Wat het ’n geheime organisasie en ’n kultus met korrupsie in hoë plekke te doen?
Vyf meisies is reeds gemartel en vermoor voordat Renata Malan en haar span deur die polisie gekontrakteer word om ’n nuwe geval te ondersoek. Elke geval is doelbewus geplant sodat dit ontdek móés word en die modus operandi laat geen twyfel dat dit ’n reeks is nie.
Maar die spoor is koud. Identifikasie is onmoontlik vanweë hu gesigbeserings. Dit maak slagofferprofilering onmoontlik, want hoe vang mens ’n moordenaar as jy nie weet wie die slagoffers is of waar hulle vermoor is nie? Die enigste ander leidraad is ’n belofte van nog ’n moord oor drie en dertig dae.
Toe die outistiese forensiese beeldhouer in hegtenis geneem word, gaan rooi ligte aan vir Renata, en sy en haar span delf dieper. Word iets toegesmeer? Speel die obskure Noagsgemeente dalk ’n rol? Tot watter mate sal die Vrymesselaars een van hulle lede beskerm? Wat weet Mistress Raven, die eienares van die kerker waarin sado-masochiste hul seksspeletjies beoefen? En wat sal die versteurde Chanté Naudé-Mulder nóg doen om Stefan deel van haar lewe te maak?
Lam ter slagting vertel die verhaal van korrupsie, mensehandel, geldwassery, bissare seks en ’n buitensporige magsdrang teen die agtergrond van die donker bedrywighede van ’n kultus en die geheimhouding eie aan die hoogste graad van Vrymesselary
Madelein Rust se liefde vir die geskrewe woord begin in die klein skoolbiblioteek van Brandwag Primêr in Bloemfontein, waar sy pousetye die een boek na die ander verslind. Sy slyp haar skrywerstande reeds op skool, waar sy uitblink in stelwerk en opstelkompetisies. As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.
Sy waag haar hand aan romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, Joy, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n Neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.
Lam ter slagting is Madelein se vyfde misdaadroman en die vierde waarin doktor Renata Malan verskyn. Dié keer word Malan en Coetzee se hulp ingeroep om die moorde op te los waarby ‘n reeksmoordenaar betrokke is. Ses jong vroue word wreedaardig vermoor en hulle liggame is vermink wat identifikasie, en gevolglik die ondersoek, bemoeilik. Stefan Coetzee en Jaun Tiquin is soos gewoonlik deel van die ondersoekspan. Nico Saaiman, oftewel, Legend, is ‘n interessante toevoeging tot die gedugte span. Die subtemas van kultusse, korrupsie, Vrymesselaars en sado-masochisme sorg vir ‘n interessante lees. Voeg daarby goeie dialoog en onvoorspelbaarheid en jy het ‘n roman wat moeilik neergesit gaan word. Soos die meeste misdaadromans bevat Lam ter slagting geweld en krutaal. Ek het Lam ter slagting terdeë geniet en hoop Madelein is reeds aan die skryf met ‘n volgende boek.
Lam ter slagting is, na my mening, briljant. Wat misdaadfiksie skrywers betref, is Madelein Rust een van die korrels, wanneer mens die kaf van die korrels moet skei. In hierdie boek verskuif Rust grense, veral wat haar deeglike navorsing betref. Sy skryf nie net so bolangs gou ‘n misdaad storietjie nie. Sy verskaf dieper insig in verskeie faktore van misdadigers se psiges en sy hou die fyn spanningsdraad dwarsdeur haar verhaal. Daar was geen manier wat ek finaal kon raai wie is die moordenaar nie.
Ses meisies is in ses maande vermoor en die polisie kry niks uitgerig nie. Hulle kontrakteer vir Malan en Coetzee, maar dan krap Renata-hulle te vinnig, te gou, ‘n byenes oop en nog twee onskuldige mense sterf.
Daar is korrupte polisielede, ‘n kultus kerk en die Vrymesselaars betrokke en mens haal skaars asem soos die tempo versnel. Hoe gaan arme Renata-hulle teen so ‘n invloedryke oormag hond haaraf maak?
Rust se skryfstyl lees lekker – kort hoofstukke met ‘n vinnige tempo. Renata se pa maak ook weer ‘n draai in die storie en dalk, net dalk, sal Renata uiteindelik vrede maak met haar liefde vir Stefan. Dis nou as hy van sy obsessiewe “one-night-stand” kan ontslae raak.
Hier en daar is daar ietwat rowwe taal, maar dis glad nie steurend in die konteks van die storie nie en pas perfek by die onderskeie karakters.
Madelein kan haarself handhaaf teen al die groot name in Afrikaanse misdaadfiksie en sommer die oorsese skrywers ook. Sy het haarself al oor en oor bewys. Ek hoef nie eers meer ‘n opsomming te lees van ‘n boek van haar nie – ek koop dit toe oë.
