Gifbeker – Irna van Zyl.
3.5/5
Sandra Dippenaar, die land se bekendste kosblogger, slaan dood neer in die deftige restaurant, Zebrdines. Na haar giftige resensies van restaurante, is sjef Zeb Tswalo een van die eerste persone wat van haar moord verdink word.
Speuradjudant Storm van der Merwe moet Sandra se dood ondersoek. Behalwe vir die moordondersoek moet sy ook tussendeur persoonlike probleme hanteer. Asof sy nie genoeg hooi op haar vurk het nie, is daar ook uitdagings by die werk en blyk dit dat die moordenaar nie net by een moord gaan stop nie.
Gifbeker is Irna van Zyl se tweede roman met Storm van der Merwe as hoofkarakter. Die verhaal lees maklik met dialoog wat by die karakters pas. Daar is ook interessante beskrywings en feite wat verweef word. Ek het lekker gelees en hoop om weer van Storm van der Merwe te hoor.