Nadat Orpheus haar red by die sfinks, word Kara wakker in 'n Andromeda-wentelstasie, met geheueverlies. Kaleb en Mohlomi word herenig, maar Mohlomi dink Kara is dood. Hulle oortuig Ya-ya om hulle terug te neem Kango-grotte toe, maar sy laai hulle af by 'n skrikwekkende Chinafrika-werkersplaas. Intussen het Amber, soos die ouers, aan die slaap geraak. Mohlomi het nog die stervorm-voorwerp wat hulle by die sfinks gekry het. Wat moet hulle daarmee doen? Is dit die sleutel om die slapende ouers wakker te kry? Kara ontdek dat sommige van die ouers hulle op die Andromeda-stasie bevind, maar haar ma is nie daar nie. Sy moet terugkeer Aarde toe om haar vriende te vind en die raaisels op te los.
Hierdie is die 2de boek in die ||Hui !Gaeb- reeks vir jong volwassenes en volg op #Kraak. In die eerste boek het die beskermende koepel oor die stad gekraak in die jaar 2315 en ‘n groep vriende vertrek na die onbekende buitewêreld. Hulle wedervaringe word voortgesit in die tweede boek; hulle is van mekaar geskei en elkeen moet op hul eie manier hul pad na mekaar terugvind. Amber en Shivani is by die Kangogrotte, Kaleb in die sonstad, Aksum, Shaka op ‘n eiland, Kara in Andromeda en Mohlomi vermis, vermoedelik dood. Die 2de boek speel af in 2317 en die verbeelde toekomswêreld van daardie tyd was vir my baie interessanter as in die eerste boek, wat plek-plek bietjie verwarrend was. Die karakterontwikkeling is ook baie beter en ek kon met die karakters identifiseer. Interessante woordspelings (graan genaamd mieloring en kayo (vermoedelik okay)) hou die leser nogal op sy/haar tone. Die einde was vir my bietjie teleurstellend, amper afgejaag, en die dood van ‘n sentrale karakter laat my steeds (na 4 keer se herlees) kopkrap; ek kan doodeenvoudig nie uitmaak wat gebeur het nie. Dis nietemin ‘n aanwins vir die Afrikaanse mark vir jong volwassenes en kry 3 sterre van my.