Reine Duvenage, ’n tweedejaar kunsstudent en finalis in die universiteit se debutantekompetisie, trek die aandag van ’n sluipjagter wat jong vrouens teiken. Sy oorleef ’n wreedaardige aanranding, maar hou emosionele en fisieke letsels oor. Pieter Taljaard, die speurder wat die saak moet oplos, se ondersoek lei hom na verskeie mans met wie sy in kontak was.
Gedurende haar herstelproses kwalifiseer Reine deur afstandonderrig as onderwyser. Sy aanvaar as Renette Mouton ʼn pos by ’n plattelandse hoërskool in die laeveld omdat die jagter steeds bedrywig is ná twee jaar.
Haar poging om anoniem te bly en nie weer ’n slagoffer te word nie, word bemoeilik toe mans uit haar verlede onverwags in die dorp opdaag en die sluipjagter haar opnuut begin treiter. Onseker oor die identiteit van die sluipjagter wantrou sy almal, ook Charl de Jongh, die finale jaar kliniese assistent wat haar behandel het, Jacques Ritsen, die verteenwoordiger van Frey Skoonheidshuis wat haar geborg het, Francois Booyens en Carlo von Brandis van Erasmus Foto-ateljee wat haar foto’s geneem het, en die ontwerper, Giorgio van Jolie Mam’selle Boetiek wat haar rok ontwerp het vir die debutantebal. Selfs Stefan Treurnicht, die blinde klavierstemmer lyk vir haar verdag.
Ondanks die teenwoordigheid van haar troue waghond beland sy weer in die sluipjagter se strik. Kan Pieter Taljaard die leidrade betyds ontrafel om ’n moord te voorkom?
Bets Smith het begin skryf omdat sy aan haarself wou bewys sy kon die storie wat binne broei op papier kry. Sy hou aan met skryf omdat sy in die liefde en in gelukkige eindes glo, en voel mense het in ‘n harde wêreld nodig om herinner te word daaraan dat die goeie nog kan seëvier. Omdat sy goedvoelstories skryf, is die hele skeppingsproses vir haar terapeuties. Selfs die skryf van spanningsverhale help om van aggressie en frustrasies ontslae te raak, want die skurke word aangekeer en ry op die ou end aan die pen. Sy is 'n afgetrede onderwyser wat tans in Reebok, in die Suidkaap bly. Hul uitsig op die see, en die pragtige omgewing is 'n inspirasie vir enige skrywer. Sy en haar man is reeds 39 jaar getroud. Hy verstaan haar giere en geite en ondersteun haar in alles wat sy aanpak. Haar twee getroude kinders met ’n eiesoortige humorsin hou haar voete op die aarde, en haar vier kleinkinders is 'n groot vreugde in haar lewe.
Sielkundige rillers is tans my gunsteling (sub)genre en ek het 'n voorliefde vir stories oor "stalkers" (sluipers). Ek het al uitstekende Engelse boeke oor die onderwerp gelees, onder andere Transgressions van Sarah Dunant, Tribute van Nora Roberts en onlangs die hoendervleis-grillerige The Book of You deur Claire Kendal. Verbeel jou my opgewondenheid toe ek sien dat Bets Smith - 'n vaardige skrywer van liefdesverhale asook romantiese spanning - se nuutste juis oor 'n sluiper handel. En die boek het beslis nie teleurgestel nie! Reine is 'n jooldebutante met 'n passie vir mishandelde of geteisterde vroue. Die feit dat sy juis vir dié "cause" geld insamel, verleen ekstra trefkrag aan die verhaal. Tydens die debutantekompetisie rig vreesaanjaende jagter sy visier op haar. Nie net is hy 'n psigopatiese narsis nie, hy is boonop 'n moordenaar wat homself beskou as 'n fynproewer van vroulike skoonheid. Die wortels van sy wreedheid teenoor beeldskone vroue lê in sy verlede en die leser leer sy versteurde gemoed ken omdat Smith sy perspektief met Reine s'n afwissel. Aanvanklik ignoreer Reine haar "bewonderaar", maar sy optrede laat haar toenemend bedreig voel. Sy lê 'n klag by die polisie, maar soos al te dikwels in die werklikheid gebeur, neem hulle haar nie ernstig genoeg op voordat dit te laat is nie. Ten spyte van Reine se voorsorgmaatreëls beland sy in haar sluiper se kloue. Dis hier waar dinge werklik interessant raak. Ek wil nie die kinkel in die storielyn verklap nie, net noem dat dit selfs vir my, 'n sielkundige-riller-vraat, verras het. Boonop het ek rêrig gehou van Reine: sy is 'n simpatieke hoofkarakter sowel as 'n gatskop "survivor" wat selfverdedigingstegnieke leer en weier om vir die res van haar lewe weg te kruip. Die leser hou asem op oor haar welsyn, veral wanneer sy kies om onder 'n nuwe naam in die Laeveld te gaan skoolhou, ver van haar eks-Recce pa se beskermende hand. Sy voel byna dadelik onveilig: word sy dopgehou of is sy paranoïes ná haar trauma? Kan sy die "nuwe" liefde in haar lewe vertrou of is sy besig om in 'n aantreklike monster se lokval in te loop? Smith slaag daarin om die perfekte balans tussen spanning en romanse te vind, geen maklike taak nie. Die spanning bly klim soos die storie vorder en my senuwees was gedaan toe die houvas-jou-hart konfrontasie eindelik kom. Ek het enduit gewonder wie die moordenaar is (daar was geen gebrek aan moontlike kandidate nie), tog het ek verkeerd geraai. My enigste kritiek is dat die teenwoordigheid van soveel mans uit Reine se verlede in die Laeveldse dorp darem net té toevallig is. Nietemin was die boek so boeiend dat ek gewillig was om "disbelief" te "suspend". Ek het dit binne enkele ure verslind en met 'n tevrede sug toegemaak. Dankie vir 'n heerlike leeservaring, Bets Smith, ek sien sommer BAIE uit na jou volgende boek!
