Februarie, 1861. ’n Groepie trekboere maak naby die Gamagara-rivier in die Kalahari staning. Nie ver daarvandaan nie, lê Stilbos – ’n misterieuse bos sonder voëls, maar ook die skuilplek van die Doodsroeper, ’n onaardse wese wat uitroep voordat iemand sterf.
Kort voor lank word die geskende lyk van een van die boere in die bos gevind. Dit is ongetwyfeld moord en Soois Bruwer, ’n verloopte wetsman, word versoek om ondersoek in te stel.
Hoe dieper hy delf, hoe ingewikkelder word die saak en hoe meer besef hy dat hy eintlik maar bitter min van die mense óm hom weet. Op hul hulp kan hy ook nie juis reken nie. Daar is nou wél oom Albert Siener met sy vreemde visioene, maar daarvan verstaan Soois g’n snars nie. Dan is daar Nella Uys, ’n onkonvensionele, geheimsinnige vrou wat baie weet, maar min sê. En klein Krisjan Harmse wat die oplossing vir die raaisel ken, verraai niks.
Net toe Soois dink hy is op die regte spoor, roep die Doodsroeper weer en sit hy met ’n tweede lyk op hande. Nou moet hy alles inspan om die moordenaar vas te trek, maar ’n hele klompie verrassings wag nog op hom ...
Volgens skrywer, Rika Cloete, is Doodsroeper ’n historiese moordraaiselroman wat in die jaar 1861 afspeel. Sy help die leser spreekwoordelik voete vind deur eerstens ’n kaart van die streke van daardie tyd te wys, gevolg deur 'n lywige karakterlys. Ek sou dit later baie handig vind om die karakters, soos hulle voorgestel word, in gesinsverband te plaas. Soois Bruwer bevind hom in die onbenydenwaardige posisie om, as wetsman, belas te word met die ondersoek na die moord op een van die trekboere. Deur sy oë leer ken ons die mense met wie hy saamtrek. Daar is ’n ryke verskeidenheid persoonlikhede en aspekte soos onder andere bygelowe, heldersiendheid, demoniese invloede, drankmisbruik, wellus, verkragting en lojaliteit dra by daartoe dat ’n mens nie regtig die boek wil neersit alvorens al die raaisels opgelos is nie. Ek is geen geskiedkundige nie en sal my dus geensins uitlaat oor die geskiedkundige aspekte van die boek nie, maar dat dit ’n uiters interessante storielyn is, met veelvuldige verrassende onthullings, kan ek wel bevestig. Ek kry ook die indruk dat daar sorgvuldig nagevors is. Daar word baie interessanthede bygebring, soos byvoorbeeld die trek van groot troppe springbokke en gebruik van giftige plante. Die omgewing word pragtig beskryf, en die Stilbos net buite die laer, kry ’n misterieuse karakter. Voeg daarby die Doodsroeper wat telkens sterftes aankondig, en jy het boeiende, hoendervleis leesstof.
Die skrywer doen wondere met haar beskrywings van die Kalahari, die natuurlewe , die sterre, die storms... Ek het haar uitbeeldings van die lewe daar baie geniet
Ek het baie van die boek gehou, die manier wat alles beskryf word en hoe die karakters praat was vir my baie goed. Ek beveel hierdie boek definitief aan 🤍🤍🤍