Hoe jammer Middelnederlandse letterkunde word eintlik nie meer aan Suid-Afrikaanse universiteite doseer nie. Sedert 1983 is Nederlands volgens wet nie meer sinoniem met Afrikaans nie. Dit vind ek jammer, want Middelnederlands (inderdaad ook Nederlands) bied eweveel erfgoed aan Afrikaans as Nederlands-Nederlands en Belgies-Nederlands.
Terwyl die Engelse klas vir Geoffrey Chaucer en William Shakespeare bied, staan die Afrikaanse klas absoluut met leë hande. Nie eens die Daghregister van Jan van Riebeeck word benader nie, want dit het (met reg!) geen literêre waarde nie.
Verder kan die afskaling van Nederlands op hoërskole en aan universiteite deels toegeskryf word aan die weinige impak van Nederlands op die alledaagse Suid-Afrikaanse samelewing (Google Trends beaam dit ten sterkste); hoewel ek vas glo die WIL is eenvoudig nie daar nie. Die liefde vir woordherkoms (etimologie) word juis in hierdie jare by die student of leerling gekweek: wat is Afrikaans sonder 'n geskiedenis? Maar nou ja, waar daar 'n leemte is... is daar belangstellendes soos die nimlike ekke.
In Van Stamverwante Bodem, Deel XIV (1951) word Lanseloet eers oor 58 bladsye heen bespreek. Die verhaal het 'n supereenvoudige intrige, met enkele tegniese foutjies, soos Sanderijn wat binne 'n dag of wat by die fontein staan van haar volgende geliefde, die ridder, terwyl Reinout amper langer as 'n jaar neem om Sanderijn op te spoor. Let op die woorde van 'Des ridders warande huedere': "Dat ic alsoe menich jaer", asook Reinout: "Hebdi hier in langhen tiden"...
Maar, soos Van der Merwe tereg skryf: die Middeleeuer het hom nie bekreun oor tyd en plek en anachronismes nie, maar die uiteindelike lot en doel van die teks. Anachronismes was dus welkom; by ons hoogs komieklik of irriterend.
Die karakterisering verval nie gou in tipes nie. Sanderijn is geen opblaaspop nie. Lanseloet is wel in die moderne wêreld 'n puer aeternus, maar is uitgelewer aan die reëls van die samelewing wat stiptelik nagekom moet word: elkeen het sy stand. Sy moeder, wat haar dinastieke belange en erfenis bo alles stel en verdedig, probeer weer "uit liefde" haar seun en sy toekoms beskerm (verhoudings tussen verskillende stande is bloot sinnelike drif wat na bevrediging weer verdwyn), maar die koningin verloor haar seun juis daardeur...
Ek was opreg verbaas oor die volgende stukkie teks (tussen die Ridder en Sanderijn):
Ridder:
Heeft u hier iement dach gheset,
Daer ghi, scone wijf, na wacht?
[Heeft een afspraak met iemand u hier gebracht,
Waar u, mooie vrouw, op wacht?]
...
Hi mochte sijn van sulker macht,
Ic soude u te noder spreken an.
[Hij zou van zo'n grote macht kunnen zijn,
Dat ik u niet durf aan te spreken.]
'n Ridder wat genoeg eerbied en inbors het om nie in 'n ander man se slaai te kom krap nie? Wow. Dis nou 'n ware heer (gentleman). Gewoonlik word ons wysgemaak 'n ridder op die wit perd is maar net iemand uit 'n bevoorregte hoë stand, soos deur die koning aangewys, wat ryk hoeveelheid land besit (met kleinboere), wat weinig werk doen, maak en breek soos hy luskry en maar net kyk waar hy sy swaard orals kan indruk (Freudian pun included).
Maar gepraat van Freud, 'n onderwerp soos afgelei kan word in...
Ic en weten op eerde geboren niet,
Dien ic soe verre betrouwen soude,
Ginc ic met hem spelen te woude,
Hi en soude met mi doen sijn gherief.
[Er is niemand op aarde geboren,
Die ik zo ver vertrouwen kan
Dat ik met hem ging spelen in het woud
Dat hij dan niet zijn lust beging.]
het my verwonderd laat staan. Sou sulke frappante seksuele onderwerpe dan algemeen in die Middeleeue wees? Op die ope markplein? Op straat? Voor die stomme kinders? Was dit dan geen taboe nie? Duidelik anders as in die verfynde 1800's, toe enige moontlike seksuele verwysing (om sedelikheidsredes en sensuur) in Latyn geskryf moes word...
So tussen die lees deur let mens ook op die grammatika.
(mnl) Her Lanseloet, wi sijn hier te lanc*,
(nl) Heer Lanseloet wij zijn hier te lang,
(afr) Heer Lanseloet, ons is te lan'k' hier,
(mnl) O edel here, wat sijn die dinc*, Daer ghi al dus omme staet [en] claght?
(nl) O edele heer, wat zijn de dingen, Waarover u nu staat te klagen?
(afr) O edelheer, wat is die dinge, waaroor u nou staan [en] kla?
Dit is duidelik dat enkele Middelnederlande trekke in Afrikaans (seker ook in ander Nederlandse dialekte?) oorgebly het. Twee opmerkings:
1. Lan'k' wyk af van ding en belang wat in Afrikaans almal op -ng eindig.
2. Die gebruik van "staan en [werkwoord]" is nog springlewendig.
Dan nog 'n voorbeeld:
(mnl) Scone wijf, ic versta u wale.
(nl) Mooie vrouw, ik begrijp u goed.
(afr) Skone vrou (dame?), ek verstaan u wel.
Verstaan beteken in Afrikaans "understand", dus "begrijp" in Nederlands. "Versta" het hier niks te make met hoorbaarheid nie. Ook "ek verstaan u goed" sou aanvaarbaar wees.
'Fontein' word ook in Afrikaans pleks van "bron" gebruik; hierdie verfransing is nog springlewendig.
Vraag wel: sou 'bequam' met die Duits 'bequem' ooreenstem? En 'bescheet' / 'bescheyt' met 'Bescheid'? Sou 'vaer' (vrees, angs) ooreenstem met 'Furcht'? 'vrouden' (vreugde) met 'Freuden'?