Mattie klim elke aand hoog op in die ou eikeboom voor haar kamervenster om die Skimberge beter te kan sien. Sy dink die berge bewaar ’n geheim, want waarom anders val daar sterretjies uit die naghemel bo hulle? Sy vertel vir Henk daarvan omdat hy die enigste een is wat nie sal lag nie.
Met ’n vlot wat aan Mattie se oupa behoort het, vaar sy en Henk na die Skimberge toe. Maar hulle kry teëspoed: hulle beland in ’n ravyn en verdwaal in ’n woud. Wanneer hulle met die woud se inwoners kennis maak, begin hulle die Skimberge se geheime te verstaan, en die ondersoek word ’n fabelagtige avontuur met verrassende gevolge...
Ek is deesdae werklik bly oor die toenemende aantal Afrikaanse fantasie wat oor meer as 100 bladsye strek. Dit hoef nou nie soos Peter Berling se " Der schwarze Kelche" oor 1 278 bladsye te strek nie - maar 268 bladsye is goed genoeg. Ek het vanoggend om 03:00 tot 06:05 hierdie boek se ander helfte klaargelees: ek kon glad nie slaap nie, dit was te warm. Ek en somers is nie maatjies nie.
Komplimente aan Rob Foote - die omslag is pragtig.
Laat ek eerlik wees: Ek was lui. Ek het die koninkryk van die ander dimensie wat ek in my kop gehad het in " Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel" net so uit my kop gekopieer en in die boek geplak. Verander net die naam na elwe. Met die uitsondering dat die elwe lyk my nie 'n vlieg skade sal aandoen nie - dis 'n beskawing wat sy kruin bereik het. Ronan se vermurwe hart bloei vir mens, elf, dier en klip. Die hoeveelheid geweld is soos die sarkasme en skimpname (met die uitsondering van "feeks") uiters spaarsamig aangewend.
Die intrige verloop eenvoudig (maar ek kan myself verwyt omdat ek die laaste bladsy eerste gelees het; toe is die hele storie bederf). Die storie verloop nie te vinnig nie, maar dit trek en sleep ook nie. Dalk is die tweegesprek tussen die karakters miskien net 'n bietjie te geselserig oor alledaagse goed, soos "issit?", "dink jy so?", "waarom is dit so?" met 'n klomp detail wat kon gebly het. Amper soos 'n potjie tennis: jy sê ek praat snaaks, ek sê jy praat snaaks. Ons lag daaroor, die spel is verby. Teen daardie tyd het ek 'n loopgraaf deur die grond gevloek: "Verdompwil, luister jy nie! Spits jou ****** ore! Sien die erns van die saak in!" Nou goed, dit is seker realisties geskrywe - want toe ek nie baie lank terug in die biblioteek was nie, het die kwetterende jong tienerjariges rondom die rekenaars soos 'n trop/groep/kolonie meerkatte onophoudelik gepraat en gebabbel om tog nie kontak te verbreek nie (en hulle is seker veel beter manierd as 'n ongeduldige bees soos ek). Soveel onsin per sekonde het ek laas uit die kletsrymer Chris Brown se mond gehoor. Ouer tieners (wat altyd doodmoeg is) laat die dreigende lyftaal en uitdrukkinglose gesigstaal eerder die praatwerk doen. En met genoeg konsentrasie die gloeilampe uitdoof.
Die vlieënde heksies op die besems is wel 'n bonus vir die verhaal. Vir die een of ander rede het ek geskud van die lag by die gedagte: dis nogal 'n manier om die staat te boikot. Niemand sal so dom wees om besembelasting in te stel nie. Jy spaar 'n vliegbewys, geen petrolbelasting, geen BTW op elke liewe motoronderdeel. En geen spoedbeperkings nie. Autobahn se moses. Dit omseil die hele Suid-Afrikaanse wetgewing en motorekonomie. Briljant.
Wat my selfs meer interesseer, is wat die boek nie sê nie, maar tog duidelik na vore kom.
