Die vyfde boek in Irma Venter se S-reeks is hier. En soos 'n wafferse sweefstokarties neem sy jou met Sirkus saam na duiselingwekkende hoogtes. My senuwees was klaar!
Sirkus neem ons terug na die laat tagtigs en Adriana van der Hoon se agtiende verjaarsdag - die dag waarop haar lewe vir altyd verander. Sy raak verstrengel in die nette van die veiligheidspolisie, ANC en die Education Trust waarvoor haar pa jare lank geld insamel. Sy word gedwing om na Berlyn te gaan. Hier ontmoet sy onder andere vir Yasen Todorov en leer om die kuns van messegooi te vervolmaak. Kort voor lank tree sy as kunstenaar op in 'n Sirkusklub. Hieruit leer ons Adriana se karakter, soos ons haar in die vorige boeke ook leer ken het, beter verstaan: "Ons is vreemde wesens afkomstig uit 'n vreemde wêreld. Die mense wat jy verwag om te sien as jy na die sirkus kom. Buitestanders en vreemdelinge. Mense na wie jy wil staar, ander van hulle wil vertel. Mense wat jy dalk wil ken, maar beslis nie wil wees nie. Dis vreemd, maar ek voel tuis hier." (bl. 231)
Die vertelling beweeg moeiteloos tussen verskillende tydslyne (die tagtigs en die hede) asook tussen twee vertellers (Adriana en Ranna). Baie van die onopgeloste vrae uit Venter se vorige boeke word in Sirkus beantwoord.
Die skrywer skep op meesterlike wyse spanning regdeur die verhaal en daar is meer as een naelbytsituasie. Teen die einde het jy van alles om jou vergeet soos wat jy die bladsye koorsagtig omblaai om antwoorde te kry. Irma Venter is 'n sterk stem in ons huidige korpus van spanningsverhaalskrywers - nog meer, sy is een van die bestes.