Met die bloedstollende proloog en inleidende hoofstukke begin ons al kriewelrig weet boosheid loop die hele boek deur. Die kern van die boosheid is pedofilie met die karakters verweef in hierdie netwerk. Tog, deur ekonomiese woord- en sinsgebruik, en teen 'n vinnige pas, deurleef ons die menslikheid van die karakters, goed en sleg, wat of die boosheid probeer kortwiek of laat voortleef. En ook deur blote suggesties in plaas van grafiese beskrywings, is die donker reise ysingwekkend. En dan is ons heeltemal aan die kant van die polisiekarakters wat stadigaan agter die kap van die byl kom. En die boek eindig met 'n ander vorm van boosheid wat maar kan-kan seevier. Rudie van Rensburg is weliswaar 'n regte staatmaker wat jou neus in die boek hou tot jy klaar is, ongeag van wat in die res van die huis aangaan. Hopelik kry hy soveel internasionele erkenning as sy Afrikaanse eweknie, Deon Meyer.