Matriek. Die woord gee Elle ’n knop in haar keel. As hoofmeisie gaan daar ’n groot verantwoordelikheid op Elle se skouers rus. En as Elle dit waag om ’n voet verkeerd te sit, sal Shia dadelik haar plek inneem. Kort voor lank het Elle egter groter probleme toe ’n verspotte modderstoeigeveg by die kinderhuis (en parmantige pienk onderklere) onverwags groot nuus word.
Christien het grootgeword op Bloemfontein en Pretoria. Sy woon tans saam met haar man in Sandton. Sy het ‘n pro bono spraakterapie-praktyk en hou haar ook besig met toetsing, voorligting en terapie by ’n plaaslike parallelmedium laerskool. Christien is baie lief vir haar drie kinders, honde en leer al 30 jaar lank Frans. Kondensmelk is haar eerste boek.
Hier is ietsie meer oor Pienk Bikini deur Christien Neser, my wenboek:
Die verhaal handel oor Elle Kroon wat .as hoofmeisie van haar skool verkies is . Soos elkeen van ons, is daar 'n paar dinge wat haar aandag vereis: moeilike verhoudinge met van haar medeleiers, haar kêrel se stilswye. En dan ook haar hoofbekommernis: wat gaan haar projek wees vir haar matriekjaar?
Die is 'n heerlike 'skoon' verhaal wat deur ma's en hulle tienerdogters gelees kan word: propvol grappige en ernstige insidente.
As jy oud genoeg is om die Maasdorpreeks van Stella Blakemore te verslind het, sal jy vir Kobie Malan onthou. Elle Kroon is 'n moderne Kobie.
Pienk Bikini, die agtste boek in die reeks van Elle Kroon se avonture as 'n koshuisleerling by Gravitas en ook my eerste kennismaking met die reeks, is een heerlike lang avontuur wat jou lagspiere kielie, miskien 'n traan of twee laat pik en jy kan nie anders as om kliphard vir Elle te cheer terwyl sy al die struikelblokke met grasie oorkom nie.
Pienk Bikini is 'n heerlike lekkerlees boek soos min wat wat oud en jonk sal geniet en wat oorloop van Elle se avonture...en dit het alles begin met 'n pienk bikini en 'n moddergeveg.
Ek was baie skepties om met die boek te begin, want dit gaan oor die lewe van ‘n hoërskool meisie en daai gedeelte van my lewe is finaal afgehandel. Maar ek was aangenaam verras. Dit gaan oor die lewe van ‘n koshuis hoërskool meisie, met al hulle mannewales wat hulle aanvang, bind die boek jou in ‘n mate om so tog die boek te wil klaar lees. Dis ‘n baie ligte lees met nie te veel intriges nie, maar tog tye wat jou laat lag en die glimlag op jou gesig te hou. Waar sy besluit het op wat haar projek gaan wees vir die jaar sodat almal haar gaan onthou as die hoofmeisie van daardie jaar, tot waar hulle inglip in die musieksentrum en Nicol vir hulle ‘n vertoning opsit, wat hulle asems wegslaan, gee jou tog so bietjie van ‘n verbeelding droomtog. Daar is vele boodskappe wat Christien in haar boek wil uitbring waarvan een is, jy hoef nie die slimste of sportiefste persoon te wees om ‘n verskil te maak in mense se lewens nie, maar net om jouself te wees en deur te druk, op ‘n kreatiewe manier waar nodig en jy sal hoogtes bereik. Welgedaan met hierdie boek. Ek sal dit definitief kan aanbeveel vir skoolmeisies.
Pienk bikini is die agtste boek van Christien Neser se reeks oor die avonture van die tiener Elle Kroon, 'n leerder van Gravitas Hoërskool.
Dis Elle se laaste paar weke in graad elf. Soos sy gou agterkom, laat graad elf "hom wraggies nie maklik in die bed sit nie".
Dis eksamentyd; sy moet werk aan haar spesiale projek vir volgende jaar; sy hoor skielik niks van haar kêrel, Alex, nie en dan is daar Fikile van die kinderhuis Kaya Kumba wat in haar hart kruip en vir wie sy graag wil help. Hoe gaan sy by alles uitkom?
Wanneer 'n insident wat pienk onderklere insluit, skielik groot nuus word, kom haar amp as hoofmeisie boonop in die gedrang. Is Elle sterk genoeg om al die spanning te hanteer?
Dis my eerste kennismaking met hierdie reeks - en wat 'n fees was dit nie! Dit lees vinnig en lekker en het my laat terug verlang na my grootwordjare met die Saartjie- en Maasdorp-reekse. Hierdie skrywer het baie talent. Ek sien uit daarna om die ander boeke te lees. Heerlike ontsnapping vir oud en jonk!
Ek heerlik aan Pienk bikini gelees - dit is werklik een van daardie jeug boeke waarin die taal, storie en skryfstyl nie vir een oomblik sy jeugdige lesers en hulle ouers onderskat nie. Vir my was elke karakter en die hele Gravitas omgewing nuut en vars en n absolute lekkerte. Ek hou daarvan dat Elle effe onseker voorkom - dit is iets wat ek dink meeste meisies van die ouderdom mee sukkel - al mag hulle dit dalk self nie noem nie. Ek weet my dogter is soms onseker en ek dink dat Elle so suksesvol is ten spyte van dit is 'n heerlike aansporing vir die meisies. Dit is nie maklik om 'n tiener te wees nie en Elle en haar maats spreek daardie onsekerhede en angstigheid goed aan met 'n prettige ondertoon. Elle is beslis my tipe meisie en ek hou sommer baie van haar en haar vriende. Ek gaan beslis die ander Gravitas boeke in ons huis lees - en seker maak my Prinses A kry die res ook onder oë. Ek moet natuurlik ook soos sy Refilwe uitsonder as die aller lekkerste karakter. Sy is daardie een vriendin wat elke meisie of vrou nodig het - lojaal, prettig, positief en so effe astrant.
Ek is regtig dankbaar dat daar geen reël bestaan wat volwassenes verhoed om jeugverhale te lees nie, want dan het ek 'n heerlike verhaal misgeloop. Christien Neser laat die leerlinge van Gravitas lewe kry in die leser se gemoed, selfs vir my wat nie die vorige boeke in die reeks gelees het nie. Elle se benoudheid oor die komende matriekjaar en haar verpligtinge as aangewese hoofdogter, word baie realisties geskets en verwoord in jongmenstaal wat deurentyd smaakvol bly. Haar "binnestemmetjie" word treffend ingespan om haar emosies oor te dra en haar besluite te motiveer. En ons kan identifiseer met die jongklomp, want ons kan mos onthou, as ons onsself toelaat, hoe erg dinge op daardie ouderdom saak gemaak het. "Gomverdorie", om Refilwe aan te haal, dit is 'n boek wat ek beslis sterk sal aanbeveel vir hoërskoolmeisies (en volwassenes wat 'n lekker ligte lees kan waardeer).