Bloedbroers. 'n Vriendskap en totale vertroue gesmee in Angolese pseudo-operasies. Carlos Viyera, die veteraan met 'n duister, gewelddadige verlede. Tex Texeira, sy talentvolle protégé. En toe is die oorlog verby. Of is dit? Hoekom, na jare van donker geheime, het Carlos nou die grens oorgesteek as renosterstroper in Mosambiek? Die gevreesde, onaantasbare Kalingono, dood verklaar na 'n duister operasie … nou moordend terug?
Jaco Wolmarans is ‘n Kaapstadse vryskutskrywer, videovervaardiger en fotograaf. As voormalige joernalis het hy sy loopbaan in die Ooskaap as misdaad- en hofverslaggewer begin voor hy in die negentigers na korporatiewe joernalistiek en later vryskut-kopieskryf oorgeskakel het.
Jaco het in die laat tagtigers ‘n paar kortverhale gepubliseer, maar dit sou jare duur voor sy militêre diens-agtergrond en uitgebreide Afrika-reise sy begeerte om ‘n vollengte-boek te skryf, laat herleef het.
‘n Werkbesoek aan Mosambiek het as aansporing vir sy debuutwerk, BOS, in 2018 gedien. Die werk is wyd verwelkom as ‘n nuwe rigting in Afrikaanse literatuur: ‘n kombinasie van tradisionele spesmagte-literatuur en politieke intrige, gemeng met omgewingskwessies en intelligensie-aktitiwiteite.
Sy opvolg, die historiese roman SKAG, volg die politieke gebeure rondom die bou van Suid-Afrika se kernwapens in die tagtigers en die rampspoedige gevolge vir die land se jong demokrasie sou hierdie wapens in ver-regse hande val.
In IVOOR volg Jaco se spesmagte-karakters, Tex en Carlos, geheimsinnige betalings aan buitelandse rekenings uit die apartheidsjare. Die verhaal neem die twee terug na hul eie bloedige verlede as kleinspan-operateurs in Angola. IVOOR was ‘n ATKV Woordfeertjie-finalis vir spanningsromans in 2022.
In DOLOS skuif die aksie na Mosambiek en Islamitiese ekstremiste en heroïen-smokkel. Die karakters bevind hulself midde-in ‘n staatsgreep, en bring só al Jaco se fiksie-belangstellings byeen: die skatkis van onaangeraakte stories uit Suider-Afrika se politieke en militêre verlede, sameswering en politieke intrige.
Jaco bly in Milnerton saam met sy vrou Nicky en bestee sy vrye tyd op ‘n seilplank – verkieslik teen hoë spoed.
Die boek het my aandag die heeltyd gevange gehou. Ek is nie groot op boeke oor oud-Recce's nie, maar het hierdie op aanbeveling gelees en was aangenaam verras. Die skrywer het sy navorsing deeglik gedoen en alhoewel die helde soms net te maklik uit 'n taai situasie kom, was die storie absoluut die lees werd en heel geloofwaardig.
Ek is nie regtig ‘n aanhanger van Bosoorlog fiksie nie, maar dié een is bietjie meer as dit en speel bv. juis in die teenswoordige tyd af met slegs enkele terugflitse na die werklike Bosoorlog.
Frans (Tex) Texeira en Carlos Viyera was bloedbroers; hulle het mekaar letterlik met hul lewens vertrou tydens operasies in Angola waar hulle dikwels twee-mansendings moes uitgevoer het. Maar jare het verbygegaan: Tex se vrou is onlangs vermoor en Carlos het van die radar verdwyn.
Dan kry Tex die kans om vas te stel wat van Carlos geword het - en dalk ook inligting oor sy vrou se onopgeloste moord te bekom. Militêre intelligensie en politici is egter ook betrokke en niks is soos wat dit lyk nie.
My gunsteling karakter was sonder twyfel Jan (Plan) Botes; hy het my dikwels laat glimlag in andersins benoude situasies. Sy teenwoordigheid dra beslis by tot die lekkerlees-faktor van die boek en minstens 1 van my 4 sterre vir die boek gaan aan hom.
Ek het van Bos gehou en dink dis 'n goeie debuutroman. Ek moet ook sê dat my aandag so effe afgetrek was met ander gebeure gedurende die lees van die boek, so ek het dit dalk nie in 'n ideale gemoedstoestand gelees nie.
By tye het die eksposisie vir my lank geraak en die storie se pas gebreek. Mens kan egter agterkom die skrywer het deeglike navorsing oor spesiale magte en die operateurs se denke en werkswyses gedoen. Daar is heelwat aksietonele wat veel meer gedetailleerd, selfs kinematies, is as wat jy gewoonlik in hierdie tipe leesstof raakloop.
Bos is 'n gawe storiegedrewe aksieverhaal van 'n belowende nuwe skrywer in die genre. Probeer gerus.