Elle se matriekjaar skop op ’n aaklige noot af. Daar is skielik probleme tussen haar en Alex, haar kêrel. En Gravitas het ’n nuwe waarnemende skoolhoof wat ’n veer vir die skooltradisies voel. Elle probeer red wat te redde is – maar dit kan haar dalk haar hoofmeisiebalkie kos …
Christien het grootgeword op Bloemfontein en Pretoria. Sy woon tans saam met haar man in Sandton. Sy het ‘n pro bono spraakterapie-praktyk en hou haar ook besig met toetsing, voorligting en terapie by ’n plaaslike parallelmedium laerskool. Christien is baie lief vir haar drie kinders, honde en leer al 30 jaar lank Frans. Kondensmelk is haar eerste boek.
Strikdans is die negende in die Elle Kroon- reeks deur Cjristien. Die keer is Elle, Refilwe, Shia en Celia terug, saam met al die ander vriendinne. Reeds aan die begin van hulle matriekjaar is daar ‘n paar uitdagings wat op hulle wag. Mevrou Bender beland in die hospitaal en in haar plek neem doktor Grimm waar. En sy van is nie verniet Grimm nie. Grimm is anti-hond, anti-kat, antisport, anti- pret en PRO-WISKUNDE! Gravitas word as eksperimentele skool geïdentifiseer om deel te neem aan die Primo Giro -olimpiade en doktor Grimm verwag niks minder as ‘n eerste plek van die skool nie. Strikdans wemel nes die voorgangers van Refilwe se pittighede en sêgoed. Voeg daarby die lojaliteit tussen vriendinne en ernstiger oomblikke en die eindresultaat is weer ‘n heerlike lees. Ma’s koop gerus die Strikdans as Kersgeskenk vir jou dogter. Ek sal jou egter nie kwalik neem as jy die boek skelm lees voor jy dit toedraai nie!