In die land Gabriëllië het reeds dertien jaar verloop sedert daar enige teken van 'n Bergengel was en die jongmense glo byna nie meer in die bestaan van dié mitiese wese nie. Eron Verberger word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie en werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op 'n reis vertrek wat alles wat hy van die lewe in Gabriëllië weet, sal omverwerp. Kan Eron die sinistere steltstapper afskud en die smeulende Vuurstorm oorleef? Sal hy 'n mán kan word waarop sy pa trots is, of gaan die geheimhouding en skuld rondom sy pa hom uiteindelik vernietig? Meer nog: Sal Eron, terwyl hy die lewe met sy eie verstand en al honderd sy sintuie ontdek, heldersiende genoeg kan bly om nie die kleur van sy verbeelding te verloor nie?
'n Mistieke reisverhaal, 'n poëtiese en byna gewyde kunswerk in 'n literêre gedaante wat nog nooit tevore in Afrikaans teëgekom is nie. (rugteks)
Carina Stander (gebore in 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ’n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria werk sy ’n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Ná ’n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ’n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, Onthou.
Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ’n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif Lééf en finalis vir die AKTV-Mediaveertjie. Sy publiseer in versamelbundels en van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole. Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg en word in 2013 ook in Nederlands vertaal (Uitgeverij Athenaeum). Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ’n kinderboek deur ’n kleuter. Carina woon in die Tsitsikamma saam met haar man en twee seuns.
Carina Stander beweeg met Die bergengel op 'n literêre terrein wat vir my nuut is: nie alleen in Afrikaans nie, maar as leeservaring. Met enkele uitsonderings (soos Tolkien se The hobbit) het ek my nog nie juis op die terrein van die fantasie gewaag nie. En selfs al gaan ek nie noodwendig nou 'n grootskaalse leesreis in dié genre onderneem nie, sal ek beslis die volgende twee boeke in Stander se trilogie lees om te sien hoe dié pakkende verhaal uitspeel.
Haar verhaal oor die magiese, mitiese figuur van die Bergengel in die land Gabriëllië voer mee omdat dit enersyds so bekend is soos die groot kwest-verhale van die wêreldletterkunde (Gilgamesj, Die Odusseia, selfs Jan Terlouw se Koning van Katoren), en andersyds besonders en uniek is - die nuwe wêreld wat sy skep, die figuur van die klokgieter, die vermenging van ouwêreldse magiese elemente en aspekte van ons industriële gemeenskap, met gierige magnate en maghebbers ingesluit. Die konsep van 'n distopie is ook bekend - 'n toestand waarin sake ernstig skeefloop vir die bewoners van 'n land; daarby die redder(s) wat swoeg om omstandighede te verbeter.
Maar haar poëtiese uitbeelding van die nuwe wêreld en die volwassewording van die hoofkarakter Eron Verberger verseker dat Stander haar eie stempel op hierdie genre afdruk. Haar werk sal hopelik die weg berei vir ander skrywers sodat Afrikaans ook in hierdie niche in die boekwêreld sal opklink en nuwe lesers sal meevoer.
Carina Stander's second novel is a fantasy, the first part of a trilogy, which is unusual in Afrikaans. She uses familiar tropes from this genre, like a dystopia, the saviour(s) working to improve matters, rogue magnates and politicians enslaving the populace, the quest narrative, etc. She ensures her own voice through the world she creates, the unique problems and characters and mythology. Although I am not a practised reader of fantasy, I will surely read the whole trilogy. Her interesting characters and poetic language ensures that.
Die beste deel van hierdie besonderse boek was die uitsonderlike taalgebruik en woorde wat soveel kleur aan die storie gee. Woorde soos “slapsnaarkitaar”, “weersinwekkend”, “hoepelrokkies”, “duifgefladder”, “rotvelskoene”, “Diepseeduiwel”... beklemtoon hoe pragtig my moedertaal kan wees. Nie net is die storielyn solied nie, maar ook vol humor: “Na meer as n halfuur se gesukkel in die vriesende water het sy testikels gestuiptrek soos twee krimpvarkies wat gif ingekry het”. Hilarious.
Ek gaan eers n rukkie moet wag voor ek Die Wonderwese aanpak, wat geduldig op my boekrak vir my loer, want so pragtig soos wat hierdie storie was, het dit baie konsentrasie en fyn lees geverg om niks te mis nie.
Die begin van 'n epiese fantasietrilogie. Carina Stander kan skilder met woorde, en dit is moontlik die grootste trekpleister van hierdie boek. Dit is wonderskoon om te lees ...
... maar ook langsaam. Jy gaan geduld nodig hê (miskien, afhangende van watse tipe leser jy is). Ek het. Want dinge gebeur stadig. Ek verstaan wel dat die skrywer hier besig is om 'n wêreld te skep, kompleet met geskiedenis en legendes en sosiale strukture/dinamika en geografie, en sy doen dit baie goed in oortuigende detail.
'n Hoogtepunt vir my was die opbou van spanning en die ondraaglike gevoel van onheil in die aanloop tot die gebeure in Barbel. Fantasties oorgedra.
