Ek het lank gevat om die boek te lees, en probeer al van die begin af verwoord wat dit is wat my pla. Ek het nog nie klaar gedink nie, en gaan waarskynlik ook nooit regtig die antwoord kry nie, so ek sal myself moet tevrede stel met wat ek wel kan verwoord.
Die beste deel van die boek is die ongelooflike taalgebruik. Dit is eenvoudig Afrikaans op sy beste en ek dink nie iemand kan daarmee stry nie.
Daar is vir my iets vreeslik uiteenlopend aan die boek, en ek dink nie ek verstaan waarom dit so gedoen was nie.
Daar is elemente van die storie wat vir my so briljant geskryf is, met detail en sorg en deurlopendheid wat soveel intense emosie wakker maak dat ek dit nooit gaan vergeet nie. Soos Candice wat daar bo in die lug rondloop om weg te kom van die wêreld af. Liora wat dieselfde doen, op haar skoppelmaai. Die wreedheid van mense en oorloë. Die spokie. Die verlore liefdes en nog 'n hele paar goed. Dis slim, dit trek my in, dat laat my dinge voel en dit laat my soek na meer.
Dan is daar die ander pool, waar goed wat eintlik belangrik vir die storie is, en wat my potensiëel in ‘n emosionele warboel kon hê, amper soos 'n onbelangrike nagedagte genoem word. Dit gebéúr nie voor jou nie. Mens word nie deel daarvan nie; jy verstaan dit nie en vóél dit nie. Dis amper soos om 'n storie oor mense wat jy nie ken nie te hoor by 'n derde party wat self nie mooi weet wat gebeur het nie. Ek voel gekul daardeur want die boek wys jou dit kan anders wees, want groot dele is anders.
Dis so met Issabel, (ek hoop ek het die naam reg?) wat in die berge vermoor is. Dit word half terloops genoem, mens dink dis oor dit met Liora ook kan gebeur. Dan vind jy later uit dis eintlik 'n sleutelgebeurtenis in die boek, en jy kan eintlik nie eers meer mooi onthou wat nou eintlik gebeur het nie. Dalk is dit 'n struktuurprobleem; dalk het te veel tussenin gebeur, ek weet nie.
Oor die algemeen is die struktuur vir my effens chaoties, en sonder plan. Dinge raak verlore omdat daar aan iets geraak word en dan gaan iets anders aan en die storie kom nooit regtig terug na die deel wat besig was om te gebeur nie. Oor die algemeen gebeur daar goed wat ek nooit heeltemaal verstaan nie. Ek weet bv nou nog nie waarom Candice in die toilet af is nie, en of dit voor of na of as gevolg van die miskraam gebeur nie. Of of dit inderdaad 'n miskraam was nie.
Ander goed wat voel of dit belangrik moes wees, word ook so onderspeel, of as los drade gelaat, en omdat ander dele nie so is nie, weet jy nie terwyl jy dit lees dat dit eintlik belangrik is nie. Party goed lyk weer of dit belangrik is maar as dit nie daar was nie sou dit geen verskil gemaak het nie. Daar is idees wat genoem word maar nie tot reg kom nie. Voorbeelde hiervan is die seun wat net ewe skielik nie meer daar is nie. Dis asof dit eintlik 'n ander storie moes gewees het. Chrestien en Eugenio wat "wegraak." Rosa en Moshe se geskiedenis, wat genoem word maar geen verskil maak aan die storie nie en wat "nou" gebeur nie.
Van die verhoudings en gebeure is vir my vreemd en ongemotiveerd. Waarom sou Tante Alessa bv. die tienerjarige Liora aanmoedig en help om die woestyn in te ry saam met haar nefie, en dit terwyl sy weet iets seksueels gaan plaasvind? Dis ongewoon, en as sulks moes dit dalk gemotiveer geword het? Ek het op geen stadium verstaan waarom sy dit doen nie. Net so het ek niks van Walter se optrede ooit regtig verstaan nie; alhoewel ek kan dink dit was dalk doelbewus so, sodat die leser hom nie leer ken nie - soos wat Candice hom nooit regtig geken het nie. Liora se uiteindelike daad is vir my ook so. Dis asof ek dit lees, en wonder, wat gaan nou aan? Het ek iets gemis?
Ook so met Jaco wat net skielik weg is sonder dat daar voldoende aanlop was. En die polisieman se veranderde houding met Candice; sommer so ewe skielik em dan word dit net agterna in ‘n sin of twee verduidelik.
Oor vreemde verhoudings: Die verhouding tussen Maman en Moshe is vreemd, Liora en Odette is vreemd, Rosa en Moshe is vreemd. Liora en Eugenio se verhouding is vreemd. Sy tree heeltemaal buite karakter op en iniseer alles, en op so manier dat dit onrealisties voel. Dit sou alles werk as dit dieper ondersoek was, maar dit gebeur nie. Liora en haar ma se verhouding is ook weird; hulle is meer soos minnaars as enige minnars in die boek. Dit maak my ongemaklik wat oukei sou wees, maar dit hang in die lug. Dit kom meer oor asof mens skielik moet agterkom hulle is close, maar die skrywer het nie mooi geweet hoe om dit te doen nie.
Ek gaan dit nogtans 4 gee want ek dink die boek is belangrik vir Afrikaans, maar dis 'n effens teësinnige 4 en dis veral vir die taalgebruik wat ek dit gee. Dan gaan ek dele van die boek vir altyd onthou, ander vergeet en hard hoop om nog ander ook te vergeet.
En een laaste ding - daar is geen manier waarop die sekstoneel op die kameel realisties kon gebeur het nie. Behalwe nou dat dit ook ongemotiveerd is waarom dit nou juis op die kameel moes gebeur. As sy kon oorklim kon hulle afklim ook. Dit was sy eerste keer op ‘n kameel en hulle altwee se eerste seksuele ondervinding, wat alreeds lomp is. Hulle sou sonder twyfel daar afgekletter het!