Jana is net drie jaar oud toe haar ma tydens ’n besoek aan Ierland spoorloos verdwyn. Op die Bolandse wynplaas Stormkloof treur KleinStorm oor sy pragtige vrou wat hom met haar fluitmusiek betower het. Jana verlang ook na haar ma. Snags roep die wind haar buitentoe, dieselfde wind wat ’n hele huis kan optel en anderkant die berge kan neersit. Maar Jana is nie bang vir die storm nie. As sy mooi na die wind luister, hoor sy die soet, hoë note van haar ma se fluit. Een so ’n stormnag ontmoet Jana vir !X’uri − ’n klein dogtertjie, bruin soos klip, met net ’n velletjie om haar heupe en ’n wit stringetjie krale om haar nek. !X’uri kom uit ’n gat in die grond waar die groot olienhoutboom se wortels eens was. !X’uri het gekom omdat dit tyd is om Jana se ma te soek. Stormkind is ’n betowerende, liriese verhaal oor verlies, vergifnis en die kulturele erfenis van die Boesmans.
'n Absolute magiese boek. Hierdie is een vir herlees. Die skrywer verstaan 'n stormhart in 'n mitiese, maar ook riële wêreld. Die verhaal begin met ’n storm in Afrika en eindig met ’n storm in Ierland, 'n sirkel voltooid. Die taalgebruik is liries en beeldend, die verhaal word beleef met al jou sintuie. Jy sien die weerlig, jy hoor die storm buite woed, maar dit laat terselfdertyd die storm in jou eie hart bedaar as jy tjoepstil sit en lees totdat jy jou eie hartklop hoor.
Die Boesman-mense se kultuur word slim verweef, maar mens vergeet nooit waar die verhaal afspeel nie.
KleinStorm van Deventer ontmoet vir Deidre O’ Donnell tydens ‘n koortoer na Ierland. Hy kon goed sing en sy het mense gefassineer met haar fluitspel, vir KleinStorm ook. Sy verlaat Ierland en gaan woon saam met hom op Stormkloof. Sy keer terug na Ierland om haar sterwende ma te gaan groet wanneer Jana net drie jaar oud is en verdwyn dan spoorloos. Dan ontmoet StormJana vir !X’uri, ‘n klein Boesmandogtertjie. Wat volg is die verhaal van ‘n vriendskap tussen twee dogtertjies, maar ook van die wat die voorouers ook met Boesmans gehad het. Stormkind vertel ook van mense wat nie geleerdheid het nie maar wel wysheid. ‘Skeelpiet weet wat hy weet omdat sy kop varkoor draai vir alles wat gesê en gedink word. Hy weet wat hy weet omdat hy met twee verskillende oë kyk na alles wat gebeur en weggesteek word’……’Ek kyk twee keer na dieselfde ding daarom sien ek méér’. P43 Stormkind is lieflik geskryf – vol emosie en pragtige taalgebruik. Die verhaal is tydloos en kan deur lesers van alle ouderdomme geniet word. ‘Die wind beweeg oor die hele aarde en sien alles wat gebeur’ p97
Jana se ma het verdwyn toe sy net drie jaar oud was. Syt gaan kuier in Ierland en het net soos mis voor die son verdwyn. Jana se pa, Kleinstorm, treur steeds oor sy vermiste vrou en dis asof die hele plaas, Stormkloof, saam treur. Jana verlang steeds baie na haar ma, maar wanneer die stormwinde oor die plaas begin waai, kan sy haar ma se fluit hoor in die wind.
Jana word soms StormJana genoem, sy's nie bang vir enige storm nie. Sy is inteendeeel baie lief vir storms. Een stormagtige aand, glip Jana uit haar bed en stap die storm in. By die grootste boom op die plaas vind sy ‘n maaitjie, !X’uri. Sy sê sy het gekom na Jana, want dis tyd dat Jana haar ma gaan soek.
!Xu'uri leer vir Jana hoe om te kyk, te luister, te ruik en die wêreld rondom haar op te let. Dis al manier hoe sy ooit haar ma sal kan opspoor.
My gedagtes: Ons het die boek in die maand se boekklub gelees en kon lekker oor dit gesels. Dit was maar ‘n bietjie vreemde boek met kort hoofstukkies, maar tog wou mens aanhou lees oor StormJana en die raaisel oor haar Ierse ma.
Pragtig geskryf, mens kan seker sê dit val in die genre magiese realisme.
Jana se ma raak weg in Ierland, en niemand weet wat van haar geword het nie. Stormkind vertel grotendeels hoe Jana met behulp van 'n boesmanmeisie !X'uri (spook/gees) leer hoe om dieper as die ooglopende en die aardse te sien en te hoor sodat sy haar ma kan vind.
Die boek sal nie in almal se smaak val nie. Dit is stadig en beskrywend. Daar is nie 'n drywende intrige of iets van die aard nie, so as jy sulke dinge nodig het om jou lees te geniet gaan jy dalk sukkel met die een.