Dan weer het die laaste 40 bladsye of so van die boek vir my moeilik gelees. Dit is hier waar heelwat dinge die leser se aandag verg in 'n kort tydjie dat die liries-poëtiese skryfstyl hierdie leser so half gepootjie en laat verdwaal het. Ek moes behoorlik kophou om by te bly, en ek is nie heeltemal seker ek het nie.
Goodreads se drie sterre beteken "I liked it", en ek het inderdaad Die Bergengel geniet, veral die eerste twee derdes of so al was dit soms effe te omslagtig na my smaak. Daarna, hoe mooi die woorde ookal deurgaans was, het die aanhoudende beskrywings en vergelykings my leesgenot stil-stil begin ondermyn, want ek bly maar 'n storiegedrewe leser. Mooi woorde is gaaf, maar op 'n stadium moet dinge daadwerklik begin rigting kry en die pas moet versnel of ek gaan belangstelling verloor.
Die Bergengel het geen gelyke (sover my kennis strek) in Afrikaans nie. Dit lê die grondslag vir, ek is seker, dramatiese gebeure wat gaan volg. Ek verneem van 'n goeie bron dat die volgende boek, Die Wonderwese, aansienlik meer doelgerig en bloederig is. Goed so.
'n Baie interessante boek, sover ek weet die enigste van sy soort in Afrikaans. Dit laat my dink aan The Hobbit van Tolkien, wat my aan betref die beste van Tolkien se boeke. Die aantrekkingskrag van die boek is in die pragtige taalgebruik, die beskrywende woorde en werkwoorde is uiters oorspronklik, en eenvoudig net mooi. Dit demonstreer watter kreatiewe en kragtige taal Afrikaans kan wees. Hier en daar was enkele woorde wat bietjie vreemd opgeval het, maar dis so min dat dit geen afbreuk aan die geheel doen nie. Ek sien uit daarna om die opvolg in die trilogie in die hande te kry.
Hierdie is nie 'n "fair review" nie. Ek het begin om Bergengel te lees vir my pas gebore seun, Isak, so daar is baie min geslaap en baie gehuil tussen die lees.
Met dit gesê, ek het Bergengel glad nie geniet nie. Daar was pragtige stukke in die boek, absoluut besonders pragtige stukke. Maar so mooi soos die details was so ridiculous is die groter arc. Jared, regtig? Jared? Die amazing oer Bergengel? Jared. Dis 'n meandering doellose storielyn met interessante oomblikke. 'n geheime ondergrondse trein wat mens eers aan die einde van uitvind, hoekom gebruik hulle dit nie van die begin af nie? Hoe de F weet niemand van 'n trein, 'n full sized trein, onder hulle voete nie? Random Ooms wat presies die regte agtergrond het en miraculously opdaag met 'n oomblik te spaar. 'n nar wat ook 'n gevalle Bergengel is, wat ook n slawe magnaat is, wat ook die wêreld wil oorvat, wat tussen deur alles op 'n mission is om 'n seun te verlei na die "dark side" toe. Nie great nie.
75% deur die boek is daar uiteindelik 'n mission, vind die 8 what whats wat op een of ander manier belangrik is wat Eron vind deur om net randomly in 'n rigting in te begin stap.
Al rede hoekom ek nie een ster gee nie is dat daar werklik mooi paragrawe is. As daar net 'n groter plan was.
This entire review has been hidden because of spoilers.
Die taalgebruik, die woorde, dit is waar van die boek my gehaak het. Dit sê baie van Carina se taalvaardigheid - beter as baie.
Die beskrywing van die fyn detail, byvoorbeeld van die stokkies en blare en die kleur en klank van die water van 'n bergstroompie, is waar die boek 'n tweede haak inkry - dit sê baie van Carina se waarnemingsvermoë - ver bo gemiddeld.
Die donkerkant van die storie is se gewig is swaarder as die lig-kant, en vir my psige dalk te swaar - ek gaan nou boek twee lees, en ek hoop daai ballans trek ewe.
Wow, this book was absolutely stunning. The beautiful description of the world the characters inhabit makes you feel like you are walking right beside them, experiencing the sights, smells and sounds of the towns and wilderness they explore. The characters are beautifully written and continually grow and evolve as they are presented with challenges and choices. I found myself in the early hours of the morning, still reading, not wanting to put the book down, eventhough I knew I had to wake up early for my children.
Beslis 'n boek om te koop....mens WIL dit weer en weer lees. Ek volg die verhaal van Eron Verberger van die begin af en elke keer as die volgende boek gepubliseer word lees ek weer van die begin af. Die verhaal en beelde word net dieper, ryker en mooier vir my soos ek lees. Ek is baie lief vir Afrikaams lees en moet erken ek lees baie selde 'n boek twee keer. Die enigste ander skrywer wie se boeke ek elke paar jaar lees is Daleen Matrhee. Dis regtig wonderlik dat daar werk soos dié besonderse reeks in my hartstaal bestaan!
This book is a literary treasure based on a world filled with miracles and magic. It takes the reader on a wonderful adventure into a magnificent world where the reader is allowed to also do introspection and develop with the main character as he grows in wisdom. I can highly recommend all of the books in this series.
First time I read an Afrikaans fantasy and I am disappointed. I have no idea what Stander tried to said and the what the moral of the story was. Would not recommend it at all, felt like a total waste of time.