Lotta se klas moet ’n verskeidenheidskonsert aanbied, en hulle word per trekking ingedeel in spanne. Sy is glad nie tevrede om saam met Benni te werk nie, maar uiteindelik het hulle ’n plan, een wat egter op die aand redelike chaos veroorsaak.
Die formaat van die boek is interessant. Human en Rousseau klassifiseer dit as Geïllustreerde fiksie, die baie kunstige illustreerder synde Daniela Kohl. Die Lotta-reeks is oorspronklik in Duits, deur skrywer Alice Pantermüller. Slange en hansworse is reeds die elfde in die reeks wat in Afrikaans verskyn. Dit is vertaal deur Kobus Geldenhuys.
Die teikengroep is lesers 9-12jaar, en onderwerpe soos gesinsdinamika, die skoolomgewing en vriendskappe, word grafies uitgebeeld, met bondige teks in 'n wye verskeidenheid van lettertipes. Te oordeel aan die feit dat daar al soveel Lotta boeke verskyn het, val dit in die smaak van jong lesers.