In die loop van 1876 kom verskeie groepe Transvalers by die samevloei van die Krokodil- en Maricoriviere aan met die idee om na Damaraland te trek. ’n Land wat hulle net uit die stories van jagters ken. Om daar te kom, moet hulle ’n stuk waterlose Kalahari, bekend as die Dors, oorsteek. Maar die magstryd tussen die voormanne van elke groep om die hoofleier van die trek te wees laat die trek op ’n ramp afstuur, lank voor hulle die Dorsland binnegaan. Anderkant die dors wag daar nie ’n land van melk en heuning nie, maar koors, tsetsevlieë, olifante en leeus. ’n Land vir mense wat uit hardekool se hout gesny is. ’n Land vir mense wat die dood kan vat en kan doodmaak sonder om ’n oog te knip.
Dors is die verhaal van die bekende Dorslandtrekkers, waarvan die meeste mense seker bewus is, maar van wie ons eintlik baie min weet. Die skrywer het werklike historiese figure waaroor sy massas navorsing gedoen het, gekombineer met fiktiewe karakters en so 'n spannende verhaal geskep. Moet net nie verwag dat jy net van 'n klomp dapper helde gaan lees nie. Die karakters word in hulle volle menswees geskep en dit is duidelik dat die ongelooflike lyding en lewensverlies hoofsaaklik a.g.v. van die mans se leierskapstryde en koppigheid was. En dat die vroue en kinders (en ook die bediendes en trekosse) dalk meer gely het as hulle. As jy Marinda se vorige boeke (Wilhelmina Radebe kom tuis en Amraal) geniet het, is hierdie een vir jou. Ook as jy oor die algemeen historiese romans geniet. Geskiedenis is Marinda se vakgebied en sy ken haar materiaal. Dors is met die presisie van 'n akademiese tesis aanmekaargesit, maar dit lees soos die spannende roman wat dit is. En ja, daar is darem 'n bietjie liefde ook om die lyding te temper.
Dors speel af van Junie 1876 tot November 1878. ‘n Groep mense kom bymekaar in die omgewing van die Groot Marico- en Krokodilrivier om dan saam onder leiding van Jan Greyling na Damaraland te trek. Daar is gerugte dat die Britte Transvaal gaan beset en dit verhaas hulle planne om te trek. Nie net moet hulle die natuurelemente aandurf nie, maar ook die onderlinge magstryd. Dors fokus meer op die vroue se perspektief as ander boeke wat oor dieselfde tydperk handel. Marinda van Zyl is ‘n geskiedkundige en dit blyk duidelik dat sy baie navorsing gedoen het. Die skryfstyl is egter baie gemaklik en dit voel nie soos ‘n geskiedenisles nie. Die verhaal het my net weer laat besef dat ek op geen ander tyd wou geleef het, as juis nou nie! Dors spog ook met ‘n baie kreatiewe voorblad wat baie van die elemente van die verhaal saamvat. Maar Gustav druk deur. “Daar’s nog tyd om te besin. Onthou net, probleme is soos ‘n mense se skaduwee. Dit volg jou net waar jy gaan.” P74 Dis die ander dors waarvoor ek bang is, die soort wat jy nie met water kan les nie. p88