Elf jaar gelede is Ella Neser se pa amper noodlottig gewond. En nou, jare later, word die skuldige, Arthur Wilky, weens goeie gedrag op parool vrygelaat. Binne weke is daar egter nuwe moorde – en van die slagoffers is voormalige tronkmaats van Wilky. Ella kan nie begryp hoekom haar speurderkollegas nie die verbintenisse tussen die verskillende moorde raaksien nie. Wat van die motlyke wat telkens by die moordtonele figureer? Selfs kaptein Silas wil nie ag slaan op haar vermoedens nie . . . In dié slotroman in die jongste Ella Neser-trilogie speel Karsten weer eens kat en muis met die leser. Wie ís die moordenaar, en waarom huiwer die Nommers-bendemitologie deurgaans soos ’n skaduwee op die rand van die verhaal? Chris Karsten, meesterverteller aan die woord, soos altyd.
Chris Karsten is op 9 November 1947 op Morgenzon in Mpumalanga gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal en behaal ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria (1970). Hy werk daarna as koerantjoernalis by Die Volksblad, Beeld en Rapport.
Chris is die skrywer van twee kinderboeke, Floris sapiens (1985) en Die jokkie wat met perde kon praat (1997). Hy ontvang die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) vir Floris sapiens. Sy eerste roman, Frats, het in 2007 verskyn, en is ’n jaar later met die ATKV-prosaprys bekroon.
As koerantman was hy in verskillende joernalistieke hoedanighede gemoeid by baie van die stories wat in sy Ware Misdaad-reeks opgeneem is. Van die titels wat sedert 2007 in dié reeks verskyn het, sluit in Riller in die raaisel, Opspraak deur moord, Dodelike vroue, Verlore onskuld en Boos en bisar.
Sy boek oor aktrise Charlize Theron verskyn in Mei 2009 en is in Afrikaans (Charlize: Ek leef my droom) en Engels (Charlize: Life’s One Helluva Ride) beskikbaar. Chris se tweede roman, Seisoen van sonde, verskyn in Junie 2009 by Human & Rousseau.
'n Pot kos wat stadig warm word maar nooit regtig tot kook kom nie en toe omgeskop word voordat enigiemand kan proe hoe dit uiteindelik smaak. Dis min of meer hoe ek Koms van die Motman sal beskryf.
Arthur Wilky, die man wat tronk toe is vir die skietery wat Ella se pa in 'n permanente koma geplaas het, word vrygelaat en maak kontak met Ella. Gevolglik gaan grawe Ella in die verlede oor die omstandighede van die skietvoorval. Nie lank nie, of verskeie mense wat bande met Wilky gehad het word een vir een vermoor.
Intussen leer ken ons Wilky, 'n komplekse karakter wat weereens netjies geskilder word deur Karsten, met veral die vertelling oor sy tyd in die tronk. En Ella sukkel met haar liefdeslewe en persoonlike dinge. En op een of ander wyse word die ondersoek na die moorde soort van 'n bysaak.
Daar is nie veel verrassings in hierdie boek nie (ek het by die eerste moord al geweet wie die enigste skuldige kan wees). Sommige goed krap, soos bv. Ella se kollegas se onverstaanbare onvermoë om die nodige waarde te heg aan die feit dat elke moordslagoffer direk met Arthur Wilky verbind kan word. Hoe kan sulke ervare speurders so 'n duidelike rooi vlag ignoreer?
Die einde, wanneer dit kom, is so skielik en stomp dat ek teruggegaan het en bladsynommers nagegaan het om seker te maak my kopie van die boek is volledig en korrek. Een oomblik is daar 'n aksie-sekwens wat dit duidelik maak dat 'n sleutelkarakter die volgende teiken is, en die volgende oomblik is daar 'n epiloog wat 'n aantal weke na die laaste gebeure afspeel, en blykbaar is die moordenaar iewers gedurende daardie tydperk dood. Huh? Hoe? Waar? Wat?
Na amper 500 bladsye se toewyding voel ek meer as 'n bietjie verraai.
Chris Karsten: meester van barokagtige detail; meesleurende verhaallyne; deurleefde karakters; dawerende klimakse; onverwagte wendings; kat-en-muis-spel met die leser; fassinerende feite wat moeiteloos verweef is. Koms van die motman is 'n leesplesier op vele vlakke.
Ek het gestoei deur hierdie boek. Die storie was vir my lank en uitgerek. Ek hou nie van al die anglisismes wat die skrywer gebruik nie. Na ñ lang opbou na die einde, was die einde vir my ñ antiklimaks.
Teleurgesteld. Ek's gewoonlik mal oor Ella Neser-verhale, maar hierdie een het nie lekker gewerk nie. Arthur Wilky was maar net te veel soos Abel in die sin dat ons as leser oorweldig word deur sy binnekennis van iets. In hierdie geval motte. Ek sou 'n skurk verkies met 'n ander tipe diepte.