Skatryk Eduard Swiegelaar is sewe jaar gelede in die teenwoordigheid van sy sexy trofeevrou doodgeskiet. Jojo Richter moet uitvind wat werklik gebeur het.
Die moord op ’n gesiene ou bok, en sy jong blaar se moontlike aandeel daaraan, fassineer Jojo egter minder as die stories oor die weduwee se nuwe blyplek. Soos die storie van die haaslipseuntjie wat op ’n stormnag verdrink het, en sedertdien aan mense verskyn voor hulle sterf of verdwyn.
Wat op Crystal Crags gebeur, bly egter op Crystal Crags en so is dit al die afgelope eeu.
White trash gebore, is Zaan Mentz nou welaf ná haar man se moord. Sy voel uiteindelik veilig toe sy haar droomhuis aan die rand van ʼn misterieuse strandmeer koop – ver weg van haar stiefkinders se giftige dampkring.
Op die Crystal Crags-landgoed het verandering egter nog altyd die ongeluksvoël se ongebore kuikens aan die eiers laat pik en die Duiwelsdriehoek se gramskap gewek.
Terwyl Jojo die gebeure van ʼn enkele oggend ontrafel, dobber die geheime wat vir langer as ʼn honderd jaar verswyg is boontoe en in albei gevalle staan Zaan in die brandpunt.
Wilna Adriaanse: “Chanette beskik oor die vermoë om met baie drade te weef en aan elkeen van haar karakters ʼn unieke stem te gee.”
Paaiboelie is die vierde spanningsroman waarin Jojo Richter haar navorsingsvernuf inspan om moordenaars vas te trek. Paaiboelie se voorgangers is Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld.
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
Chanette Paul het die afgelope paar jaar bekendheid verwerf as een van die gewildste skrywers van spanningsfiksie in Afrikaans. Ek het dus met groot verwagting uitgesien na die verskyning van Paaiboelie. Paaiboelie speel af in ‘n denkbeeldige omgewing in die Overberge en beskik oor al die elemente om dit ‘n lekkerlees-ervaring te maak: ‘n beeldskone heldin, ‘n aantreklike manlike hoofkarakter, of twee. Die verhaal word ook gekenmerk deur aaneenlopende intriges en onvoorspelbaarheid. Daar is heelwat karakters in die boek en die karakterlys voorin help ‘n mens om kop te hou tussen al die intriges deur. Dit was lekker om weer vir Jojo Richter in die roman aan te tref waarin sy dan ‘n beduidende groter rol vertolk. Sy word deur Valk Richter (haar gewese man) en die se tweede vrou, Irene, of is dit Ie-ree-ne, genader om as konsultant met ‘n ondersoek by te staan. Gaan Jojo en Valk mekaar weer vind? Of is daar dalk ‘n ander liefde vir Jojo? Die leser sal maar self moet uitvind. Chanette se navorsing is soos gewoonlik uitstekend. Feite en fiksie word so verweef dat ‘n mens later nie meer weet wat is waar en wat is wolhaar nie. Nie dat dit regtig belangrik is om ‘n onderskeid te tref nie. Paaiboelie is ‘n lekkerlees boek wat met groot moeite neergesit gaan word. Chanette se aanhangers gaan Paaiboelie net soveel geniet soos die voorgangers.
Sonder skroom, kan ek sê dat Chanette Paul een van my gunsteling skrywers is. 'n Nuwe boek van haar is, soos julle weet, altyd 'n groot gebeurtenis hier op Lekkerlees Boekrak. En Chanette stel ons weereens nie teleur nie.
Jojo word in Paaiboelie weer gevra om haar speurvernuf in te span: hierdie keer moet sy probeer uitvind wat werklik gebeur het die oggend wat Eduard Swiegelaar in sy studeerkamer doodgeskiet is. Hy laat sy (nou welaf) weduwee, Zaan Mentz, agter. Zaan neem haar intrek op die Crystal Crags landgoed - hierdie landgoed lê binne die berugte Duiwelsdriehoek. Zaan word gou in die vreemde geheime en raaisels van Crystal Crags ingetrek.
Is die stories oor die sogenaamde 'paaiboelie' waar? Hoekom het so baie mense al hier verdwyn? En hoekom wil die misterieuse Estian Roth met so 'n ysterhand oor die landgoed regeer?
