Die digter Ingrid Jonker was 31 toe sy in die vroeë oggendure van 19 Julie 1965 verdrink het, al beweer bronne sy was 'n jaar ouer. Vandag bespiegel mense steeds oor menige ander feit rondom die lewe en die fassinerende figuur.
Meer as 50 jaar later verskyn hierdie eerste omvattende biografie van Jonker: die dogter van 'n stoere volksraadsld getroud met 'n vrou uit die Afrikaner-adel; die minnares van bekende skrywers en kunstenaars; die enkelouer sonder 'n vaste heenkome vir haar en haar kind; maar veral die digter wie se aansien na haar dood steeds toeneem.
Hierdie toeganklike biogtrafie vertel Jonker se lewnensverhaal: Met haar ma wat in inrigtings opgeneem is, word Ingrid as dogtertjie deur haar ouma versorg. Sy tree kortstondig in die huwelik met die pa van haar meisiekind, terwyl haar digterstalent met die aanmoediging van 'n boheemse vriendekring ontwikkel. Haar ontstuimige liefdesverhoudings met onder andere die skrywers Jack Cope en André P. Brink word breedvoerig beskryf; ook haar angswekkende laaste paar uur en die kontrovesie daarna.
Nuwe inligting uit brieewe, dagboeke en opnames van gespreke met vriende en familie kort na haar dood dra by tot hierdie verhaal van vlees en bleod oor een van Suid-Afrika se aangrpyendste kultusfigutre.
Petrovna Metelerkamp is 'n Suid-Afrikaanse skryweres. Sy het die afgelope sewentien jaar as uitgewer gewerk maar skryf tans voltyds. Sy is ook joernalis en radio-omroeper en was op die redaksie van die tydskrifte Huisgenoot en Insig.
Oor Vlam in die sneeu het ek gesê. Dit is om verskeie redes vir my die boek van die dekade. Dit het baie emosie in my wakker gemaak. Enersyds beny ek Brink en Jonker vir hulle verstommende konneksie, daar is min mense wat die voorreg het om so 'n sielsmaat te ontmoet, andersyds was ek kwaad. Ek het ook mislei gevoel. Ingrid Jonker is in álles nog altyd uitgebeeld as hierdie emosioneel onstabiele mens. Ek sien niks daarvan nie, inteendeel. Noudat ek die boek meer as 90% klaar het, vind ek Ingrid meer gebalanseerd en volwasse as vir Brink. Die teendeel is altyd aan ons voorgehou.
(On)gelukkig was Petrovna Metelerkamp se Ingrid Jonker - 'n Biografie baie meer objektief. Waar die briefwisseling tussen Brink en Jonker slegs hulle eie subjektiewe ervarings van hulle leefwêrelde weergegee het, kon 'n mens nou 'n baie meer gebalanseerde prentjie kry, uit elke moontlike hoek, uit die oogpunt van vriende, vyande en familie.
Dit was ook vir my bietjie ontgogelend in die sin dat ek enige verromantiseerde weergawes van hulle verhouding wat oorgebly het in my kop, kon laat gaan. Ek is van alle illusies ontneem oor my gunstelingskrywer van baie, baie jare. Hierdie sin uit die boek het my laat koue rillings kry:
"André sê in 'n brief aan Ingrid hy het by 'n advokaatvriend raad gevra oor die proses van egskeiding - en betrap homself dat hy (in 'n roman) iets hieroor sal wil skryf. Hy vra of dit harteloos is as mens jou eie lyding en jou lewe so objektief bekyk dat jy gedurig bewus is van 'literêre moontlikhede' daarin."
Brink se reaksie na haar dood, om dit met entoesiasme te koppel aan die einde van Orgie, het my doods laat voel. Ontdaan van al die emosies en bewondering vir beide Brink en Jonker, kan ek uiteindelik nou bloot kyk na hulle skryfwerk en hoe ek daaroor voel. Soos dit hoort, om hoe ek voel oor die persoonlike lewe van die skrywer, van sy kuns te skei.
Ingrid Jonker se lewe was egter soveel meer as net haar verhouding met Brink, en daarin het Petrovna Metelerkamp uitstekend geslaag, om hierdie verhouding in perspektief te plaas binne die groter opset van haar familie en vriendekring.
