micky en haar vriendin Roxy kry 'n geleentheid om die hotel te besoek waar hulle gunsteling filmheld, Voltaire X, se nuwe fliek verfilm word. Dis egter sommer uit die staanspoor duidelik dat die hotel nie sommer net 'n gewone hotel is nie…
Ek het heerlik gelees. Van my gunstelinge:
❤️ Micky - Sy het my soms bitterlik vies gemaak, maar eintlik ook maar net omdat ek baie van my tienerself in haar raak gelees het. Haar smagtig na erkenning en die onderliggende redes daarvoor dryf die storie en haar karaktergroei is die spil waarom alles draai.
❤️ Aldo - Nerdy, sexy, musikaal. Die feit dat hy so gemaklik is in sy eie vel het dit lekker gemaak om van hom te lees.
❤️ Volataire X – Dit was 'n twist wat ek nie verwag het nie, en was perfek
❤️ Die Sieleslurper - 'n Oorspronklike konsep wat fantasties inskakel by die res van die storie
❤️ Die nonnetjiesuile – in legendes en mites is uile dikwels beskermers teen bose geeste, maar in hierdie storie is hulle rol effens meer prakties.
❤️ Die taal – Troula beskryf die wêreld so sensories dat sy my pens en pootjies in die storie ingesuig het. En ek kan nie visualiseer om my lewe te red nie! (Ek dink in woorde).
❤️ Die tempo – die pas was lekker vinnig en die storie het maklik en vinnig gelees
❤️ Joachim en Charlie
Ek het wel na 'n bietjie meer agtergrond oor Roxy verlang. Ja, sy’s 'n boelie en 'n manupileerder, maar daar het so nou 'n diep onsekerheid deurgeskemer, wat moontlike motivering vir haar gedrag kon gewees het. Selfs die aakligste boelies het gewoonlik redes vir hulle optrede.