Mettertyd word Jojo ook by meer as net die ondersoek na Eduard se dood ingetrek - die Duiwelsdriehoek se tergende raaisels begin ook by haar spook.
Paaiboelie is die vierde boek waarin Jojo Richter verskyn en dis 'n groot lekkerte om haar in hierdie boek beter te leer ken. Sy is 'n unieke, kleurvolle karakter en nimmer weer sal ek na 'n bottel Southern Comfort kyk sonder om aan haar te dink. Wie weet, dalk wag daar selfs 'n bietjie romanse op haar...
Chanette Paul se aanhangers - asook lesers wat haar vir die eerste keer ontdek - kan gerus wees dat Paaiboelie net so lekker soos haar vorige boeke lees. 'n Sterk spanningslyn, unieke karakters, 'n pragtige milieu waarin als afspeel en 'n tikkie van die bonatuurlike - Chanette het weereens 'n wenresep beet.
Dankie tog Jojo is terug, en daar gebeur dinge wat haar selfs die Comfortjie 'n bietjie inruil vir 'n rosé! Paaiboelie het enduit geboei met 'n baie stewige plot en karakters wat van die begin af pirkkel. Wees gewaarsku: begin jy hierdie een gaan jy hom moeilik neersit!
In die outersnota maak Chanette Paul die volgende stelling: "Die Duiwelsdriehoek bestaan nie. Paaiboelie is niks meer as blote fiksie nie en wil niks meer as ’n lekker storie wees nie." Dit kom byna as ’n skok, want vir meer as vyfhonderd bladsye word die leser diep ingetrek in die vreemde leefwyse van die inwoners van Crystal Crags, word die Paaiboelie ’n skrikwekkende werklikheid. Jy moes kophou tussen die karakters wie se verhale so vervleg is dat dit byna ondenkbaar is dat dit die produk kan wees van ’n skrywer se verbeelding. Die karakterlys was ’n handige hulpmiddel, veral wanneer die karakters aanvanklik voorgestel word. Die kompleksiteit van die plot is weereens ’n bevestiging dat hierdie skrywer ’n meesterstorieverteller is. Wat spesifieke karakters aanbetref, wil ek noem dat Steyn Tredoux ’n baie welkome teenpool was vir die boosheid wat oral kop uitgesteek het, Zaan het my deeglik aan die wonder gehou, en Jojo was so eg-menslik dat mens van haar moes hou. As ek een stukkie raad mag deel, pak Paaiboelie aan wanneer jy redelik onverstoord kan lees, anders gaan jy frustrasie op die lyf loop omdat die storie deeglike aandag verg.
Wat ‘n boek! Dit het glad nie uitgedraai soos ek verwag het nie. Aan die begin was die boek so bietjie stadig maar as jy klaar is maak alles sin, of dalk nie?! Ek kan nou ook verstaan hoekom daar voor in die boek ‘n lys is van al die karakters want soms raak jy deurmekaar met almal, veral nader aan die einde wanneer die legkaart se stukke in mekaar begin pas. Soveel dinge het uitgedraai wat ek nie verwag het nie. ‘N vreeslike kinkel in verskeie kabels en sommer ‘n paar gebreektes ook met sterk slotte aan. Hierdie boek sal definitief aanbeveel. En Zaan, praat sy die waarheid of is sy maar net ‘n ongelooflike “aktriese”, wat haar eie liegstories begin glo. En die res van die mense wat in hierdie privaat sekuriteits “koningkryk” van die koning woon. Hoe veilig is hulle van die bose dinge wat daar gebeur. Lees hierdie boek. Dit is die moeitewerd!
Zaan Mentz, die weduwee van 'n skatryk Eduard Swiegelaar neem haar intrek op 'n elite landgoed, Crystal Crags, met sy eienaardige eienaar en nog eienaardiger inwoners. Jojo Richter is ook terug om die keer op aandrang van haar eksman se nuwe vrou 'n saak op Crystal Crags te ondersoek. Paaiboelie is 'n dig geweefde verhaal met kleurvolle karakters. Dis 'n heerlike lees met 'n sterk spanningslyn wat dit moeilik maak om neer te sit. Paaiboelie is beslis 'n moet lees vir Chanette aanhangers en nuwe lesers sal dit beslis ook geniet!