Die enigmatiese Mike neem vir Sersant Luna Joubert, en haar geliefde halfbroer, Johan, saam met hom Mauritius toe op een van sy geheime sendings. Om hulle veiligheid te beskerm, deel hy geen detail met hulle nie, slegs dat hulle ’n front moet voorhou van vakansiegangers, en dat jy en Luna verloofdes is.
Sommer binne die eerste bladsye, begin spanning opbou wanneer daar ’n koelbloedige moord gepleeg word, waarby die drie Suid-Afrikaners onwillig betrek word. Dit terwyl hulle juis geen aandag op hulself wil vestig nie. Die skrywer hou die spanningslyn enduit snaarstyf, soveel so dat ek begin vrees het dat een, of selfs almal, in gevaar is om nie te oorleef nie. Die antagonis is harteloos, onstabiel en invloedryk.
Hoewel ek baie hou van ’n interessante, spannende speurverhaal, is erge grafiese geweld en ’n oormaat van kru taal nie eintlik my koppie tee nie. Daarom kan ek hierdie reeks van Jeanette Stals met vrymoedigheid aanbeveel vir lesers wat my sentimente en voorkeure deel.
Ek wil voorstel dat lesers begin met Katoog en Vermis, maar indien dit nie moontlik sou wees nie, moet asseblief nie nalaat om Dag Drie te lees nie. Die oop einde laat my met die hoop dat daar reeds aan ’n vierde aflewering in die reeks gewerk word, sommer ook met die hoop op ’n romantiese wending in ’n toekomstige storielyn.