’n Kyk in die donker psige van ’n seksuele kannibaal.
Die hulp van die forensiese profileerder, doktor Olaf Demeyer, word ingeroep toe voetslaners aan die voet van Bosberg op die naakte lyk van ’n vrou afkom. Sy is vasgemaak teen ’n jong bloekom. Verskeie meswonde ontsier haar liggaam. Maar Olaf sien nie kans nie. Hy het sy praktyk gesluit, want “Ek is oor die muur. Ek het vir te lank te veel oor hierdie soort afgronde van mense gehang, om te probeer help. Toe my eie dogter deur ’n reeksmoordenaar ontvoer word, het ek oor my eie afgrond gedonder. Tot onder in die hel. Nooit weer nie. Ek kan nie meer nie. Ek het genoeg gehad.” Maar so maklik is dit nie om sy rug op hierdie trauma te draai nie. Die slagoffer teen die bloekom is kaptein Jasmyn Oktober, die vrou vir wie hy lief geword het. Sy het uit sy lewe gestap toe sy agterkom sy verwag sy kind. Cor is nou twee maande oud en hy ly aan ’n ernstige hartdefek. Hy moet dringend in die Kaap kom vir ’n operasie, maar hy het verdwyn. Hy word vermoedelik deur sy ma se moordenaar aangehou. Sy uurglas is besig om leeg te loop. “Jy het jou dogter se lewe gered,” soebat adjudant Jordaan van Somerset-Oos vir Olaf. “Kom help ons nou om jou babaseun ook te red.”
Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibie gebore. Op veertien word sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 'n BTh. en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 voltooi hy 'n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en 'n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2006 word sy kortverhaal 'In Ma se Stoofᅮ in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat (Tafelberg) opgeneem. Jan en sy vrou Diana woon in die Oos-Kaap.
Jan Vermeulen se tweede reeksmoordverhaal oor die profileerder Olaf Demeyer is gepak met intrige, spanning en besonderhede wat die leser lank aan die raai hou voordat die legkaart klaar gelê is. Ook die skryfstyl voel meer selfversekerd. Dit is ’n boeiende verhaal wat ek uit pure nuuskierigheid so vinnig as moontlik deurgelees het.
This second novel in the series about profiler Olaf Demeyer feels much more self-assured in its psychological and narrative complexity, its cast of characters and even in the writing. It made me inquisitive enough to finish as quickly as possible.
Wat lesertipe aanbetref, huiwer ek iewers tussen sensitief en baie sensitief. Daarom dat die spanningsromans van Jan Vermeulen my iewers tussen die duiwel en die diep blou see vaskeer. Die voorblad en flapteks van sy nuutste roman, Ondier, het my alreeds senuweeagtig gehad. Aan die ander hand weet ek egter uit sy bekroonde jeugboeke en eerste riller vir die volwasse mark, Die vyfde Aspoester, dat hy ’n woordsmid van formaat is. Vir ’n goeie skryfstyl en mooi omgaan met ons taal, het ek matelose respek. Daarom het ek op my tande gekners en Ondier oopgemaak.
Uit ondervinding met ’n paar onlangse spanningsromans, was my mikpunt om die eerste eksplisiete en grusame hoofstuk te oorleef. Dan sou die storielyn my inslurp en belangriker word as die wrede detail. Dit is dan ook presies wat gebeur het.
Baie gou kon ek die boek beswaarlik neersit. Die ontsaglike en blywende skade wat ondervindinge in die kleintyd veroorsaak, is die spil waarom die verhaal draai. Dit is waar van beide die reeksmoordenaar en die profileerder en sielkundige, Olaf Demeyer. In laasgenoemde se geval, word hy boonop gekonfronteer met die gevolge van sy vorige sekskapades, want DNS is onverbiddelik. Hy merk tereg op: "Partykeer is familieduiwels die wreedste." (bl 42)
Ek wil voorstel dat die leser werklik met aandag lees, want die storielyn is veelvlakkig en gekompliseerd. Dit kan ook help om jou geheue te verfris met Die vyfde aspoester, omdat hierdie verhaal daarby aanhaak. Ondier kan egter ook op sy eie staan.
Die dapperes wat nie wegskram vir bloed en wreedheid nie, moet hierdie spannende roman nie by hulle laat verbygaan nie.
Dis altyd so lekker om in my eie taal 'n goeie boek te lees. Dit is defnitief n boek vir riller-liefhebbers. Ekt heelpad deur gewonder, soms was dit amper net té toevallig. Maar dis die waarheid van klein dorpies. Die boek lees maklik en vinnig.