Toe ’n Londense ma en pa een oggend in Stellenbosch opstaan, is hulle dogter net weg uit haar kamer in die gastehuis waar hulle tuisgaan. Tieners doen sulke goed. Hierdie een is nie ’n uitsondering nie, al is sy ’n belowende violis.
Maar dis gou vir speurder-sersant Luna Joubert duidelik dat hierdie meisie teen haar wil hier weggeneem is en nie gaan terugkeer nie. Dit is net die begin van ’n nagmerrie vir die twee ouers en die meisie. Luna maak nie op instink staat nie – altans, nie net daarop nie – maar iets omtrent die ouers se beste vriend in hierdie stad is ook nie pluis nie. Of is dit met die vriend en die ma wat die fout is? Hoekom het die verdwene meisiekind se ouers nie geweet van haar nagtelike besoekie die aand voor sy weggeraak het nie en het hulle inderdaad nie geweet nie?
Toe moetiemoorde en seksslaafhandelaars genoem word, blyk dit die werklikheid kan veel erger as bespiegelings wees ...
Jeanette Stals het ná ligter romans haar hand beproef aan die speurroman. Vermis volg op Katoog, waarin Luna haar verskyning gemaak het. Die volgehoue spanning en aksie in Stals se speurromans hou haar leser gevange van begin tot einde.
Afgetree uit die onderwys, en werksaam as toergids en gastehuis-eienaar, konsentreer Jeanette Stals op haar skryfwerk. Omdat sy graag misdaadfiksie lees, begin sy haar toespits op die spanningsgenre. Haar eerste boek in die reeks met Luna as hoofkarakter, Katoog, verskyn in 2016. Sedertdien skryf sy ook romanses en historiese fiksie.
Toe Gwen en James O’Neill die oggend in ‘n gastehuis in Stellenbosch opstaan, is hul tienerdogter, Elodie, skoonveld. Die Engelandse gesin het vir familie kom kuier en Elodie is ‘n belowende jong violis. Speurder-sersant Luna Joubert ondersoek die verdwyning en sit vinnig die leidrade bymekaar: Elodie is ontvoer. Ek het lekker gelees aan hierdie speurverhaal. Die bladsye blaai sommer vanself soos wat mens probeer uitvind wat gaan volgende gebeur.
'n Londense tienermeisie, Elodie O'Neill, verdwyn oornag uit haar kamer in 'n Stellenbosch-gastehuis. Dit is speurder Luna Joubert en haar kollegas se taak om haar te probeer opspoor. Wanneer daar boonop gerugte van moetiemoorde en seksslavinne die rondte begin doen, raak die druk om haar betyds te vind al hoe meer en hulle moet spook om by die waarheid uit te kom.
Lesers het Luna Joubert reeds in Jeanette Stals se vorige boek, Katoog, ontmoet (maar die twee boeke kan ook onafhanklik gelees word).
Die soektog na Elodie sorg vir naelbytspanning en die storielyn tel al hoe vinniger spoed op en trek die leser in 'n web van intrige in. Dis seker al 'n cliché in die wêreld van spanningsromans, maar ek kon die boek inderdaad nie neersit nie.
Ek kan nie wag vir die volgende hoofstuk in Luna Joubert se lewe nie - sy gaan vinnig geliefd raak onder Afrikaanse lesers. Jeanette Stals is 'n wonderlike stem in die huidige ontploffing van spanningsromans in ons taal.
‘n Gesin wat in London woonagtig is, is in Suid-Afrika vir die pa se werksverpligtinge. Terwyl James bedags werk, verken die ma, Gwen, en die gesin se tienerdogter, Elodie, die Kaap. Elodie verdwyn spoorloos uit die gastehuis waar hulle gebly het. Dit is die taak van Luna Jordaan en haar halfbroer, Johan, om vas te stel wat van haar geword het. Waar pas Con du Toit in die prentjie en het hy of sy twee seuns iets met Elodie se verdwyning te doen? James se geheimsinnige optrede kompliseer die ondersoek verder. Dit is die tweede boek met Luna Jordaan as hoofkarakter. Die aktuele temas sorg vir interessante en spannende leesstof. Ek hoop daar is nog boeke uit die pen van Jeanette Stals.
