Sedert Madelein Rust se eerste boek, Die Dertiende Kaart, ‘n paar jaar gelede verskyn het, is ek ‘n getroue leser. Ek het baie uitgesien na Moordhuis, die derde boek in die reeks oor Renate Malan, forensiese sielkundige en vennoot in Malan & Coetsee Privaatondersoeke. Renate is ‘n interessante karakter met ‘n wavrag issues, waarvan haar pa, massamoordenaar George Hill – en sy genetiese nalatenskap aan haar – die gewigtigste is.
Moordhuis is myns insiens Rust se beste boek nog. Haar skryfstyl is geslyp, haar karakters eg menslik en ingewikkeld. Ek het die ontluikende verhouding tussen Renate en Stefan, haar vennoot en beste vriend, amper soveel geniet as die spanningselement.
In die openingstoneel besoek Renate in die middernagtelike ure die plaas Mooiplaats, waar ses mense grusaam vermoor is. Jakes Gainford, pa van die sewejarige tweeling wat saam met die Theron-gesin gesterf het, huur Malan en Coetsee Ondersoeke om die skuldiges aan die pen te laat ry. Hoewel die misdaad op die oog af soos ‘n tipiese plaasmoord lyk, meen Renate vanuit die staanspoor dat dit ‘n rookskerm is. Daar is te veel teenstrydighede: die wyse waarop die Therons se lyke gerangskik (of eintlik tentoongestel) is, die sedeermiddel waarmee hulle bedwelm is, en veral die feit dat die tweeling in die skuur vermoor en daarna met komberse toegegooi is, kompleet asof die moordenaar agterna berouvol was. Aan verdagtes is daar geen tekort nie: die Theron-egpaar se ouer seun en dogter, hul invloedryke vriende, of selfs Jakes Gainford. Het laasgenoemde Malan & Coetsee gehuur om sy skuld te verbloem? Sy vrou, Althea, se seuntjie uit ‘n vorige verhouding het immers onder verdagte omstandighede verdrink…
So boeiend soos die moordondersoek is, verhoog die spanning verder toe Renate uitvind dat iemand ‘n huurkontrak op haar lewe uitgeneem het – iemand wat hom/haar nie laat afskrik deur etlike mislukte pogings, foute, of haar berugte pa, George Hill, se beskerming nie.
Is jy ‘n sensitiewe leser? Bly dan liefs weg van Moordhuis. As jy egter ‘n liefhebber van spanningsfiksie is, behoort die onvoorspelbare plot en vinnige pas jou enduit te boei. Dit het my ‘n dag of twee van slaapdeprivasie besorg!