Van 1981 tot 2014 skryf Cecile Cilliers rubrieke vir Beeld, De Kat en Sarie. Deur die jare het sy etlike bydraes vir verskillende bundels gemaak, maar Die ou vrou en die priester is haar eerste eie kortverhaalbundel. Verskeie klassieke temas word onder die loep dit wat in 'n huwelik ongesê bly tussen man en vrou, die verwikkelde band tussen ma en dogter, die oorweldigende blindheid van 'n eerste liefde, en bowenal die uitdagings van oud word. Die verhale spreek tot 'n breë gehoor. Baie leesbaar, met 'n diep menslikheid wat uit die stories straal.
Dis 'n wonderlike en mooi boek. Baie stil en stemmig. Cecile Cilliers is 'n paar maande na die publikasie van haar tweede kortverhaalbundel (aldus wat my internet soektogte aandui) dood. Dít is 'n vieslike verlies. Sy was hoogsbegaafd en ek wens die koerante het haar tyd nie so geëis nie. Altemits kon ons dalk 'n roman of nog kortverhaalbundels as troos geniet.
Cilliers se sinne is fyn skakeerd, amper Middeleeus in eenvoud en simbolisme. Pelse, kersoggende, woorde en dies meer word met 'n chirurg se oog deursoek na 'n sin, na iets bra psigoanalities. Haar woordeskat mag dalk aanspreeksvol vir 'n jonger leser van Afrikaans (ek bieg nou) wees, maar ek het die aanname waardeer, dat alle lesers van haar bundel noodwendig ook Afrikaans-liebhebbers is.
Cilliers skryf immers stories - hier is geen kaf en oortollige sinne om geykte storielyne op te smuk nie. Sy is nie 'n desperate digteres of 'n brandarm romansier wat lesers probeer vlei met gemaklike gedagtes en niksseggende lugkastele nie. Haar karakters se lewens en probleme is ernstig en wek net deernis vir diegene wie onder die sware las van menswees wil knak. Onsentimenteel word die lewe van 'n amper-wewenaar beskryf: sy vrou ly aan gevorderde Alzheimersiekte. 'n Ou vrou, 'n ateïs, en 'n priester is saam op 'n tehuis en moet moeilike vrae van die sin van die lewe, dood en geloof beantwoord. 'n Vrou onthou haar eerste, uiters verbode liefde as jong meisie: verlief op 'n skoolvriendin se pa en die magiese musiek wat hy telkens alleen in die klein tuin speel. Daar is ook vreugde. Orals! Vreugde aan die lewe wat nie die leser se vermoë onderskat en nonsens opdis nie.
Haar stories verskaf nét plesier en leesgenot. Hulle is so versigtig geskep dat dit nie anders kan nie. Absoluut aanbevelenswerd!
Die ou vrou en die priester en ander verhale – Cecile Cilliers
So tussen die merk van werksopdragte deur is ek dankbaar vir ‘n langnaweek wat darem gesorg het vir bietjie leestyd. Die ou vrou en die priester is ‘n samestelling van die 84-jarige Cecile Cilliers se kortverhale. Al veertien verhale word nou vir die eerste keer gepubliseer behalwe ‘ Brood’. Die taalgebruik en skryfstyl is uitstekend met storielyne wat ‘n mens laat nadink. ‘Koffie in die hand stap sy uit op die stoep. Kyk hoedat die dag breek. Rooi oopgebreek, granaat of waatlemoen, of ‘n mond wat oop rooi lag. Nie een van die geykte uitdrukkings beskryf die kleur van hierdie oggend se ooste nie’ p98
As jy lief is vir kortverhale, moet jy nie hierdie een ongelees laat verbygaan nie. Dis deurleefde verhale, oor die ouderdom, geestelike ervaring, sommer oor die dinge van die mensdom. Mens is so jammer Cecile Cilliers se stem is nou stil, maar so dankbaar dat sy op 84 vir ons hierdie kosbare bundel kon gee. NS. As jy nie van kortverhale hou nie, kan hierdie bundel dalk net die een wees wat jou gaan bekeer!
Ek was bevoorreg om 'n getekende kopie van my gunsteling outeurs te kry. Cecile Celliers kon skilder met woorde. Die bundel laat 'n mens dink aan jou mortaliteit veral in die tye van vandag. Elke mens het sy hartseer,sy herhinneringe en vrese.Die grootste geskenk is om daar vir iemand te wees. Cecile Ciliers het diep spore in Afrikaans getrap.