’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.
Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy.
Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieëlbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wêreldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.
Enormously successful writer and producer of South African soap operas, stage and film actor and film and television director. Trained at the University of Stellenbosch and the University of Potchefstroom, where he also taught acting for a while. In 1965 he joined PACT as a full-time actor.
His novel Spieëlbeeld was published in 2017.
He passed away on the evening of 25 September 2021 at the age of 79 after having tested positive for Covid-19 In July 2021.
Moeilike boek om 'n resensie oor te skryf. Die sinopsis hierbo lê die basiese intrige van die boek mooi uit, so ek gaan dit nie herhaal nie.
Die storie word vertel uit twee oogpunte: Joe Minnie, wat in die eerste persoon praat, afgewissel met 'n derdepersoonsvertelling wat al die ander karakters insluit en effens in die toekoms afspeel, met Minnie se storie wat dit geleidelik inhaal totdat die twee naby die einde bymekaar kom.
Die storie het vir my nogal lank gevat om momentum te kry. Eers hier iewers na bladsy 200 het dit my werklik begin insuig, en dis ook hier wat mens bietjie empatie met sommige karakters ontwikkel, wat 'n groter belang by die gebeure en die karakters se lot kweek. Jy begin jammer voel vir Joe Minnie, deels 'n rowwe kalant en deels 'n blosende softie wat net sy ouers wil help en homself sodoende in 'n wêreld van moeilikheid kry. Ook selfs vir Dolf Eksteen, tipiese rykgat wat stelselmatig ontnugter raak met sy lewe en begin besef dat daar belangriker dinge is as geld. Hy begin versoening met sy vervreemde eks-vrou en dogters soek en in die proses maak hy 'n klomp desperate vyande. En natuurlik Mammie, Joe se ma, vir wie jy net kort kort 'n drukkie wil gee en in haar oor fluister dat als oraait gaan wees.
Buiten hulle is daar 'n hele spul (meestal) ongure karakters, maar jy kan hulle self ontdek.
As 'n karakterstudie is dit puik geskryf, en om so 'n oortuigende stem in die eerste persoon aan 'n karakter soos Joe Minnie te gee is geen klein prestasie nie.
Op die ou end was die storie self vir my so half louwarm, maar hoe nader Joe se vertelling aan die hede kom en hoe meer desperaat sy situasie raak, hoe moeiliker raak die boek om neer te sit. Let wel die taalgebruik en seksuele beskrywings is kru, so sensitiewe lesers moet maar verby hou.