Elodie, 'n tienermeisie van Londen, verdwyn by die gastehuis in Stellenbosch waar sy en haar ouers woon. Speurder-sersant Luna Joubert en haar halfbroer, Luitenant Johan Botha moet die verdwyning oplos. Die pas van Vermis is vinnig en Stals span die spanningslyn snaarstyf, en wanneer Luna, warm op die spoor van die ontvoerders, self in hulle kloue beland kan jy doodeenvoudig nie ophou lees voor die laaste bladsy nie.
Daar is al wyd gedebateer oor wat ’n koper eerste aantrek: die skrywer se naam of die buiteblad? In die geval van Vermis, was dit vir my maklik: beslis die treffende buiteblad, want die skrywer, Jeanette Stals was vir my onbekend. Ek was baie vinnig oortuig dat die waarde nie beperk is tot die katoë en die effektiewe foto van 'n stegie nie. Die openingsparagraaf plaas die leser onmiddelik in die spannende scenario. Terwyl die ondersoek na Elodie se verdwying, onder leiding van Luna en haar halfbroer, Johan, uiteraard alle moontlikhede moet ondersoek, weet die leser reeds dat hier gemene spel is, en nie ’n tiener wat weggeloop het nie. Die spanning loop vinnig op, want allerlei euwels soos moetiemoorde en seksslaafhandel begin lyk na moontlikhede.
Die skrywer slaag uitstekend daarin om 'n veelvlakkige verhaal te skep, waarin die dinamika van die O’Neillgesin, hulle verbintenis met Conrad du Toit en sy seuns, en Elodie se verdwyning, verweef word tot 'n besondere leeservaring. Jeanette Stals se ongedwonge skryfstyl dra grootliks by tot die sukses van die boek, tog is dit nie arm aan beskrywende juwele nie, soos op bl 52: "Die akker- en plataanboom strek hulle takke wyd, verstrengel effens in die verdrag wat hulle gesluit het om die agtertuin koel te hou." Pragtige Afrikaans, sonder fieterjasies.
Ek gaan bepaald probeer om Katoog, die eerste Luna-verhaal, ook onder oë te kry, terwyl ek gretig wag vir ’n verdere toevoeging tot die reeks. Jeanette Stals is myns insiens ’n vars naam onder spanningsverhaalskrywers wat aanhangers van dié genre, gerus kan dophou.
Nee nee nee! Dit kan nie wees nie. ‘n Tiener meisie wat wegraak in Suid Afrika, is nooit ‘n goeie ding nie, of altans in enige land nie. Met die toename van moetiemoorde en seksslaafhandelaars, kan jy as ouer, se hele lewe van sy wentelbaan af geslinger word. Wat het gebeur met Elodie op pad terug na die gastehuis - maar ook, hoekom het sy rond geloop, meisie alleen en by wie? En wat se rol speel hierdie vriend, Conrad in hierdie drama? Is hy rerig so onskuldig soos wat dit voorkom want hoekom is hy so besorg oor Gwen? En Elodie se pa, hoekom laat staan hy nie sy werk en ondersteun Gwen in hierdie onmenslike situasie nie of is dit net sy manier van “cope” in hierdie situasie. Die boek het heel stadig begin, waar jy die gevoel kry dat Jeanette Stals probeer het om bladsye vol te maak, maar so teen die helfte van die boek, verander dit na ‘n boek wat jy nie durf waag om neer te sit nie. Spanning loop hoog en bly sommer hoog. Ek was vriendelik verras met die boek en hoe dit geeindig het. Welgedaan Jeanette Stals!
Vir my wat nie regtig 'n entoesiastiese spanningsleser is nie, het Vermis steeds geboei, want ek was geinteresseerd in die verhoudings binne die gesin. As jy 'n beter spanningsleser is as ek, sal jy die boek sekerlik baie geniet.