Lilly is oortuig dat haar buurman Matt ook gevoelens vir haar het. Maar dan trek sy eksvrou oornag by hom in en boonop praat hy gereeld van die nimlike “Selene” wie sy nog nooit met die oog gesien het nie.
Met haar nuutste boek, Dans met ’n maangodin, voeg Rosita Oberholster nog ’n suksesvolle Romanza by haar groeiende lys van titels. Diegene wat nie Romanza Klublede is nie, maar ’n lekkerlees romanse waardeer, kan hierdie een gerus aanskaf. Die skrywer het ’n vloeiende en effektiewe skryfstyl, met afwisselende paragraaflengtes en skroom nie om bondige sinne te gebruik nie. Die dialoog is ook deurgaans goed hanteer.
Wat die storielyn betref, het ons hierdie keer te make met die held wat nie verby sy vooropgesette voornemens kan sien nie. Teleurstellings het hom blind gemaak vir liefde, maar by die aantrekkingskrag van Lilly, sy Selene, kom hy nie verby nie. Lilly, op haar beurt, maak reeds vroeg vrede gemaak daarmee dat sy vir Matt onherroeplik liefgekry het, maar dat sy hart nooit hare sal wees.
Dit was ook interessant om Lilly se transformasie te beleef, van ’n sjef met Michelin-ster-ambisie tot waar sy haarself bevind in Gatsfontein, en daar vir haar ’n nis uitkerf. Daar is ook ’n les te leer in hoe sy mense na waarde begin skat en in hulle lewens inploeg.
Dans met 'n Maandgodin is nog 'n heerlike Romanza op die rakke van Rosita Oberholster. Lilly is so te sê in sak en as na haar terugkeer uit Engeland waar haar droom om die gesogte Michelin-ster te kry in skerwe lê. Maar te danke aan 'n onbekende oom, erf Lilly 'n huis in Gatsfontein wat in die gatkant van die land is, met die voorwaarde dat sy vir 5 jaar daar moet woon. Maar soos die een deur agter jou toeslaan maak nuwe deure oop. Matt, Lilly se buurman begin ook nog by haar spook en boon-op vra hy haar om vir sy gaste vir 'n week lank te kom sjef speel op sy plaas, waar dit nie net kospotte is wat kook is nie. Dans met 'n Maangodin is 'n heerlike verhaal en ek het veral van die ontknoping gehou.
Ek is verslaaf aan Rosita Oberholster se skryfwerk sedert Troue in ’n towerbos. Rosita is egter soos goeie rooi wyn – met tyd word sy al hoe beter. In Dans met ’n maangodin skep sy karakters wat van die bladsye afloop en hulle kom tuismaak in jou hart. Jy sal nie spyt wees as jy dit koop nie.
'n Nuwe Romanza uit die pen van 'n gesoute liefdesverhaalskrywer.
Lilly kom ietwat stert tussen die bene terug uit Notting Hill, Londen. 'n Vreemde oproep stuur haar lewe in 'n nuwe rigting - sy bevind haarself onverwags op 'n dorpie genaamd Gatsfontein. Hier ontmoet sy 'n klompie unieke karakters wat gou in haar hart (sowel as die leser s'n) kruip. Sy loop haar ook trompop in Matt vas. Hoekom lyk hy so bekend?
Ek het die volgende tong-in-die-kies-gesprek tussen twee van Lilly se nuwe vriende baie geniet:
"Nols rol sy oë. "Jy moet minder Romanzas lees". Dora wip haar. "Wel, as jou pens nie so groot was nie, het ek nie nodig gehad om so baie daarvan te lees nie. Ek moet iéwers 'n bietjie romanse in my lewe hê, al is dit dan ook ander mense s'n. En jy dink seker ek weet nie dat jy hulle ook skelm lees nie."'(bl. 51)
Hierdie romanza is lekker ontsnapping vir 'n koue wintersdag. Na die eerste hoofstuk moes ek eers weer na Coenie de Villiers se Notting Hill luister - lees die boek en jy sal verstaan!
Kan die lewe nie maar so maklik wees nie. Ek wag ook nog vir ‘n oom van my wat ek nie rerig ken nie, om vir my ook so ou ietsie te los. Dit was ‘n baie lekker lees, met intriges wat jou laat wonder maar ons almal ken die resep, as hulle sty, gaan hulle tog bymekaar uitkom. Dit is ook definitief die geval met Lilly en Matt. Waar hulle mekaar “raakloop” in Engeland, tot waar sy hom ontmoet in sy huis. Sy begin ‘n suksesvolle restaurant waaroor almal mal is maar maak ook hartsvriende met Matt sê eksvrou. Lilly, met haar hart van goud, verryk soveel mense se lewe, dat sy amper haar liefde vir Matt nie wil erken nie. En dan moet die wulpse Stevie ook nog haar verskyning maak. Gaan Matt ook agterkom hoe hy rerig oor Lilly voel en dit vir haar sê? Welgedaan Rosita Oberholster, op nog ‘n suksesvolle boek.