Kassie en Rooi is nou in die Spesiale Spookeenheid - 'n elite SAPD-groep. Maar as oud-stasiespeurders word hul vaardighede ernstig bevraagteken deur hul nuwe bevelvoerder. Wanneer 'n Amerikaanse wetenskaplike in 'n Waterfront-hotel vermoor word, is dit 'n gulde geleentheid om hul staal te wys, tussendeur 'n Washington-gekonkel, 'n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet in Kaapstad en duisterhede in hul bevelvoerder se persoonlike lewe. En dan's daar die man met Die Drang . . . en sy kettingsaag.
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.
Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.
In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg), en word opgevoer by al die groot Afrikaanse kunstefeeste. Die Begrafnis verskyn ook in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.
Sy debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.
Hy skilder ook die afgelope 26 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.
Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.
3.5 sterre. Dis altyd lekker om bietjie saam met Kassie uit te hang, alhoewel ek gevoel het Ys het so bietjie stadig begin. Rudi van Rensburg se boeke het altyd 'n interessante agtergrond waarteen die storie afspeel en die politieke- en omgewingskwessies wat in hierdie boek uitgelig word was weereens iets waarvan ek bitter min weet.
Wat hierdie reeks besonders maak is die hoofkarakter self, met geen van die gewone stereotipiese "poliesman" gedrag nie, sorg hy vir baie vermaak. Maar moet nie dat sy rooi windjekker jou flous nie, daar is nie 'n saak wat hy nie kan oplos nie.
Ek het myself in die begin van die jaar belowe ek gaan hierdie jaar meer Afrikaanse boeke lees en nou is ons in Augustus en my telling is ‘n skamele 4 boeke – dis ‘n skande!
So ek het by ‘n vriendin arms vol Afrikaanse boeke gekry wat ek nie kan wag om te lees nie, en hierdie boek was een van hulle.
Die deursnit rating van hierdie reeks is 4 sterre maar hierdie een het my nie so vining gegryp soos die vorige boek nie.
Ek het nog steeds die manewales van Kassie en Rooi geniet en teen die einde van die boek was die pas baie vining en boeiend alhoewel dit so plek plek gegrens het aan die ongeloofwaardig.
Soos altyd is dit ‘n ongelooflike plesier om in my moedertaal te lees en ek sal verseker aanhou met die Kassie reeks.
Die boek het 'n goeie 120 bladsye geneem om my in te trek. Die verskillende storielyne sukkel aanvanklik om spoed te kry en ek is bly die sterk Amerikaanse ondertone aan die begin het later na die agtergrond verskuif.
Vir my bied Rudie van Rensburg se boeke ligte maar boeiende spanningsvermaak wat amper aan ontvlugting grens (soos daardie ou TV speurreekse uit die tagtigs), en wanneer Ys wel aan die gang kom is dit presies wat jy kry. Rooi en Kassie bly steeds vir my twee karikature (mal oor hoe hulle bv. elke keer as hulle neerslaan daarin slaag om hulle vuurwapens te verloor).
Ek het wel 'n foutjie opgemerk waar daar later in die boek terugverwys word na 'n patroondoppie wat op 'n toneel gevind is waar daar een skoot met 'n rewolwer geskiet is. 'n Rewolwer spoeg natuurlik nie patroondoppies uit soos 'n pistool nie.
Druk deur die stadige begin en Ys word 'n lekker moeitelose lees wat heelwat vermaak verskaf.
Uiteindelik 'n waardige opvolger vir Deon Meyer! Rudi van Rensburg se pas is snel en die verskillende subplotte pas mooi inmekaar. In Kassie Kasselman het hy 'n geloofwaardige en aangename hoofkarakter geskep.
Rudie van Rensburg was daarvoor verantwoordelik dat ek Sondagoggend met ‘n YS-like (Pun intended) boekbabelas wakker geword het. Kassie en Rooi is terug om ‘n nuwe moordsaak te ondersoek, maar die keer as deel van die SAPD se nuwe elite-speureenheid, of te wel, die Spesiale Spookeenheid. Die kombinasie van verskillende storielyne, relevante navorsing en ‘n gemaklike skryfstyl sorg vir ‘n boek wat in een sitting klaar gelees MOET word. Soos verwag kan word, is daar natuurlik ook ‘n kinkel of twee in die kabel.
Kassie en Rooi het die kans van ‘n leeftyd – om in die splinternuwe elite speurders eenheid in die Kaap te werk. Ongelukkig het hul na 6 maande nog nie hul eerste saak nie – hulle help maar die ander 4 speurders en doen ‘n paar leierskaps kursusse so tussendeur.
Intussen is daar ‘n groot Amerikaanse senator wat deur allerhande onderhandse maniere die wet op omgewingsbeskerming wette probeer keer. Hy het belange in al die olie in die Noordpool en sal enigiets doen om dit reg te kry. Hy reel ‘n huurmoordenaar om te keer dat iemand te veel sê by die omgewings konferensie in die Kaap, maar dinge loop egter skeef vir die arrogante ryk man en dis nie lank nie toe is Kassie en Rooi op die spoor.
Soos ‘n tipiese Kassie Kasselman boek, is niks so eenvoudig nie. Te veel mense begin verdwyn, word vermoor en word ingesleep by die hele groot gemors en Kassie moet omtrent bontstaan om sy reputasie as bobaasspeurder te behou. Met 'n streng nuwe baas, die FBI en al die groot koppe in die Polisie wat die saak dophou, moet Kassie en Rooi wys waarvan hulle gemaak is.
My gedagtes: Sjoe, wat ‘n spannende boek! Ek het hom omtrent verslind! Ek het wel ‘n paar van die senator se emails begin skip toe dit vir my vervelig raak om te lees, maar toe ek die boek neersit kon ek uiteindelik ‘n groot sug van verligting gee. Ek sien uit om die volgende Kassie Kasselman boek te lees.