Daar is maar enkele redes om 'n boek soos hierdie een te lees, en die mark daarvoor is sekerlik ook nie uitgebreid nie. Een rede is om alles wat Johann de Lange gepubliseer het, te lees - en natuurlik sluit dit aan by sy gedigte en sy prosatekste. Hier is die outobiografiese voorkoms / skyn / aanbod interessant / belangrik: verwysings na Ernst, Danie, Lucas, Hennie, Antjie, Wilma, Joan, Koos en ander figure uit die Afrikaanse letterkunde, titels en projekte waarvan 'n mens weet en onderhandelinge met bestaande uitgewerye - hierdie kontroleerbaarhede laat 'n mens wonder oor die feitelikheid van die geil en gul seksuele element in hierdie teks.
Hoe die mans beskryf word, die ruimtes (Van der Graaff se wyle poel, openbare toilette, die sauna en stoomkamer en storte by verskillende gimnasiums) en die aktiwiteite verkry 'n eenselwigheid wat 'n mens laat wonder waarheen die teks beweeg. Uiteindelik eindig die teks nie soveel nie - dit hou eerder maar net op.
Hierdie twee strome (die letterkundige sfeer en die seksuele sfeer) word vergesel van 'n beskrywing van enkele verhoudings wat tot meer neig as net die tydelik opwindende - vriendskappe en minstens een verhouding wat (al verloop dit ook nie sprokiesagtig nie) duidelik meer vir die spreker in die teks beteken as wat 'n mens mag dink dit moet.
Nie 'n hoogtepunt in die de Lange-oeuvre nie, maar daar is darem 'n ander rede ook om die boek te lees en dele daarvan te herlees. Vir letterkundige waarde sou ek lesers eerder na die digbundels verwys.