William van Reede van Oudshoorn is ’n goewerneur se seun, met ’n belangrike plek in die Kaapse regering. Sy lewe is ordelik, aangenaam, welgesteld, met sy woning, Saasveld, ’n paar goeie vriende en sy groeiende kosmopolitiese dorpie. Toe bring die see hom iets wat hy lank ontbeer die liefde van ’n vrou. Maar in die winter van 1795 breek storms oor die land, waarin William veel verloor wat hy gedink het syne was. Behalwe sy volgehoue verset teen verraad en vreemde oorheersing. Dan Sleigh eindig sy skrywersloopbaan, wat in Eilande met die pionierstyd begin het, in 1795 met die Kaap se laaste maande onder die Kompanjiesvlag – ’n onvergeetlik unieke herskepping van ’n verbygegane era, subtiel relevant vir vandag se uitdagings aan die suidpunt van Afrika.
Uitstekende boek. Eintlik sal ek met 'n weer-lees kan doen om die boek nog beter te waardeer. Dis 'n historiese roman wat nie die dringendheid het van 'n spanningsverhaal nie. Dis jammer dat daar nie 'n kaart van die Kaapse omgewing by die boek ingesluit was nie.
1795, 'n keerpunt in die geskiedenis van die Kaap, en gevolglik dié van Suid-Afrika.
Hoe anders sou dit wees as die Britte by Muizenberg gestuit gewees het? Met die einde van die VOC op hande, die revolusie in Frankryk wat 'n republiek waarin vryheid en gelykheid gevestig het, en die voorbeeld van die Vereenigde State van Amerika se grondwet wat bejeën is, het die burgers van die Kaap uitgesien na soortgelyke vryheid ná die juk van die VOC afgewerp is.
Hierdie droom is verydel deur die lafhartige optrede van kommissaris Sluysken en veraad van majoor Robert Gordon op wie se skouers die verdediging van die Kaap gerus het, en die Kaap op 'n skinkbord aan generaal Craig oorgegee het.
Hierdie roman gee 'n besondere getroue weergawe van die gebeure van daardie tydsknoop in ons land se geskiedenis soos beleef deur Baron William van Rheede van Oudtshoorn van Saasveld, amptenaar in diens van die VOC.
’n Puik boek. Sleigh se navorsing is, soos gewoonlik, onverbeterlik. Nie net die geskiedenis nie, maar ook die taal in dié roman. Mens sluk by tye bietjie swaar aan die vroulike karakters. Hulle wil soms bietjie stereotiep voorkom – in ooreenstemming met die beskouinge van ’n ouer, manlike skrywer? Ook gedink die uitgewer kon ’n kaart bylas vir lesers buite die Kaap.