Deborah Deysel, ’n operasangeres uit Suid-Afrika, bevind haar ’n jaar ná ’n skandaal in haar private lewe weer in Zürich. Sy kom gou agter dat sy nie haar verlede kan ontvlug nie, toe die dirigent wat saam met haar in die skandaal betrokke was, weer met haar kontak maak. Hy oorreed haar om hom by sy ateljee in die operahuis te besoek, waar hy ’n geheime musiekopname aan haar toevertrou. Luitenant Janek Baptiste van die Zürich-misdaadpolisie ondersoek reeds die moord op ’n televisiepersoonlikheid toe hy een aand Operahuis toe uitgeroep word. ’n Dirigent is dood in sy ateljee aangetref en die laaste persoon wat hom gesien het, is ’n operasangeres met wie hy eens op ’n tyd ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Twee wêrelde, opera en misdaad, kom teen mekaar te staan. Nog meer moorde volg. Die speurder en operasangeres span saam om ’n jare lange komplot oop te vlek. Dit lei tot ’n skokkende ontdekking. Van Isa Konrad se bekendste romans is die spanningsromans Die ondenkbare en Die soenoffer. Diva is haar elfde roman. Sy is in Namibië gebore en woon ’n geruime tyd reeds in Switserland.
sjoe, ek is so bly ek het hierdie jaar besluit om bietjie meer oopkop te wees. soos ek altyd se, is ek nie een vir liefdesstories nie, en as ek na die voorblad van hierdie boek kyk, het ek sommer aangeneem dit is 'n liefdesstorie. wys jou net - jy kan nie net 'n aanname maak nie.
wat 'n heerlike storie vol intriges en draaie wat jy nie verwag nie. ja, daar is wel liefde in, maar darem 'n hele paar ander dinge ook.
ek hou baie van isa konrad se skryfstyl, so ek sal definitief haar ander boeke ook lees.
"Elke opera, of dit ’n gelukkige einde het of nie, is inherent tragies, want dit het nie die permanensie van ’n skildery of ’n boek nie. In opera is daar geen môre nie." - Bl 295. Deur die oë en gedagtes van Deborah Deysel, ’n operasangeres uit Suid-Afrika, betree die leser die ryk wêreld van opera en klassieke musiek in Zürich. Haar pad kruis met dié van Luitenant Janek Baptiste, wanneer sy indirek betrek word by ’n reeks moorde in die stad. Die skrywer skram nie weg van moeilike onderwerpe nie. Wraak en vergelding vir onregte gepleeg teenoor kinders, ’n onheilige komplot wat jare later op makabere moorde uitloop vervleg soomloos met Deborah se terugkeer na Zürich en die hervatting van haar loopbaan aldaar. Isa Konrad se fenominale gebruik van taal, en haar vermoë om 'n multidimensionele intrige te skep, sorg vir ’n verhaal wat boei tot op die einde. Deeglike navorsing, maar ook eerstehandse kennis van die operawêreld van Zürich, van die stad, sy kultuur en sy geboue, sorg vir geloofwaardigheid. 4,5/5 vir ’n uitsonderlike lees.
Deborah Deysel is 'n bekroonde opera-sopraan wat haar in die middel van 'n reeksmoord bevind toe haar vorige minnaar een van die slagoffers is. Janek Baptiste is die hoof van die moordspan in Zurich wat die saak ondersoek. Dis 'n baie interessante storielyn en boeiende karakters. Die humor is baie fyn en uitstekend geskryf.
Baie goed geskryf en nagevors. Die karakters is so menslik. Ek kan al daai emosies voel, want dis so kennelik mens. Ek sal dit beslis aanbeveel vir lekker intrige saam met romanse.
Indien jy opsoek is na 'n boek propvol intrige, spanning, romanse en 'n paar goeie storie draaipunte, is "Diva" die boek vir jou! Die boek is goed nagevors en geskryf.
Deborah Deysel is 'n wêreldberoemde Suid-Afrikaans gebore operasangeres wat in Zürich woonagtig is. So suksesvol soos wat haar loopbaan is, dreig die verlede haar reputasie. Wanneer haar voormalige minaar, 'n beroemde dirigent, dood in sy ateljee in die operahuis gevind word, word sy onmiddelik in die ondersoek betrek aangesien sy die laaste persoon was met wie hy kontak gehad het. Luitenant Janek Baptiste word tot die saak betrek en sodoende word twee mense van verskillende wêrelde bymekaar gebring om die raaisel van die moord van die dirigent op te los. Die storie word meer ingewikkeld, wanneer Luitenant Janek Baptiste nog moorde met dié van die dirigent vergelyk en ooreenkomste in die lewens van die vermoordes vind.
Met die intreeslag, word 'n mens meegevoer na 'n ander wêreld. Ek is beïndruk met Isa Konrad se werk en sien uit om nog van haar boeke te lees.