#DieVyfSusters – Eleanor Baker
#HumanEnRousseau
Tydloosheid is moeilik voorspelbaar, tyd alleen sal oordeel. Heruitgawes en herdrukke in soverre dit publikasies aangaan is ‘n maatstaf, maar nie die enigste nie.
In 1998 publiseer Human en Rousseau die eerste uitgawe van “Die vyf susters’. Die skrywer word aangedui as Alex Muller, en die kopiereghouer verklap weinig meer deur bloot te konstateer: “Kopiereg deur die skrywer streng voorbehou.” In 1999 verskyn ‘n opvolgroman “Die rooi angelier” by dieselfde uitgewer en met dieselfde minimale inligting. Die derde en vierde romans, “Drie misdade in ‘n knoop” (2000) en “Bloedbande” (2001) is ewe vaag, maar in 2003 verklap “Hotel Bergsig” se agterplat dat Alex Muller ‘n skuilnaam van Eleanor Baker is, en na haar afsterwe in 2002, behoort die kopiereg aan die Baker Trust.
Die protagonis in hierdie reeks is Adriaan Kruger, ‘n wewenaar-speurder wat melk bo alkohol verkies en sy hand aan origami waag, alhoewel sy kollegas min waardering vir sy pogings het en kwalik tussen ‘n kameel en ‘n seilboot kan onderskei. In 1998 was die “knussie” genre nog relatief onbekend in Afrikaans, maar toe reeds was die reeks beskryf as soortgelyk aan die speurverhale van Agatha Christie. Die booswigte is alledaagse mense, nie vreesaanjaende monsters wat ‘n hele gemeenskap in vrees dompel nie, en die ondersoeker is Jan Alleman, maklik om mee te identifiseer en by aanklank te vind.
“Die vyf susters” verwys na die vyf Delportsusters, ‘n disfunksionele groep sibbe wat saamwoon in hulle oorlede ouers se verwaarloosde huis, en wat deur die oudste, Rosa, geregeer en gemanipuleer word. Dan word Rosa vermoor – en die vier jonger susters is die hoofverdagtes.
Humor is ‘n belangrike element van ‘n “knussie”, maar dit moet subtiel in die teks verweef word en neig na droog en terloops, eerder as na komedie en geforseerd. ‘n Uitstekende voorbeeld is die verwysing na ‘n ou familiefoto: “Meneer Delport wou kennelik nie glimlag nie, hy gluur so wreedaardig na die kamera dat Adriaan verbaas is die man het die moed gehad om die knoppie te druk.” (87)
Veranderings in die ruimte waarteen die verhaal afspeel is ‘n uitdaging wanneer ‘n heruitgawe meer as twee dekades na die oorspronklike verskyn. In hierdie roman is dit die prys van sigarette. Die 1998-uitgawe lui “...teen amper ses rand ‘n pakkie...” (87) en dit is onveranderd behou in die heruitgawe (106) wat ‘n ouwêreldse sjarme en nostalgie daaraan verleen, eerder as om afbreuk daaraan te doen.
Terug na tydloosheid. Ek het die roman in 2025 met dieselfde genot gelees as destyds in 1998.
#Uitdieperdsebek