Die winter het ditself met mening aangekondig en dit beteken mos dat ons Rakkers meer tyd vir lees het...
Ek is glad nie skaam om te erken dat Bets Smith se nuwe boek my vrekbang gemaak het nie. Ek moes na die lees daarvan vir 'n hele paar aande met die lig aan slaap. En nee, ek oordryf nie.
Reine Duvenage is 'n student en finalis in die jaarlikse debutantekompetisie wat voor jool plaasvind. Sy word geteister deur 'n man, maar niemand vat haar klagtes ernstig op nie - nie eers die polisie nie. Almal dink sy soek publisiteit vir die kompetisie.
Die sluipjagter speel wrede speletjies met haar en trek die net om haar al hoe stywer; en die skrywer trek die leser ook in hierdie maalkolk in. Die spanning bou op en op...
Hoe leef mens met die wete dat daar altyd 'n jagter op jou spoor is? Iemand wat genot daaruit put om boosaardige speletjies met jou te speel, om jou bestaan in 'n lewende hel te verander... Hoe ontsnap jy uit daardie kringloop?
Lees Kringloop - as jy dapper genoeg is! Dis beslis die naam spanningsroman werd. Bets Smith skryf góéd!
Kringloop (2018), is ’n speurdersroman deur Bets Smith what handel oor die teistering, ontvoering en agtervolging van ’n voormalige universiteit debutant finalis, Reine Duvenage. Die roman begin afspeel tydens die laaste dae van die debutant kompetisie, waar Reine en die ander finaliste die laste skoonheidsbehandeling, foto’s, rok aanpassings en borg finalisering afhandel.
Klem word alreeds in die begin geplaas op ’n onbekende figuur wat Reine teister, deur om ongenooid orals opdaag om met haar te gesels of net dop te hou. Dit rafel egter drasties uitmekaar wanneer die teistering verder ontwikkel tot ’n inbraak in haar universiteitswoonstel en later ’n ontvoering.
Die tydsverloop van hierdie gebeurtenisse gebeur verrassend binne die eerste vier of vyf hoofstukke, waarna die roman heelwat verdiep en die karakter, Reine Duvenage, sterk karakterontwikkeling ondergaan. Die aantal fokalisators neem ook toe. Na die ontvoering word die roman deur Reine, speurder Pieter Taljaardt en die reeksmoordenaar se perspektiewe verdeel.
Reg deur die loop van die roman is daar baie karakters wat as die ontvoerder verdink word, maar nooit is daar ’n bevestiging tot eers reg aan die einde van die roman nie. Waarna die roman tot ’n baie vinnige slotsom beëindig word.
Kringloop is ’n lekker gemaklike leesstof, wat jou sal boei en twee keer laat dink oor ’n mens se waaksaamheid. Dit lewer egter nie net kommentaar oor ’n individu se waaksaamheid nie, maar ook die samelewing se waaksaamheid oor mekaar. Op die ou end is dit die samelewing se waaksaamheid wat die grootste verskil gemaak het.
Op ’n skaal van sensitiwiteit ten opsigte van grafiese, geweldadige tonele, sou ek myself gemaklik ’n agt uit tien gee, net kort duskant die punt waar jy nagmerries gaan kry daarvan. Die proloog van Bets Smith se nuutste spanningsroman, het my beslis tot by die punt gebring waar ek byna wou bes gee. Sensitiewe lesers, dit is nou dié erger as ekself, moet liefs verby hou. As jy dit egter kan verduur, of daarop floreer, beveel ek aan dat jy Kringloop aanskaf.
Uiteraard is spanning die essensie van die verhaal en dit word deurentyd gevoed deur selfs oënskynlike onbenullige insidente, maar wat vir die prooi van lewensbelangrike relevansie is. Verskeie karakters kom sterk onder verdenking synde die jagter te wees, en die leser bly wonder, beleef die prooi se angs.
Wat skryfstyl aanbetref, het ek die boek baie meer geniet as die een vroeëre werk van die skrywer wat ek gelees het. Sy skep ruimte effektief, sodat die leser die omgewing as element van die verhaal, deurentyd beleef. Oor die plaas in Namibië, het sy dit byvoorbeeld: "As sy haar oë vernou totdat die opstal verdwyn en die lyne net-net uit fokus swem, word dit die ruimtelandskap van ’n onbewoonde planeet."
Kringloop is ’n verhaal wat boei. Dit spreek die relevante kwessies van afknouery aan, maar veral geweld teenoor vroue en kinders en raak aan die sielkundige kwessies wat dit dikwels onderlê. Dit bring die leser, saam met die prooi, by die punt waar vrees oorgaan in angs, of was dit andersom? Lees gerus en vind uit.