Jaco Wolmarans is ‘n Kaapstadse vryskutskrywer, videovervaardiger en fotograaf. As voormalige joernalis het hy sy loopbaan in die Ooskaap as misdaad- en hofverslaggewer begin voor hy in die negentigers na korporatiewe joernalistiek en later vryskut-kopieskryf oorgeskakel het.
Jaco het in die laat tagtigers ‘n paar kortverhale gepubliseer, maar dit sou jare duur voor sy militêre diens-agtergrond en uitgebreide Afrika-reise sy begeerte om ‘n vollengte-boek te skryf, laat herleef het.
‘n Werkbesoek aan Mosambiek het as aansporing vir sy debuutwerk, BOS, in 2018 gedien. Die werk is wyd verwelkom as ‘n nuwe rigting in Afrikaanse literatuur: ‘n kombinasie van tradisionele spesmagte-literatuur en politieke intrige, gemeng met omgewingskwessies en intelligensie-aktitiwiteite.
Sy opvolg, die historiese roman SKAG, volg die politieke gebeure rondom die bou van Suid-Afrika se kernwapens in die tagtigers en die rampspoedige gevolge vir die land se jong demokrasie sou hierdie wapens in ver-regse hande val.
In IVOOR volg Jaco se spesmagte-karakters, Tex en Carlos, geheimsinnige betalings aan buitelandse rekenings uit die apartheidsjare. Die verhaal neem die twee terug na hul eie bloedige verlede as kleinspan-operateurs in Angola. IVOOR was ‘n ATKV Woordfeertjie-finalis vir spanningsromans in 2022.
In DOLOS skuif die aksie na Mosambiek en Islamitiese ekstremiste en heroïen-smokkel. Die karakters bevind hulself midde-in ‘n staatsgreep, en bring só al Jaco se fiksie-belangstellings byeen: die skatkis van onaangeraakte stories uit Suider-Afrika se politieke en militêre verlede, sameswering en politieke intrige.
Jaco bly in Milnerton saam met sy vrou Nicky en bestee sy vrye tyd op ‘n seilplank – verkieslik teen hoë spoed.