Ek wonder of Mattie en Henk deur die hele gebeurtenis verander is, of hul persoonlikhede verander het. My grootste vraag is ook - waarom, o, waarom, het Liloera nie per ongeluk 'n naamlose bottelbrief aan die elwe gestuur nie? Of per kraai-koerier. Of op ryspapier 'n stroperige (en traandeurdrenkte) boodskap uitgeskryf en onder die troonkussing gaan bêre nie. Die twee mamparras was immers nou uit die pad. Wat sou dit nou gekos het om jou gewete engelrein te hou en te sê: "My goeiste! Het jy gesien hoe daardie aasvoëls die kinders wegdra?" By verdere navrae kon jy enige storie opdis - die vlermuis en brulpadda se bekke is immers vir ewig nou doodstil, dan nie? Nood breek wet! My magtig, al staan jy ook met die galgtou om jou nek van skuld, die koningin sou jou asiel in die weelderigste kamer gee tot jou beentjies in jou praalgraf begin verpoeier. En dan nog 'n jaarlikse feesdag instel en standbeeld oprig ter herinnering van jou heldedaad. Buitendien, in die werklike heksewêreld moet die goeie en die bose balanseer - die doel heilig die middele: soos ons hulle self oor en oor sien lieg en halwe waarhede vertel en hul eie reëls oortree. Maar helaas, dan was daar nie 'n storie nie.
As ek die outeur van die YouTube-kanaal "Film Theory" was, dan sou ek kon sweer Liloera wou koningin oor die koninkryke word. Dink net: hier word die troonopvolgers weggevoer, en jy verroer nie 'n vinger om hulle terug te vind nie (198-199). Vir meer as 'n dekade! Vir geen geld, roem of ryklike beloning in die wêreld nie. Was die dood van die koning voor of na die aanlanding van die aasvoëls, vra ek my af. Maar almal sien jou mos as 'n goeie en onskadelike heks. En nou dat die blok te warm word... "ek het MOS nie geweet nie!" "die voëltjies sou mos teruggaan" (uhmmm...na watter eienaar toe?). Jammer Liloera, maar nou is jy groot in die moeilikheid. Jy is net gelukkig dat jy tot dusver skotvry daarvan afgekom het.
Post Scriptum 1: op bl. 200 het Jorand sy vriende toegespreek: hulle het ooreengekom om die waarheid stil te hou. Nie Mattie en Henk nie. Die waarheid sal tog eendag uitkom. Bl. 252 is klaar 'n stap in die regte rigting...
Post Scriptum 2: Ek hou van die Latynse woord "nebula horrifica": onheilswolk. Dis oulik.
A quite delightful fantasy story, and I hope it will eventually be translated into more languages; Afrikaans unfortunately limits it to a rather small audience.
It is perhaps a tad derivative of both Tolkien and J.K. Rowling, here and there has a bit more detail than really adds to the story, and I could predict the big reveal at the end quite early. It is nevertheless filled with magic, and was decidedly worth the read. I'll keep an eye out for other works by the same author.
Mattie en Henk is beste maats. Toe hulle een aand vreemde sterre reën agter die Skimberge gewaar, besluit hulle om ondersoek te gaan in te stel. Hulle beland in 'n geheime koninkryk van die elwe, in 'n wêreld met towenaars, hekse en waternimfe en waar ongewone diere jou speelmaats is. Ek het nog nie so iets in Afrikaans gelees nie en was heerlik verras met die storielyn. Die karakters in die boek is twaalf, maar my agt-jarige het die boek ook baie geniet.
Hierdie was een van die beste Afrikaanse fantasie boeke wat ek al gelees het. Ons kort meer Afrikaanse fantasie boeke, want orals waar ek kyk is dit net liefdesverhale, nie dat ek nie van liefdesverhale hou nie. Dit was n uitstekende verhaal, met ongelooflike avonture. Hierdie boek het my sommer lus gemaak vir lees.