In die Voorwoord skryf Petrovna Metelerkamp "Ideaal gesproke word dit ['n biografie] 'n roman wat die leser nie wil neersit nie." Dit het sy ongelukkig nie reg gekry nie. In haar poging om 'n volledige en uitputtende biografie te skryf het Meterlerkamp soms in vervelige detail oor Jonker se lewe geskryf. Ek voel Meterlerkamp se skryf styl het ongelukkig nie die lewendigheid van Jonker en en haar vriende vasgevang nie. Dit is wel vol gepak met informasie en by die einde van die boek het jy meer insig tot Jonker se lewe en wat sy deur is.
Met hierdie biografie het Petrovna haar beste werk uitgestal. Ná Vlam in die Sneeu wou ek méér weet van Ingrid en ek is bevredig met die lees hiervan. Ons Ingrid-aanhangers kan onsself gelukkig ag dat daar ʼn Anna was wat kon onthou wat Ingrid nie meer met ons kan deel nie. Lank lewe Ouma! Daar is ongelukkig steeds baie Abrahams wat hier tussen ons ronddonder.
Impressive in its detail, but often overwhelming in its minutiae, this chronicle of the tragic life of Afrikaans poet Ingrid Jonker is an essential reference for anyone interested in her work.
'n Artikel van Charles Smith (10 Julie 2018/https://www.netwerk24.com/ZA/Stronk/i...) lui, " (hierdie boek) ... is wat die Hollanders noem 'n uitputtende biografie. Dit beteken die volledige biografie. Ek dink ek het die bronne uitgeput." Of , om Herman Lategan aan te haal: "die meesterlike laaste woord oor Ingrid Jonker," albei met die gevoel dat "talle" nuwe bronne bygevoeg is. Janet Malcolm wat in 1995 ’n soort “biografie” oor Sylvia Plath en Ted Hughes geskryf het, bewys dat so iets eenvoudig onmoontlik is. Nie net is die navorsers verskeie jare (en veranderinge/ontwikkelinge) later daarheen waar hulle probeer het om ’n gevoel van die digter se lewe te kry nie, maar die agtergeblewenes was óf nie bereid om daaroor te praat nie (bv. Jack Cope), óf het vergeet wat werklik gebeur het (bv. Uys Krige, wat tydens 'n motorongeluk erge harsingskudding opgedoen het). Kyk maar net na die ironie van Simone Simmons se "The Last Word", 'n boek wat oor Prinses Diana geskryf is en in 2005 uitgegee is ...
Hierdie leser het heelwat navorsing oor Ingrid Jonker (o.a.) gedoen en is opgewonde oor die nuwe inligting (hoe skraal dan ook) wat bygekom het. Daar is egter nie genoeg "nuwe" materiaal om die basiese narratief rondom Jonker se lewe te verander nie. Daar is groot gedeeltes van die boek wat gemaklik Jonker se verhaal vertel, voordat mens struikel oor Meteleterkamp se "beterweterigheidsperspektief" met kommentaar dat dié of daardie navorser nie weet waarvan sy/hy praat nie. In hierdie opsig is haar Beeld van 'n digterslewe soveel beter. Die gegewens word voor die leser geplaas om sy/haar eie opinie te vorm. Aangesien Metelerkamp meen sy weet meer as die meeste mense, of hoop ten minste om die gesaghebbende aangaande Ingrid Jonker te wees, meen sy sy kan ander se opinies in hierdie boek vergelyk, of selfs weerspreek. Dit is onduidelik wat Metelerkamp se agtergrond is, en haar pogings om op sielkundige gebied uit te wei beïndruk nie. Wat ook steur is wanneer sy haar trant onderbreek met iets wat tydens die skryf van die boek gebeur het, voordat die verhaal skielik terugspring na die 1960s, of wanneer die ek-spreker uit die bloute op die bladwit verskyn, net om weer op die agtergrond te skuif (soos dit hoort).
Metelerkamp skets Brink as 'n uitbuiter van Jonker se onskuld en talent*, tog spring sy voor enige ander navorser in om na 50 jaar hierdie boek aan te pak - asof sy stilletjies op haar prooi gewag het en die eerste is om 'n boek daaroor te skryf. Die feit dat sy ook seker maak om Gerrit Komrij se "koffers" (twee tasse inligting wat kort na Anna Jonker se dood die land uit is) self op te soek, spreek aan die eenkant van deeglike navorsing ... aan die ander van iemand wat wou seker maak niemand anders is haar voor nie.
Dalk 'n "uitputtende" biografie, maar beslis nie die laaste woord nie.
*Na my mening is Vlam in die sneeu eweneens 'n uitbuiting van iets kosbaars tussen twee verliefdes wat nooit aan die groot klok gehang moes word nie.