My eerste gewaarwording was dat ek moeilik gaan lees aan die kleiner lettertipe, maar gelukkig het die spannende storielyn my spoedig daarvan laat vergeet en het ek beswaarlik agtergekom dat ek blad na blad verslind. Dokter Renata Malan en haar span se hulp word eers ingeroep wanneer die sesde erg verminkte lyk in die Botaniese Tuin gevind word. Alle aanduidings is daar dat ’n reeksmoordenaar aan die werk is, maar Renate kan die gevoel dat dit wyer strek as een sadistiese moordenaar, nie afskud nie. Sy het ook nie sukses met die profilering van die moordenaar nie. Spoedig kom daar uiteenlopende kwessies ter sprake soos Vrymesselary, ’n kultus, korrupsie in die polisie en staat. Uiteenlopend, of makaber aan mekaar verwant? Elke lid van die span verkeer op ’n stadium in lewensgevaar en die leser gaan end-uit naels kou. Indien lesers die eerste drie boeke in die reeks, naamlik Monstersaad, Bloedlyn en Moordhuis, misgeloop het, wil ek voorstel dat dit aangeskaf word. Dit gee die nodige agtergrond waarteen Lam ter slagting des te beter verstaan kan word. Die oop einde maak voorsiening daarvoor dat ons weer van Renata, haar pa en haar span gaan hoor, maar ek het gehoor dat ons ’n tydjie sal moet wag. Ek sien bepaald uit daarna, maar ook na wat Madelein Rust volgende vir ons gaan optower. Sy het haarself verseker gevestig onder ons voorste spanningskrywers.
Wat kan ek van Madelein Rust vertel wat die wêreld nie reeds weet nie? Sy is ‘n verbeeldingryke skrywer wat aangrypende verhale op papier kan neerpen. Stories wat jou vir dae nadat jy die laaste woorde onder oë gehad het, nog by jou sal spook. Haar talent is veral opsigtelik in haar spanningsverhale. Die nuutste een, Lam ter Slagting, het nie teleurgestel nie.
Wanneer nóg ‘n liggaam in die Botaniese Tuine ontdek word, word Dr. Renata Malan en haar span ingeroep om ondersoek in te stel. Daar is werk om te doen. Alle aanduidings wys daarop dat dit die werk van ‘n sadistiese reeksmoordenaar is. Tóg kry Dr. Renata snif in die neus en bevind sy haarself in ‘n wêreld van mensehandel, uitbuiting en korrupsie.
Indien hierdie boek nog nie op jou boekrak pronk nie, stel ek voor jy maak gou ‘n plan!
In Lam Ter Slagting bring Madelein Rust 'n uitdagende kookpot van Vrymesselaars, reeksmoord, 'n godsdienskultus, hoëvlak sameswering en obsessie bymekaar. Jong meisies word volgens 'n patroon vermoor. Stefan raak deurmekaar met 'n gevaarlike vrou. Die onheilspellende Noag-kultus verrys op die horison. Alles elemente wat 'n boeiende verhaal tot gevolg het.
Tog het dit vir my gevoel asof die boek in die laaste derde bietjie stoom verloor het. Renata en haar span loop hulleself oral teen 'n muur vas. Dis asof die skrywer haar antagoniste so in onaantasbaarheid gepantser het dat sy naderhand gesukkel het om die komplekse punte bymekaar te bring om 'n ontknoping te bewerkstellig. Die uiteindelike klimaks stel ook nie werklik tevrede nie.
Ten spyte daarvan is Lam Ter Slagting 'n goeie spanningsverhaal wat nie aanhangers van die skrywer teleur sal stel nie.
Madelein Rust se boeke is altyd vir my spesiaal: dit speel almal in Bloemfontein (my hartsplek) af en haar boeke doen altyd die woord spanningsroman gestand - ek was die keer lam van spanning!
Renata Malan en Stefan Coetsee takel hierdie keer 'n reeks grusame moorde. Die lyke van ses meisies is reeds in en om die Bloemfonteinse Botaniese Tuine gevind. (Terwyl ek die boek gelees het, het ek myself minder as 2km van hierdie einste Tuine bevind... Toemaar, ek is nog meestal in een stuk.)
Die skrywer takel alles van marteling, georganiseerde misdaad, Vrymesselary, gierigheid, magsdrang op die hoogste vlak tot sado-masochisme. Renata en Stefan open as 't ware 'n Pandora-boks van grusaamhede. Meer as dit gaan ek nie weggee nie.
6 vermoorde vroue. Geen slagoffer profiele nie. ‘n Kultus en die Vrymesselaars is betrokke. Madelein Rust het haarself oortref met Lam ter slagting, die vierde boek waarin Renata Malan en Stefan Coetsee weer hul speurvernuf ten toon stel. #ekleeslapa
Soos per my vorige resensies, is ek 'n groot Madelein Rust aanhanger. Sy was my skrywer van 2019 - jammer ek het haar boeke eers toe begin lees, maar baie bly ek het! Agter-os kom ook in die kraal!
Ek moet egter erken.... Lam ter slagting is die boek wat ek die minste geniet het. Sommige bladsye het net soos saamgevlegde woorde gevoel en elke 3de woord was vrymesselaars.
Daar was hier en daar - meer daar as hier - 'n by-storielyn wat ek geniet het maar verder was dit maar stomp vir my. Gewoonlik kan ek nie wag om verder te lees nie - egter nie met hierdie boek nie.
En die nuwe Nico... die outjie is so nêrens nie! Hy is beslis 'n karakter wat ek nie sal mis as hy uitgeskryf word nie.
Laat my voel of ek terug in Bloem is tydens my weermag jare. Pleks beskrywing en karakter ontwikkeling is majefiek. En die storielyn het my nou al 4 keer laat verslaap. Kan die boek nie neersit nie!