Daar is ’n klop aan die deur. My vinger wil nie verder saamtrek nie. My hart hamer die sekondes in my ore om. Wat sal gebeur as ek die sneller trek? Johan is negentien en in die weermag. Wanneer die adjudant hom inlig dat hy na Seksie C in die Zambesivallei gestuur word om onreëlmatige ontgroening te ondersoek, pak ’n ongekende opgewondenheid hom beet. Maar dit is korte duur, want Johan besef gou hy is nie opgewasse teen die weermag nie. Ter ontvlugting besoek Johan pasnaweke sy ouer neef Ben in Pretoria. Ben, die rebelse seun van die generaal. Ben wat sy eie oorlog veg. Die Generaal is ’n onthutsende, oorrompelende en aangrypende verhaal wat die absurditeit van die Grensoorlog en die verwoestende impak daarvan op jong mans se lewens met sensitiwiteit teken.
Hans Pienaar het gedigte begin skryf op universiteit in die laat 1970s, maar opgehou nadat die tydskrif Vlieg, waarvan hy die redakteur was, verbied is. Teen die einde van die millennium het hy weer begin, en ‘n bundel in 2002, Die taal van voëls, uitgegee. Dit is genomineer vir die Ingrid Jonkerprys. Hy is ook bekend as dramaturg, en het pryse en nominasies gewen vir Drie dosyn rose en Ching Chong Che. Ander stukke uit sy pen is Please tell us what’s going, please, Kom terug Saartjie en die onopgevoerde Die wortel van alle kwaad en Kruger se DNS. ‘n Bundel kortverhale, Die lewe ondergronds het ook sy pen verskyn en hy was mederedakteur van die bundel dienspligverhale Forces Favourites.
Hans Pienaar het vir tien jaar lank as spesialis in buitelandse sake by Independent Newspapers gewerk en is tans verbonde aan Business Day, waar hy skrywer van die blog “Africa” is. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Hy was ook die redakteur van die deur die polisie verbode Die Trojaanse perd, ‘n bundel artikels oor die noodtoestand in die 1980s in die Kaap.
Die Generaal is 'n anderste tipe grensverhaal, dit boei, oorrompel, onthuts en het beslis 'n diep indruk op my gelos. ("Nights in white satin" sal nooit weer dieselfde wees nie.)