Barries Barnard is in graad elf en bly saam met sy ma in 'n voëlhok van 'n woonstel. Sy pa, met wie hy vir jare nie kontak gehad het nie, wil skielik hê hy moet kom kuier. Barries is kwaad, baie kwaad hieroor - hy háát sy pa en fantaseer daaroor om hom rottegif in te gee.
'n Rowwe partytjienag verander Barries se lewe vir altyd en hy word gedwing om vir ses weke na sy pa, op 'n afgesonderde kusdorpie, te gaan.
Hier begin daar vir Barries 'n lang reis deur woede, pyn, trauma en tragedie. Hy worstel om sin te maak uit die stukkende skerwe van sy bestaan - bly daar enige iets oor wat die moeite werd is? Sal hy ooit weer vry kan asemhaal?
Hierdie boek lees baie lekker; dit het 'n gemaklike skryfstyl, wonderlike dialoog en ek was nie vir een oomblik verveeld nie. Ek het lief geraak vir al die karakters: van Nelson, die papegaai, sexy Olga tot by Barries se pa wat só hard probeer om al sy demone te besweer. My gunsteling karakter is egter Jona, maar jy sal self moet lees om uit te vind wie dit is - en ek waarborg hy sal diep in jou hart kruip! Op die einde voel Barries vir my soos 'n broer.
Asem is 'n jeugroman, maar volwasse lesers sal dit ook geniet. Ek was mal daaroor! Dit sal jou asem steel en jou dan na asem laat snak, maar op die ou end sal jy, soos Barries, vryer asemhaal.