Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand. Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Iemand moet daarvoor boet.
Brand is die vyfde roman in Peet Venter se Thys Krige-reeks. Dis lekker om die boeke in volgorde te lees en te sien hoe Thys se verhaal ontwikkel, maar die boeke kan ook onafhanklik gelees word.
Thys is 'n voormalige speurder, maar werk nou vir 'n geheime organisasie. Die roman speel af teen die huidige politieke werklikheid in Suid-Afrika en was daarom vir my realisties en ontstellend. Soos wat ons van Venter leer verwag het, is daar 'n sterk spanningslyn.
Die titel, Brand, is meerduidig: Thys ontmoet vir Delaré BRAND en word saam met haar ingetrek by 'n komplot wat tot by die hoogste regeringsposte strek. Die mense van Suid-Afrika is keelvol en kom in opstand met betogings wat soms gewelddadig raak -die land BRAND. En dan is daar iemand wat probeer breek deur die BRANDmuur van die rekenaarstelsel van die organisasie vir wie Thys werk.
Thys se speurwerk lei hom na ontstellende bevindinge van korrupsie op alle vlakke en selfs die ontdekking van gedokterde traangas wat mense berserk maak. Dit lyk nie of die woord demokrasie meer op díé land van toepassing is nie.
Thys se lewe draai deurentyd om drie vroue: Liesl ( 'n IT-spesialis), Karen (sy halfsuster) en Delaré (wat gefassineer is met die donkerbewussyn van die web sowel as díé van die menslike psige). Thys probeer desperaat om hierdie vrouens in sy lewe te beskerm.
Die skrywer bied geen maklike oplossings nie en spaar ook nie die leser se emosies nie. Die roman is 'n donker, maar briljante uitbeelding van dit wat in die eksterne, politieke werklikheid kan gebeur, maar ook van die psigiese prosesse wat in mense se binnewêrelde plaasvind.
Thys Krige is 'n komplekse, unieke karakter en ek hoop ons sien hom gou weer!